deur Alexander Edward Carté

Die feit dat Spencer se voorvaders uit Skotland hier aangeland het – en myself ’n tweede generasie Ier – was dit lewensgevaarlik dat ons lewenspaaie moes kruis terwyl ons beide op hierdie planeet was en die natuur wette se ewewig sou versteur.

Nie sy skuld nie, so ook nie myne nie.

Maar ons dorp-toe-trekkery en skielik probeer aanpas in ’n dorpskool waar ’n uniform gedra moet word het die eerste lewenslange merke op my gelaat.

Ek kon nie spel nie, want by die plaasskool hoef jy nie, want geeneen dink daaraan dat jy dalk eendag die plek sal moet verlaat en die lewe face nie,  en dalk net nodig sal wees om ’n sin met twee woorde moet skryf.

Spencer Watson kon nie verstaanbare woorde uiter nie en die ligsinnige insults het verstaanbaar begin eskaleer.

Sy gelaat, wortel rooi met ’n vel wat lyk of hy met tweesent-muntstukke beplak is; met sproete gelykstaande aan ’n luiperd se vel – dit is net kolle.

Verder het ek nie veel te sê oor die rooi moer nie, behalwe dat ek hom eendag, met ’n Wilson toffie in sy kies, so hard geklap het dat die toffie ’n kiestand uitgeruk het en sy tong ’n winkelhaak ingesny het en tot gevolg gehad het dat hy toe ook met ’n lewenslange lispel bestraf is.

En die situasie het bloot eskaleer toe ek te wete kom dat my ouma se nooiensvan ook Watson was en ek as ’n baster gedoop is, bloot omdat ek nie besef het dat toeka se skepe baie soortgelyke kreature hier aangebring het nie.

En steeds dra ek die van wat soveel stront veroorsaak het.

Want in die ou bedeling se army is jy of ’n Soutie of ’n Boer en my van het duidelik uitgespel dat ek nie mielies kan plant nie.

En tog het ek beter Afrikaans as die Boere gepraat en ’n liefde daarvoor ontwikkel waarin ek my steeds die beste uitdruk en selfs meer treffende skelwoorde het wat ’n slagoffer redelik maklik na selfmoord kan dryf a.g.v. ’n skielike minderwaardigheidskompleks.

En hier sit ek nou op die rype ouderdom van ’n halfeeu plus VAT, m.a.w. sestig, en nie kind of kraai of familie oor het om die verdomde van voort te dra nie.

Sou ek dan omkap, word die van saam met my ’n maaltyd vir die wurm, of ’n potjie as wat, met my Ierse luck, dalk nog omgeruil word met iemand se troeteldier, en dan sogenaamde reïnkarnasie  in  totaliteit laat misluk.

So sit ek maar net en wonder wat maak die mensdom so selfverseker en ontkennend teenoor hulle einde wat daagliks gewaarborg word. Met ’n benoude kuggie en ’n frons sê ek nou maar tot wedersiens aan al die kommerlose drommels wat nog nie ’n gat in die grond geboek het en ook nog nie dringend met Jesus in gesprek getree het nie.

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar