Die oë van mense

Kykers
fontein, sieners,
middelpunt, oë, uitloopplek
drinkplek, kantien,
bron.

Kyk(ers), kyk gou vinnig diep in my oë. Wat sien jy? Wat hoor jy? Wat ruik jy? Wat proe jy? Hoor jy die hartseer van ‘n seer siel? Proe jy die sout van ‘n moeë traan wat oor ‘n rooi wang rol? Voel jy die pyn wat soos vuil oë brand? Sien jy iets daar binne, ek vra – sien jy?

Party oë is oases. Die donkergroen word van ver af gewaar. Betree die oase en alles verdonker, swart van die ruie varings wat op die pupil uitkrul. Onder strek die wortels ver af na daar waar daar water is. Geheimsinnig is hulle. Niemand mag weet vanwaar die kelk kom nie. Opvallend is dit tog, geen een kan so ‘n oase in elke dag se warrel wind woestyn mis nie. Die bome is dig teen mekaar gepak. Maak nooit oop vir enige vreemdeling nie. Ignoreer die gehammer en geruk aan die takke en blare. Toe. Bottoe.

Die potblou-oog fonteine, was sand van seer siele af. Sand wat siele so seer sny. So helder soos die blou hemel koepel, is die venster van ‘n blouoog siel. Probeer elke dag om elke moeë siel te versorg. Laat hulle toe om in die fonteine te baljaar en hul rou voete te was. Voete wat verbrand het op die warm woestyn.

Hartseer staar na ‘n nat klip se bodem. Twee sielvolle oë verdwaal onder deur ‘n ruigte paar wenkbroue. Talle is daar, ‘n hele paar. Siele sit en staar in die whiskyglas vir die bruin pêrels wat vir hulle terugloer, seggend oor drome. Drome dikwels gedroom, word Eensaamheid genoem. Eensaam soos ‘n reëndruppel wat alleen teen ‘n groot ruit afloop. Skuiling soek vind plaas, laat aand-vroeg oggend. Steel soms bietjie van die maan se lig om die pad aan te wys.

Swart kring uit as ‘n klip in die swartoog put val. Al wat defnitief gesien word is die swart oog wat van onder na bo vir jou loer. Knippend soos die water roer. Vir begrip is ‘n diep kyk nodig. Min verstaan. Verstaan iemand ooit? Seer lê baie dikwels op die bodem van dìe swart put. Niemand sien, niemand mag sien, niemand wil sien. Dis seer. Die seer bly kleef soos swart mossels op ‘n harde rots wat deur geen brander afgeslaan kan word nie. Die siel is stil. Dood. Te seer om te praat. Te swak om te lag. Te moeg om te leef.

Kyk(ers), kyk WEER diep in my oë. Wat sien jy? Wat hoor jy? Wat proe jy? Sien jy ‘n siel wat smag na genesing? Sien jy die duisend laksmaneiers wat wag om uit te broei en die siel dan stuk-stuk van binne af op te vreet? Hoor jy die hartseer agter die glimlag? Proe jy die sout smaak van ‘n traan? Verstaan jy die siel wat agter dìe paar kykers skuil?
Sien jy dit?
Sien jy – my?

skrywer: Janes Meyer


Discover more from Roekeloos.co.za

Subscribe to get the latest posts sent to your email.

Lewer kommentaar