deur Ferdie Wheeler

Die honde maal in die rondte in die helder maanlig nanag, blaf-tjank, hap na mekaar, draf stertswaaiend ‘n ent vooruit en snuffel aan struike en oral op die grond rond. Daar is ses van hulle, wisselend van ‘n stewige boerboel, tot die ywerigste van die trop, ‘n gevlekte foksterriër. Hulle ken die roete: al met die stofpad langs uit die nedersetting uit, na die lae heuwels wat net anderkant die snelweg, ‘n kilometer verder, uit die grond oprys en wegdeins. Die heuwels is net gangbaar te voet, selfs in daglig. Dit bestaan uit kuswoud, dig begroeid met wildevye, noem-noems, soetdorings, silwer eike, kiepersols en nog ander variëteite van struike, klimoppe en bome. Dis ‘n bioom met njala, koedoe, duiker, ystervark, bosbok, en vlakvark. Dis die prooi van hond en mens.

Die stilte van die nanag word verbreek deur die getjank van ‘n rooijakkals neffens in die nabye veld. Die honde blaf onmiddellik. Die jakkals kruis soms paaie met hulle en is ook prooi. Die kabaal lok ‘n geswets uit en ‘n klip word gegooi na die trop, wat ‘n basterbrak tref en hom met ‘n getjank laat omkyk, voor hy weer snuiwend verder draf.

Die klipgooier is een van ‘n bende van tien waarvan ses die eienaars van die honde is, terwyl die ander vier as draers saamgaan. Die gehawende bende stap stilswyend en teen ‘n vinnige pas deur die soel somerlug agter hul honde aan. Hulle is gewapen met kapmesse en tuisgemaakte spiese met gevylde punte en slagmesse. Die vier draers loop met bondels veselsakke op hul rûens vasgebind. Die honde wat die vangste in die strikke in die maanlig moet kry, se geraas is ‘n kopseer. In goeie jare sal hulle dit nie naby die opstalle waag nie, maar nou is hulle gedwing om die strikke gevaarlik naby aan die opstalle te stel.          

Reg oorkant die grootpad, net oor ‘n skotige hoogtetjie, lê drie opstalle langs mekaar. Vandaar gly die aarde in ‘n kloof in met twee heuwels wat daarlangs oprys. Die heuwels is hul bestemming. Maar nou moet hulle eers regs draai en in die veld langs die pad ‘n ompad loop om buite sig te bly. Die honde sprei oorkant die pad in die veld uit, party links en party regs, maar hulle volg gou hul begeleiers na regs en neem weer die voortou. Klank dra ver in die naglug en die mans praat nie. Hulle verwag dat die honde by die opstalle spoedig sal begin blaf, want hul trop maak angstige tjankgeluide en gegrom. Nogtans verloop alles stil vanaf die opstalle se rigting.

Dis ‘n resies teen tyd. Daglig sal oor drie ure aanbreek en dan moet hulle reeds weer die snelweg gekruis en binne die nedersetting wees. Hulle loop aan die kant van die pad, binne die geel sperstreep en hul vordering is nog steeds goed. Binne ‘n halfuur het hulle ‘n kilometer en ‘n half afgelê. Van vorige besoeke ken hulle die terrein goed en draai dadelik van die pad af en klim deur die doringdraadheining.

‘n Voetpad lê bleek in die maanlig voor hulle – die pad wat die buurt se plaaswerkers volg, soggens en saans na die omliggende plase toe van die nedersetting af. Nou is hulle in die woud ook, maar met onderbrekings in die woud se blareskerm, sien hulle die eerste opstal – ‘n dubbelverdieping grasdakhuis. Hulle oë fokus telkens op die huis. Dis die huis waaruit daar geskiet word. As daar nou ‘n klankie is en die boer se boele begin raas, gaan hy skiet. Die storie loop dat hy snags in die dakkamer sit en waghou.

Hulle sak in die kloof af en verlaat die voetpad. Die lang maer man neem die voortou. Dis ‘n gesukkel om in die maanlig die wildspaadjie te kry. Die dorings van soetdoring en wag-‘n-bietjie struike haak en steek. Die honde verdwyn by tye uit sig. Dan vind hulle die wildspaadjie en tou in ‘n streep agtermekaar daarlangs. Die pad klim met die heuwel langs op en die inspanning laat hul asems jaag.

Die eerste strik is naby. Vorentoe grom en blaf die honde meteens. ‘n Bok blêr benoud. Al tien begin hardloop na die gedruis toe. Daar moet vinnig gewerk word. Die honde by die grasdakhuis blaf nou. Die kapmesse is uit en glim in die maanlig. Die honde het elk ‘n vasbytplek op die rooibokram wat op sy knieë staan, met die strik om sy nek.

Die lang maer man kap met twee geoefende houe die ram se hakskeensenings af. Die dier sak onmiddellik inmekaar. Die slagmesse kom uit. Een gryp die ram aan die horings en dwing die kop agteroor. ‘n Ander stamp ‘n vlymskerp mes in die nekslagaar in en begin sny. Bloed spuit in ‘n donker straal uit oor die stofpad en die omliggende struike. Die rooibokram ril en word stil. Sy kop word met diep hale van die mes afgesny.

Die draers lig die veselsakke van hul skouers af en rol die bondels oop. Twee van die ses jagters begin met hul messe die boude af te sny. ‘n Derde stamp ‘n mes onder die borsbeen in en kloof die maag oop. Die honde spring oor die karkas en lek die bloed op. Die slagters skop na hulle. Die reuk van bloed hang in die lug. Die jagters ken die kuns om ‘n karkas op te sny. Die draers hou die sakke oop en die twee boude word in twee sakke gegooi. Die draers met die twee sakke slinger dit oor hul skouers en, sonder om te wag, draai hulle om en begin met die warm vleis die terugtog.

Intussen kap en sny die ses jagters en stop stukke vleis en afval in sakke. Die honde dwing heeltyd vorentoe om bloed en sagte warm vleis op te hap, of hulle grom en hap na mekaar vir posisie om tussen die slagters deur bekke vol af te skeur.

Twee rooijakkalse kerm baie naby, gelok deur die reuk van vleis en bloed.

Later is die rooibok gereduseer tot vel en been en die ander sakke volgestop met los vleis, die lewer en rugstring. Die honde grom en skeur vleis en senings af, kou aan die vel en veg onder mekaar, terwyl die oorblywende agt onverwyld met die wildspad af die terugtog begin. Honde blaf nou van al drie die werwe van die opstalle af. Die agt drafstap. Ligte gaan in die huise aan. In die dakkamer van die dubbelverdieping grasdakhuis staan ‘n man met geweer en nagvisier.

Die honde by die karkas is bloedbelus en volg nie hul base op hul ylingse tog terug nedersetting toe nie. Die jagters weet hulle sal spoor vat en op hul eie terug gaan. Hulle volg die wildspad en waar dit afdraai in die rigting van die opstalle, moet hulle weer deur die woud beur. Die takke en dorings haak en skeur aan hul klere en velle, maar die adrenalien pomp en hulle voel dit skaars. Uiteindelik bereik hulle die voetpad na die heining toe en almal drafstap. Die bedekking is nou nie meer so dig nie en hulle voel ontbloot.

By die heining slinger hulle die sakke oor die doringdraad en klim deur. Die verkeer op die snelweg het begin toeneem. Hulle kruis die snelweg en stap uitasem in ‘n ry al met die geel sperstreep langs. Verbygaande voertuie verlig die groep momenteel en ruis verby. Die ergste wat nou kan gebeur, is ‘n polisiepatrollie wat hulle kan stop. Intussen blaf honde oorkant die pad.

Twee harde knalle skeur deur die nag. Die man in die dakkamer is besig om waarskuwingskote te skiet. Aan die hang van die heuwel het die honde nou die karkas, dik gevreet, aan die jakkalse oorgelaat. Hulle blaf uitdagend terug vir die werfhonde. Nog skote klap. Die hele trop beur en hardloop deur die lae takke en om die stamme van groot wildevye en stink-ebbehout. Hulle is op pad om skoor te gaan soek met die werfhonde, terwyl hul meesters swetende die stofpad na die nedersetting toe bereik.

Die nagvisier fokus op die boerboel. Die kruislyne op die visierlens volg die drawwende en grommende profiel. Die geweer skop teen die skut se skouer en die boerboel slaan neer in die oopte naby die huis. Die honde draai weg en begin ‘n lyn sny na die heining toe. Dis net die foksterriër wat volhard om die werfhonde aan te vat. Die geweer klap weer en weer, maar dis mis. Hy swenk en volg die res van die trop, terwyl die boerboel se liggaam in ‘n donker hoop tussen die gras in die oopte bly lê.

In die ooste is die lig grou van die naderende dag. Die jagters en draers bereik die nedersetting. Baie van die inwoners beweeg reeds tussen die hutte en krotte rond. In hul ylingse staptog, haal die laaste agt die eerste twee draers in en die tien stap nou uitgeput met hul vragte. Van die inwoners val op hul weg by hulle in. “Vleis!” roep hulle na mekaar. In die middel van die nedersetting, vergader die tien by ‘n rondawel. Dis die plaaslike slaghuis. Die lang maer man sluit die deur oop en stap eerste in. Die ander volg en gooi die sakke vleis op twee lang tafels neer. Buite, voor die deur, vorm ‘n ry vleiskopers.

Die son glip oor die horison en die honde draf uiteindelik kopspelend en met uithang tonge die nedersetting binne, hul pelse en bekke donker van die bloed.

Lewer kommentaar

Leave a Reply