deur Francois Koegelenberg
Vandag gaan ek Mini Market toe om vir my ’n Apple Sourz sucker vir die pyn te gaan koop. Die Swede, Engelse, Aussies, Brasiliane, Skotte, Duitsers (moenie hulle vergeet nie), Dene, Oslo-gangers en die een Poolse pop, wat die Wehrmacht se tenks in mekaar in sou laat vasrol het, het my kragte getap.
Anyway, daar stop ’n Conquest en ’n lang bra met ’n Purdey-haarstyl en ’n sweetpakbroek wat so hang klouter uit – die kans is goed dat hy het daarin gebol het. Hy sien vir Shareem alias Shorty, een van die Bangladeshi’s wat die skip Mini Market beman. Hy loop hom tromp op en begin hom vra oor sy keuse van die Bybel en die hoofspelers daar in.
My een voet is op pad huis toe maar ek klim weer op die stoep.
Lukas verduidelik dat hy gestuur is van, en hy wys op, Bo af. Om dinge te verduidelik. Ek skuifel nader sonder om oogkontak te maak. Luke praat tipiese Worcester Engels. Meantime kom ons held Jim Boy oor die pad geFonz. Dik gerook en gesuip maar dis Sondag en hy is dressed to kill. ’n Springbok Atlas bussie ry hom amper in die Hiernamaals in maar na die ruk steier hy voort.
Nou vra Lukas vir my ander bruin vriend of hy weet waar Jesus is. Wie Jesus is! En wat Jesus se doel in sy lewe is? Jim Boy kom dan daar aan.
Die lang man wat lyk asof hy van ’n skuit op Galilea afgeklim het vra vir hom: “Do you know where He is?” Jim Boy dink hy bedoel Heriam, die Banghi wat die selfoonkiosk run binne die hoofwinkel en antwoord: “Naai I thunk he went to Kayamandi on his poogie to buy Swazi Gold because why hy rook mos nie die kak van ons nie!”
