28 November 2006
01:15am
Wat die hart van vol is loop die mond van oor, oftewel so sê die mense. Maar wat gemaak as jou hart skielik leeg voel, en verlang na iets wat jy om jou sien maar nie self ervaar nie? As jy verlang na nabyheid, n konneksie, sagte oe wat na jou kyk, ‘n arm om jou skouer wat jou nader trek, en sonder om n word te se jou spesiaal laat voel, gelief. Dis daardie gevoel dat jy gelief word waarna ek verlang. Die soen in jou nek sommer so in die verbygaan. Maar nie sommer enige een nie, die een wat vir my bestem is. Hy wat oor my voel soos jy oor hom, nee, hy wat been af is oor my, wat met skaap oë na my kyk, en by homself wonder of hy my werklik verdien. Ja, hy wat vir my liefdesgedigte skryf, my kom ontvoer vir n namiddag avontuur. Hy wat ‘Ek dink aan jou’ en ‘Ek mis jou’ smse stuur, en bel net om my stem te hoor.
Daar is so baie maniere om liefde te betoon. Sommige maniere groot en hardop sodat almal dit kan sien en hoor, ander net ‘n sagte fluister in jou oor: “Dankie, ek waardeer jou, ek is lief vir jou, vir my is jy soos poeding!” Liefde lê meestal in al die klein dingetjies wat jy vir hom doen, en hy vir jou.
Ek mis jou Adam. Ek hoop jy luister na Liewe Jesus, Hy sal jou na my toe lei. Daardie hol gevoel daar diep binne jou kan net deur hierdie ‘ribbetjie’ gevul word. Dis daardie ribbetjie wat jy in die paradys afgestaan het wat nou hier vir jou sit en skryf Adam. My Adam, ja net myne verseker. Geen gifappeltjies wat tussen ons kom nie. Saam is ons weer terug in die paradys.
Kan jy my hoor Adam? My hart roep na jou, ek mis jou. Jy is n werklikheid vir my. Jy is nie net my wasige droomman wat ek in n liefdesvisioen koester nie. Jy is wat Liewe Jesus vir my wil he, net die beste, en ek glo dit. Al is jou lyf en warm asem nie nou hier teen my nie, weet ek jy is daar. Ek verlang vanaand, soos elke ander aand na jou. My Adam.
Met hemelse Liefde
Jou Eva
29 November 2006
06:00am
Die dag is splinternuut, kraakvars.
Liewe Jesus,
Dankie vir hierdie dag, mag ek dit eerstens gebruik tot U eer. Dankie dat ek weet dat U vir my lief is, al kry ek nie altyd alles reg nie, dat U liefde nie met voorwaardes kom nie, of van gevoelens afhang nie. Leer my om ook so lief te he met Hemelse liefde. Bewaar vandag my geliefde, in wat hy ookal doen, bewaar sy hart vir my. Hou hom asseblief veilig liewe Jesus. Here, dis tog so maklik om te verdwaal, en versoekings is groot, en die Slang is maar lustig. Vou hom vandag weer toe, en omsingel hom deur U engele, hou hom op koers. So ook vir my.
Dankie my Hemelse Pappa, in Jesus se wonderlike naam,
Amen
Ja my Adam, ‘n gebed vir jou, soos elke dag, oggend en aand, altyd. Naas my Skepper, sal jy die belangrikste persoon in my lewe wees.
Vanoggend is my hart weer vol verwagting, en ook afwagting. Ek wag om die belofte van liefde te ontvang. Ek het geleer dat n mens bereid moet wees om te ontvang waarvoor jy vra; waarvoor ek vra. Ek wil jou bederf met soveel liefde! Ek wil elke aand met jou lepellê. Vir jou koekies bak! Ek sal daar wees as jou gemoed swaar is, jou hand vashou en luister, jou dag met jou deel. Saam planne beraam, saam bid, saam worship, saam lag, saam huil, saam kwaadword, en saam vergewe. Adam, in my hart en gees is ons reeds saam soos liewe Jesus dit wil hê.
Jou Eva
30 November 2006
22h20
Saaamwees … More is dit 1 Desember, die begin van die Kersseisoen. ‘n Tyd vir blydskap, liefde en saamwees. Saam met die vir wie jy omgee en liefhet. Ek wonder, Adam, of jy in my kerskous gaan pas? Of jy dalk hierdie jaar onder die kersboom vir my gaan wag? Ek wag al lank vir jou, eintlik vandat ek ‘n jong meisie was. Drome gedroom … Uittreksels uit God se plan vir my.
My Kerswense word na Liewe Jesus gestuur, nie ‘n briefie aan Kersvader nie, maar ‘n gebed aan my Hemelse Vader.
Die liefde in ‘n mens se hart is nie werklik liefde totdat jy dit aan ander gee nie. Liefde is nie veronderstel om in jou te bly nie, maar om met ander gedeel te word. Nes die liefde wat God aan die mens gegee het toe Hy baba Jesus vir ons gegee het. Die voorbeeld van volmaakte liefde. Ek het ‘n oormaat liefde hier binne my, en Adam, ek wil dit so graag met jou deel. Liefde in al sy vorms. Die nagte wat ek so sukkel om te slaap is juis die tye wat ek jou die meeste mis. Die leë plek hier langs my. My arm wat uitstrek oor die koue laken en jou nie daar kry nie. Dan voel die bed skielik te groot en verlate. So, ek staan op en stap deur die huis na buite, kyk op na die hemel, en gesels met my Vader. Ek praat met Hom oor jou.
My God en Hemelse Vader,
Dankie vir U wonderlike Liefde. Liefde ook vir my. Liefde in die voorbeeld van Jesus. ‘n Liefde wat selfs die dood oorwin het. Here, leer my ook om so lief te he. Dankie dat ek weet, ja verseker weet, dat U ‘n wonderlike plan vir my lewe het. Here, lei my en wys my die rigting waarin ek moet gaan. Skyn U liefdeslig op my pad sadat ek kan sien. Liewe Jesus, beskerm my Adam, hou hom veilig van versoeking. Skyn U lig ook op sy pad Here, sodat hy ook sal sien waar hy moet wees. Verdryf alle vrees uit ons harte en lewens, sodat ons met oorgawe op U kan vertrou. Wonderlike, liefdevolle Hemelse Pappa, laat U wil geskied, soos in die hemel net so ook op die aarde. In Jesus se liefdevolle naam,
Amen
2 Desember 2006
Ek het daardie Kersgevoel hier binne my. Dit reën saggies buite, alles is skoon en vars. Die regte weer om saam iewers op te krul, hande vashou, kerse aansteek. Romanties wees, ek mis dit.
Adam, sal jy vir my badwater in tap, my rug kom was? Saam met my in die kerslig sit en gesels of na musiek luister.
My soen.
Soen is so ‘n persoonlike ding. Sal jy my elke dag soen Adam? As jy wakker word, voor jy gaan werk, sodra jy by die huis kom, as ons gaan slaap, en natuurlik met liefde, en ook sommer net … my hart bons sommer!
Verstaan jy Adam? Mis jy my? Bid jy vir my? Vra jy vir Liewe Jesus om vir jou ‘n Eva te bewaar? Adam, ek hou nie van alleen wees nie, ek is moeg om dinge op my eie te moet doen. Moeg om so onafhanklik te wees. Sal ek op jou kan staatmaak en steun Adam? Sal jy in my lewe in storm? My voete onder my uitslaan, so sterk wees, ‘larger than life’, my hele wêreld tot stilstand dwing, en my in jou rigting draai …
Sal jy Adam?
23h25
Dis doodstil om my. Ek drink koffie in die kombuis. Hierdie ‘EK’ wil deel van ‘n ‘ONS’ wees. Ek wil planne beraam vir die nuwe jaar wat kom. Ek wil ‘ONS’ planne maak vir die nuwe jaar.
Liewe Jesus,
Ek weet U tydsberekening is altyd perfek, al voel dit vir my soos ‘n ewigheid. Ek sal vertrou en wag. Here, ek knyp my oë styf toe, ek wil U pad vir my lewe volg. Here, U ken my hart en my gedagtes. U weet wat ek begeer Here, en U woord se dat as ek my in U verbly, en eerstens my blydskap in U soek, dat U my die begeertes van my hart sal gee. Ps 37:4 Ek glo dit Here en ek sal wag. Ek glo dat U besig is om my Adam vir my voor te berei, hom regkry vir my. U het ook vir my voorberei hierdie jaar. Here, U het waarlik my lewe gered hierdie jaar. Dankie my Hemelse Pappa. Dankie vir my Adam, my man wat U vir my gaan en sal gee. My aandboekie het dit nou weer bevestig, dankie dankie dankie Jesus. Ek hou vas aan U belofte vir my, n toekoms vol hoop, liefde en voorspoed, hou my op U pad.
In Jesus se liefdevolle naam
Amen
5 Desember 2006
06:20am
Goeie More Adam.
Gisteraand was die maan so helder. ‘n Lig vir ons in die nag sodat ons nie snags verdwaal nie! Is jy nog op koers Adam? Ek glo jy is, want my God, ons God, is getrou. Ek glo wat HY vir my beplan net die beste is. Ek dink baie aan jou, my Adam. Soms hol my gedagtes, wense en begeertes weg met my. Adam, ek kan amper nie meer wag nie, maar ek weet ek moet, want Liewe Jesus is nog nie klaar met ons voorbereiding nie.
Dis amper soos koekbak. Alles is vooraf presies afgemeet, en op die regte tyd saam gemeng. Nou bak ons liefdeskoek in God se oond. Net voor ‘n koek regdeur gebak is begin mens dit ruik, amper klaar! So glo ek is ons liefde. Reeds in God se oond en amper reg. Ons liefde se heerlike geur hang reeds in die lug. Moenie bang wees nie Adam. Moenie dat vrees jou in die oond hou nie. Tydsberekening. Adam, jy moenie vrees nie. Vertrou op HOM. n Vertroue wat ek self hierdie jaar geleer het. n Perfekte koek is nie rou in die middel nie, en ook nie gebrand aan die buitekant nie. Dis die bakker se werk om te bepaal waneer die tyd reg is.
Liewe Jesus,
Dankie dat U tydsberekening altyd perfek is, dat ek op U kan vertrou vir n perfek gebakte liefde. Bewaar my Adam vandag, en vul hom met U gees en liefde, berei hom voor vir my. Net vir my, sodat ons hemelse liefde kan deel.
In Jesus se wonderlike naam
Amen
21h26 (5/12) vervolg …
Adam, vanaand wil ek in jou arm lê, my vel teen joune, sommer net saamle, saamwees. Saam …
Ek wil hê jy moet my wegvoer Adam, jy moet my hart ontvoer!
Jou liefde bewys. Ek gee so maklik van myself aan mense, dan maak ek dit maklik vir hulle om my sommer net as vanselfsprekend te aanvaar. Weet jy Adam, ek wonder baie oor wat jy sal doen? Sal jy ook so gou gemaklik word? Of sal jy nog elke dag wonder wat jy gedoen het om my te verdien. Daar is soveel wat ek vir die regte man wil gee. Die kosbaarste is my hart. My liefde onvoorwaardelik.
Toewyding. Ek wil dingetjies vir jou doen, nie omdat ek veronderstel is nie, maar omdat ek dit graag WIL doen. Ek wil jou hartjie vertroetel, en hom veilig bewaar hier diep binne my. Ek wil in die sitkamer op die vloer langs jou le, met die ligte af en die musiek wat saggies speel. Ek voel so bietjie nostalgies vanaand. So bietjie verlore in my drome en wense. Emosioneel. Ai Adam, ek wil jou hier by my hê. Ek wil aan jou raak. Ek wil jou hand vashou, en jou soen, en jy wat my terug soen … My styf vashou …
Met Verlange,
Jou Eva
6 Desember 2006
20:20pm
Liewe Adam,
Dis volmaan en die weer is lekker buite. Ons sal eendag buite op n kombers onder die maan en die sterre le, opkyk hemel toe, diep asemhaal en dankie se dat ons mekaar gekry het. Ja ek weet ek droom, maar weet jy Adam, drome skep hoop en ook n verwagting. Ek hoop dat jy eendag my briewe aan jou sal lees, die gebede wat verhoor is sal verstaan. Ek het jou nodig Adam. Nodig om my net lief te he, my te beskerm. Aan my getrou wees, soos ek aan jou. Liewe Jesus ken my hart en my begeertes.
Liewe Heer,
Dankie vir U liefde vir my. Here maak my Adam se oë oop sodat hy sy pad na my toe kan vind. Die pad wat U gemaak het, en nou nog besig is om te maak. Here, rol die klippe uit sy pad en wees U vir hom ‘n lig soda hy nie sal verdwaal nie. Dankie Here dat ek in my hart kan glo dat 2007 ‘n jaar, nee, DIE jaar gaan wees dat ek liefde en geluk sal vind. My Adam sal kry, en hy sy hart vir my sal gee. In Jesus naam.
Amen
So Adam, ek sal wag tot jy reg is om jou hart vir my te gee, en dit te bedoel, sonder speletjies en voorwaardes. So sal ek ook my hart gee. Jy het eintlik reeds my hart en my liefde. My liefde gee ek nie ligtelik nie Adam, baie min het dit al ervaar. Ek hou by my besluite, en my woord. Dis nie nodig om alleen deur die paradys te dwaal nie, ek is hier vir jou, nou en altyd.
Lekker slaap my lief. Ek sal wag vir jou.
Met Liefde
Jou Eva
7 Desember 2006
22:30pm
Liewe Adam,
Ek hoop dat jy jou oor teen Liewe Jesus se bors hou. Bly op koers my lief. Ek kan nie wag om my geluk saam met jou te vind en deel nie! Saam planne beraam vir die toekoms, ons toekoms, en herinneringe maak. Liefde deel. Drome droom. Ek hou vas aan wat Liewe Jesus vir my gewys het. Ek wag, vir jou …
Verlangend,
Jou Eva
8 Desember 2006
22:00pm
Dit reën. Net die regte weer om lekker in die bed te le en cuddle. Jy sal ook my beste vriend wees, my maat en my man. Wat het jy as jy nie vriendskap ook het nie? Nie veel nie, want dit wat oorbly kan tog so gou vergaan. Maar vriendskap is ‘n band wat net sterker word soos die tyd verloop. Daar is dinge in n verhouding wat jy moeilik vergewe, maar in n vriendskap maklik doen, en anders om ook. So ja Adam, ek wil he dat ons goeie vriende ook moet wees, en dat ons oor enige ding kan gesels, niks vir mekaar wegsteek nie. Ons moet so gemaklik in mekaar se geselskap wees, dat woorde nie altyd nodig sal wees nie vir ons om te kommunikeer nie. Net een kyk in jou oë … As ons dalk vir ‘n tydjie nie bymekaar is nie, moet ons band so heg wees dat ons mekaar sal aanvoel sonder om fisies daar te wees. Ek ken so ‘n band. Daardie besonderse konneksie wat twee mense verbind. Dit is iets besonders. Min mense ervaar dit werklik.
Geluk, liefde, vrede en rus. Dit is in ons toekoms.
Jou Eva
12 Desember 2006
21:52pm
Liewe Adam,
Hoe is dit dan dat ek vanaand so alleen voel? Wil so graag my spesiale iemand by my he. Met my arm oor jou bors le, by jou wees. My emosies sit hier hoog in my keel vanaand, en die ou duiwel mors met my. Ek jaag hom weg in Jesus se naam!!! Weet jy, ek is bang Adam, bang dat jy nie by my gaan uitkom nie. Bang dat ons mekaar gaan mis. Bang dat jy blind sal bly, dat jy gaan kies om nie te sien wat Liewe Jesus vir jou het nie. Bang dat jy MY nie gaan sien nie, of erger dalk , dat jy my nie wil sien nie.
Ek het so ‘n sterk greep op my emosies, want eintlik is ek bang. Bang om my gevoelens te wys en dan seer te kry. Ek is ook bang ek wurg my hart dalk dood met hierdie ystergreep. Sal jy my liefde kan hanteer in al sy glorie?
Liewe Jesus,
Help my asseblief! Verdryf hierdie vrees, want ek weet vrees en twyfel kom nie van U af nie. Ontsluit my Adam se hart Here. Ontsluit hierdie situasie. Maak U die pad oop Here. Ek wil nie terughou nie Here, ek wil my liefde openlik wys. Dit uitbasuin, luidkeels en hardop!
EK HET JOU LIEF!!!! EK IS JOUNE, EN JY IS MYNE!!!
Here maak my Adam tog ontvanklik vir my liefde. My hart is so vol gedagtes en dinge. U ken hulle almal Here. Ek vertrou op U, dis al wat ek kan doen.
Here, beskerm my Adam vanaand. Hou hom naby U. Elke nuwe dag, is n dag nader aan my Adam, so glo ek met hart en siel. Ek wil die nuwe jaar saam met U en my Adam beplan. Here, maak ons harte en oe oop vir mekaar. Dankie vir die wete dat U n toekoms vir my ingedagte het. Heer, laat U wil geskied, soos in die hemel, net so ook op die aarde.
In Jesus se naam
Amen
Ja Adam, ek bid elke dag vir jou. Ek praat met Liewe Jesus oor my en jou. Ons. Moenie die bus mis nie Adam. Geluk is hier, in jou hande, jy moet net jou vingers toevou, voor dit deur jou vingers glip. Versigtig wees …
Jou Eva.
skrywer: Enkelmeisiekind
