My oupa vertel eendag die storie, van toe hy vir ‘n meisie gaan kuier het in Heidelberg, Kaap. Hy moes al die pad van Mosselbaai af na Heidelberg te perd, en Heidelberg is so 100 km van Mosselbaai af. Hy moes ‘n hele dag lank ry om daar te kom. Ai, die liefde.
Daar aangekom het hy en die meisie die hele volgende dag saam spandeer, met haar pa wat nooit te ver weg was nie – net om ‘n ogie te hou, jy verstaan. Die aand het my oupa oorgeslaap, natuurlik in ‘n aparte, goed bewaakte spaarkamer. Die volgende oggend vroeg opgestaan (soos boer maar doen) en weer saam met die nooientjie tyd spandeer.
Sy tyd spandeer word toe egter kortgeknip deur nooientjie se pa wat vir hom toesnou: “Terblanche, jy kuier lekker hier, maar jy kan nie so sit en niks doen nie. Ek het ‘n koetjie daar in die stal wat gemelk moet word – maak jouself handig!” My oupa is mos nie bang vir werk nie en gretig om die oom te impress is hy toe af stal toe met die melkemmertjie.
Daar aangekom het hy begin melk. Maar toe hy net die emmertjie so ‘n kwart vol melk het sit die koei haar poot in binne-in. Hy gooi toe maar die melk uit (want dit is mos nou vuil) en begin weer. Koetjie doen weer dieselfde. Vervies span hy toe die koeitjie se twee agterbene vas met die enigste stukkie baaltou wat daar in die stal lê, en hy begin weer melk.
Dit was nie lank nie toe klap die koei hom deur die gesig met haar stert, en jy weet ‘n koei se stert is nou die die skoonste ding nie. Dit is net koeimis en boonop slaan die kwassie seer as hy jou so in die gesig tref! Oupa vat toe die melkstoeltjie en sit dit agter die koei neer, sodat hy by die oorhoofse balke kan bykom. Hy tel toe koeitjie se stert op om die stert teen die balk vas te maak, maar daar is nie nog tou nie – toe haal hy maar sy belt af om dit te gebruik. Net daar val sy broek af en met die stap aanstaande se pa die stal binne. “TERBLAAAANNCHE!” skree die oom toe hy die gedoente aanskou en storm op my oupa af waar hy op die melkstoeltjie staan, agter die koei met die koei se stert omhoog en sy broek om sy enkels – picture dit …
My oupa sê hy het toe maar alles net so gelos, sy broek opgetrek en laat spaander, op sy perd gespring en weggejaag. Hy het geweet dat die oom nie sou luister na sy verduideliking nie en dat hy nie geskiet wou word nie! Toe kies hy maar hasepad.
Wonder wat die oom met sy enigste, geliefde melkkoeitjie gedoen het na die affêre, mens kan maar net wonder. Nutteloos om te sê, het hy nooit weer die Heidelbergse meisie gesien, of van gehoor nie.
skrywer: Boerq
(Meer van Boerq by www.boerq.blogspot.com)
Discover more from Roekeloos.co.za
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
