Pichi Keane (sy/hulle) word reeds beskryf deur aanhangers as hul nuutste obsessie en dis maklik om te sien hoekom. Pichi het onlangs opslae gemaak by hierdie jaar se Nasionale Kunstefees in Makhanda waar sy ‘n Silwer Standard Bank Ovation Award opgeraap het – tesame met vele feesgangers se harte. Die fopdosser het met hul drag kabaret Ripe ‘n Ready ook ‘n mini-toer van die Tuinroete voltooi, en alle venues uitverkoop. Nou is sy opgewonde om die wulpse produksie Johannesburg toe te neem.
Ripe ‘n Ready is eg kabaret, met ‘n verskeidenheid van musiek genres wat saamgesnoer word rondom die sentrale tema van vrug as metafoor vir seksualiteit en feminiteit. Pichi gryp selfs halfpad deur ‘n “big black … instrument” om die gehoor te bekoor met ‘n hartroerende weergawe van ‘Lemoene’.
Geen onder 18s word toegelaat as gevolg van die inhoud van die vertoning, o.a. kru taalgebruik en seksuele temas.
Ripe ‘n Ready is wél vir jou as jy queer, kinky, of nuuskierig is, maar jy sal dit ook geniet as jy ‘n stoute sin vir humor besit.
Suid-Afrikaanse gehore kan die vuilbek flossie in Ripe ‘n Ready op die planke vang by die Radium Beer Hall Vrydag, 7 Julie teen 7:30nm. Kaartjies beloop teen R120 pp en belangstellendes kan vir Andy ‘n luitjie gee op 083 542 1044.
Vir meer inligting besoek gerus Pichi Keane se webtuiste www.pichikeane.com of volg haar op Facebook, Instagram en TikTok @pichikeane.

