Die sadis en die klein terroris

Daar is die bekende grom van ‘n BMW wat idle, die motordeur klap toe en ‘n stem wat onophoudelik praat. Mari, my girl, staan by die oop voordeur en wag. Ek sit terug in die leerbank en flip deur die kanale todat ek op Supersport te lande kom.
Mari se suster stap oomblikke later die huis binne, Damian op haar heup en ‘n volgelaaide sak hang swaar aan haar ander arm. Sy lyk uitgevat met ‘n angelierrooi bloes en ‘n stywe swart broek. Claire groet soos gewoonlik nie.
Ongeskik, dink ek.
Sy gooi dan die baba sak op die vloer neer en plaas Damian sonder sermonie in my arms. Ek shift die klein karnallie sodat hy oor my skouer moet loer.
“Vlek, jy sal vannaand vir Damian moet oppas …”
“Sorry, babe, ek kyk vannaand die game. My span speel,” sê ek en check die wit-groen slymdiertjie wat vanuit die baba se neus oor sy bo lip beweeg.
“Gaan jy die snot afvee, Claire?”
“Vlek,” waarsku Mari.
Claire grou deur die ligblou sak en ‘n paar botteltjies Purity val uit die sak op die bank. Sy laat los, gee die tissue vir my en ek red die snot van verdere verspreiding.
“Waar’s Brett?” vra ek dood onskuldig.
O, hel, hier kom dit nou.
“Jy weet, Vlek, dis een van die perks van met ‘n dokter getroud te wees. Hy word onverwags uitgeroep vir noodoperasies. Hy moet lewens red om sy pennies te verdien.”
Damian skuifel onrustig in my arm. My hand verstyf om sy middel.
“Sarkasme pas jou nie, babe. Ek scheme nog al die tyd dis vir die love of the job wat hy dit doen. Nou hoor ek dis vir die geld.”
“Gaan vlieg Vlek!”
As ek ‘n Red Bull gehad het was ek nou op Ellispark, dink ek so by my lonesome.
“Ons gaan vanaand ons girls-night-out geniet en jy gaan vir Damian babysit of jy dit nou like of nie.”
“Jy weet ek like nie kinders nie,” sê ek.
Bla bla bla … hier kom nog ‘n preek …
“As jy eendag jou eie kleingoed het sal jy ‘n ander deuntjie sing.”
Na dié wyse woorde kyk ek vas in die ysblou pêrels. “Mari, as jy van die pil áf klim is jy dóód.”
Haar oë rek geskok en sy verkleur so rooi soos ‘n tamatie en vir some or another reason hou ek daarvan. Sy lyk mooi vanaand.
“Ag shame, Vlek, dan is jy vir nege maande uit besigheid uit,” giggel Claire.
Ek stuur een van daardie try-dit-weer-en-ek-bliksem-jou kyke en haar lag loop skielik droog soos ‘n fonteintjie.
Bloody bitch! Geen wonder ek sukkel om te commit. Mari se pa is ‘n bliksem en haar suster is ‘n pyn in die gat wat my om elke hoek en draai mok.
By die voordeur transfer ek die woelwaterknaap na my ander arm, Mari se lippe raak saggies my wang, ek gryp haar styf teen my vas en soen haar dan ordentlik. Daar is ‘n reuk van babapoeier tussen ons en ek gee haar ‘n wicked wink.
Yes, once you’ve had Vlek you never go back …

Ek luister hoe die M3 se klank af in die straat verdwyn, stap na die TV-kamer toe en sit Damian op die bank. Purity bottels word een kant toe geskuif. Ek vat ‘n sluk van my klippies en coke wat op die tafel staan, luister entranced na die statistieke en Naas se jap-jap oor die Bulle se vaardigheid.
Die Bulle skop eerste af. Andries Pretorius knock on.
Flippen dom donner! Ons is nie eers ‘n minuut in die game nie.
Damian dink ek is ‘n klim-en-kouter. Ek moet net keer want die terroris wil aan alles bloody vat en het so amper die grond face-to-face ontmoet as ek nie betyds gekeer het nie.
Snif-snif, ag nee, hel!
Asof die laaitie my gedagtes kan lees begin hy hartseer huil. Ek gryp die blou sak en gooi alles sommer daar op die mat uit. Met een oog op die game trek ek Damian uit.
Vrekken hel, wat voer hulle die kind, brooklax?
Ek maak skoon met ‘n disgusted expression op my bakkies en Damian het intussen ophou tjank en kyk nou hoe die Bulle tackle vir hulle lewens. Die rakker skop-skop asof hy Naas Botha se baba is en ek druk hom met een hand vas.
Go go go! Try time, whoo-hoo! Go Lions!
Na die opwinding check ek die ding uit, die sak gee geboorte aan materiaaldoeke. Mens sou sweer doktor Brett verdien nie genoeg geld om disposable nappies te koop nie. Dis die moderne tyd en hulle gebruik nog ge-Jikte wit doeke. Dis nou plein en simpel weird …
Ek vou iets wat soos ‘n driehoek lyk, bring die punte by mekaar en steek Damian soos ‘n voodoo poppie met die speld. Hy begin histeries te huil.
Vrekken hel, as ek so aan hou gaan water deur sy maag uit vloei soos in die Tom en Jerry cartoons. Ek los hom net so sonder ‘n broek.
“Jy moet een of ander tyd leer om ‘n nudis te wees, pel.”
Ons kyk die game verder tussen deur die gehuilery en die amok wat die Leeus vir die Bulle maak. Dit lyk vir my of Damian ‘n lift saam met Klaas Vakie gaan vang want sy oë wil-wil toe dop.
Kom nou ouens, julle kan nie nou naam staan en weggooi nie. Byt vas dis nog net 12 minute 36 sekondes.
Na ‘n rukkie kyk ek na Damian; die laaitie slaap te lekker hier op my skoot. Ek moet net keer elke keer as ek wil op spring as daar aksie is. Ek skel die ref en spelers in my kop terwyl die kommentators haastig praat.

Net voor nege lui die telefoon. Damian word verskrik wakker soos ‘n akker en die vloed van trane begin weer van voor af.
%@#$!!!
Ek skeur my traag weg van die TV-skerm.

“Hallo? … Damian’s okay … mmm … die leeus is voor … ja Claire, ek sal room aan sy boude smeer … Wat? Ja okay … goodbye.”
Bloody bitch! Spiteful om die tyd te bel as sy weet sy gaan Damian wakker maak.
Ek tel hom op en neuk kombuis toe met die tietiebottel. Gooi melk in en verwarm dit in die mikrogolfoond. Deur die skrefie hou ek die laaste stuiptrekkings van die rugby dop. Ek sus en skommel die karnallie maar sy mond bly wyd oop sodat ek elke vesel van sy kleintongetjie kan sien tril.
Skielik kots hy reg oor my Lions-trui. ‘n String vloekwoorde volg wat selfs Prinses se paarrym woorde sal laat bloos. Damian skreeu blou moord en ek vee die res van sy aand ete van my nek af met my hemp.
Is dit moontlik om ‘n baba se vocal cords te verwyder? wonder ek.
Die microwave pieng!
Kaalbors en met Damian met sy kaalbas kry ek die blink plan.
Ek spuit die melk op my tong. Mmm, ja dis fine. Nie te warm nie, nie te koud nie, net reg.
Die kas gaan oop en ek haal my Klipdrift uit en vat ‘n diep sluk. Ek smile vir die rooigesig Damian.
Hierdie gaan ‘n aand wees wat hy nooit sal vergeet nie …
Ek knipoog vir hom. “Oom Vlek gaan alles reg maak, belowe.”
Ek gooi ‘n doppie Klippies in sy melkbottel.
Ag, wat de hel, nog een vir luck.

Dit is nie lank nie of die huilende terroris is kalm en sy oë knipper toe. Sy asemhaling diep en egalig.
Ah, now for the sadist’s master plan …
Ek krap in Mari se medisynekabinet rond, vind wat ek soek. Ek cover my hand met plastic en gooi die doek onder Damian se bas. Ek bedek elke sentimeter van sy kaal boude met Mecurochrome. Ek staan terug en kyk na my bloed-oranje kunswerk.
Die bitch gaan so nooit weer haar kind by my los nie.
Ek soen die slapende knaap op die voorkop en word só amper sag.
“Nee, wat tjom, oom Vlek sal wag tot die hoenders tande kry voor ék ‘n klein terroris soos jy aanskaf.”
Jikkels stikkels, ek is moerse bly die leeus het biejtie blou vleis gekry …

skrywer: Vlek

Lewer kommentaar

Leave a Reply