deur Ferdi Wheeler
Hy lag verbaas by homself. Die kassiere volg vlugtig sy blik in die rigting al met die ry kasregisters aan die oorkant agter sy rug langs af, maar sy sien niks snaaks nie. Teen die muur aan die onderpunt is dit net die afleweringsjokkies en die pakkers wat rondmaal. Wanordelik miskien, maar niks lagwekkend nie. Die yl stroom klante wat verby vloei, is ook nie narre nie. Sy bepaal dus weer haar aandag by die order vir ‘n buskaartjie Heidelberg toe, wat hy so pas geplaas het.
Nogtans glip hy al starende in ‘n tydgleuf langs die verlede in. Die toonbank, waarop sy elmboë rus, voel soos die oppervlak van die skryfvlak van ‘n bank in ‘n lesinglokaal, jare der jare terug. Hy’s weer gereed vir ‘n lesing oor die Nederlandse letterkunde: spesifiek oor die geniale digter, Lucebert, se digkuns.
Hy onthou hoe selfbewus hy was. Alle direkte oogkontak met medestudente vermy. In sy gedagtes pak hy weer sy notaboek, dagboek en die velle fotostate van literatuur oor Lucebert uit. Dis nog vyf minute voor lesingtyd. Die lokaal is driekwart vol en net die drentelaars en laatslapers skarrel in. Sommige het vaste plekke, wat hulle outomaties in hul gedagtes reserveer en soos vliegduiwe daarheen mik. Ander zero weer in op vriende, waarby hulle met ‘n gekwetter verwelkom word. Hy wag. Sy oë is vasgenael op die oop deur.
Die ou professor kom binnegestap en plak sy lesing op die podium neer. Grys bos hare en rooi gesig. Wonder seker hoekom hy met sy jare diens, met ‘n eerstejaarsklas gestraf word. Dis ‘n minuut voor en hy stap weg van die podium na die deur toe om dit dig te trek. Op daardie oomblik skarrel die skraal figuur amper onder sy armholte deur die lokaal binne en hy trek die deur agter haar toe.
Hoekom onthou hy daardie oomblik? Hy weet nie. Miskien is dit omdat sy sy volle aandag gehad het. Die swart hare in ‘n bob-kapsel. Die hartvormige gesiggie. Die glimlaggende oë, diep donkerbruin. Die manier hoe sy effens onseker die eerste, beste sitplek teiken en liggies gaan sit en haar skryfgoed uithaal. Miskien bang die professor lê ‘n eier oor haar amperse laatkommery.
Die kassiere bly vrae vra oor sy rit. Hy antwoord, sonder om sy blik van die kasregister aan die onderpunt te laat gaan. Hy sien haar weer na hoeveel jare? Sy is besig om haar bankkaart in haar beursie terug te sit. Sy gesels met die kassiere by daardie kasregister. Sy glimlag. Sy sit haar beursie in ‘n blou handsak terug. Sy’t ‘n netjiese perskekleurige rok aan. Die hare is nog steeds in die bob-styl. Sy’s nog altyd skraal, maar hy verbeel hom sy’s kleiner. Moet omtrent in haar middel sestigs wees. Soos hy. Die kassiere pak haar inkopies in ‘n drasak. Dan kom sy aangestap. Sy moet skaars ‘n tree van hom af verbystap. Die afstand tussen hulle is omtrent 30 treë. Sy loop effe mank – miskien ‘n knievervanging? Maar die gesiggie straal nog altyd en hy dink sy moet gelukkig wees.
Dit pla hom nie dat hy haar skaamteloos staan en aangaap nie. Sy kyk reguit voor haar, skynbaar onbewus van hom. Dan, met die geringste draai van haar kop, kyk sy hom direk in die oë. Hulle kyk mekaar oomblikke lank in die oë. Sy kyk egter weer voor haar en stap doelgerig voort en agter sy rug verby. Hy draai skuins en kyk haar agterna tot die woelige mall haar verswelg. In sy geestesoog staan die ou professor nog steeds in die lesinglokaal agter die podium. Hy praat oor Lucebert. Sy houding is een van oorgawe. Hy praat en praat om die lesing agter die rug en klaar te kry, onbewus daarvan dat een van sy mansstudente tog wel aandagtig luister en nou die ou weer hoor sê:”Lucebert sê: als wat kosbaar is, is weerloos.”

Dit was vir my besonders. Dankie.