Dankie Verwey – sy is okay vir nou

Die strontpraat gesprekke en luide gelag van dieselfde blougat speurders om die vuur raak skielik somber op die oomblik dat dit insink. Sersant Tobie se vrou is verkrag waar sy alleen tuis was met normale huisvroutake, ’n pasgetroude polisiebruid.


Ons paar manne wat aan alles gewoond is, ingesluit bloed, babakots en die ander goggas wat se reuke soos klam watte in jou neus bly sit, kom onbewus in ’n kring bymekaar.

Sersant Tobie is ’n knap uniform polisieman, street wise en ’n bonus vir ’n speurder as hy eerste op ’n misdaadtoneel opdaag. En die besef dat hy eerste op hierdie toneel gaan wees laat ons vir ’n oomblik soos swape na mekaar kyk. Sersant is ’n nice ou, en nice ouens verdien nie wat nou ongenooid in sy skoot kom val nie.

Ek is klaar agter die stuur met die deur nog half oop toe ’n sot van ’n kollega op standby, Verwey, halflyf hardloop langs my in die kar spring. Hoekom hy? Regtig, hoekom hy?

Verwey is met ’n reëlboek teen die kop gemoer as baba en sukkel steeds om ’n skuldigbevinding te bewerkstellig. Hy het nog nooit gesnap dat ’n aanklaer en speurder in tandem ’n baie dun ongeskrewe twee-bladsy-reëlboek het nie. Kriminele leef en verstaan en operate in ons mees private spasies en leefareas, waar hulle hul ongenooid kom tuismaak sonder respek vir enige reëls. Dis waar ons die twee-bladsy-reëlboek met graagte deel en toepas.

Ek klink asof my kop onder water is as Verwey sy teem stem gebruik, ’n stem wat al ’n paar keer probeer breek het, maar sonder sukses. Dit het net ’n heserige, skor, pastoor tipe geluid oorgehou.

Die honde voertuie is reeds op pad en ek bid dat iemand sal besef om sersant Tobie op een of ander wyse te verhoed om by hierdie toneel op te daag. Nie vandag en nie hierdie toneel nie!

ReelsVerwey is steeds onverpoos besig om jammerlike kak voorstelle te maak en met ’n self aangestelde luukse my probeer oortuig dat spoed, vloek en wraak nie goed meng met ondersoeke nie en nooit n goeie einde het nie.

Ek vloek hom steeds toe ek op die sypaadjie stop en in sersant Tobie vashardloop as ons gelyk by die toneel stop en die groen hout tuinhekkie nie die smart wat by sy keel uitkom kan verdoof of verhoed nie.

Ons kry haar in die kombuis, waar sy doenig was met ’n ete vir haar nice en goeie man Tobie. Die gebreekte lyf en kreun wat saggies bloedborreltjies maak as sy Tobie se naam prewel. Sy lewe nog. Die bloed wat strepe op haar dye en vloerteëls skilder word deur ’n tydige ambulansman vir my uitgedoof.

Daar is ’n identikit wat ek weke later op bystand beloer en ’n telefoonoproep wat die gesig met die vlek bo die regter wenkbrou eien op ’n plot. Met die aankoms is dit Tobie se vrou Sandra se monster se skewe vuil smile wat ek van aangesig tot aangesig ruik en proe. Hulle kombuismes brand in my regter skouer en ek onthou Verwey se teem stem saggies oor die seer van Tobie se vrou op die vloer.

Dankie Verwey – sy is okay vir nou. Haar oë se glinster is weg, maar daar is ’n stil smile oor wat iets in die toekoms soek en vir my ’n stil dankie prewel.

Sersant Tobie vra my sonder woorde en ek beaam woordeloos dat ons albei die twee-bladsy-reëlboek verstaan en weet dat die laaste asem nie vandag by ons talm en bly nie.

Dankie Verwey, maar soms word die lewens van mense in crime deur net twee reëls bepaal. Die wat gee is baie minder as die wat soms moet neem.

Lewer kommentaar

Leave a Reply