Die selfoon in patriargale perspektief

Ou Dok, patriarg wat hy is, vertel my van sy en tannie Claude se ervaring met hul selfoon. Die kinders het so aangehou … Maar elke keer as die tannie wil bel, sê ‘n stem uit die binneste van die foon, op Engels, dat die nommer nie bestaan nie en as sy die landlyn probeer met dieselfde nommer dan kom sy heel gemaklik deur! Sou dit die begin wees van ‘n oorname van duistere magte oor die kommunikasiewêreld – tot hulle ontdek het dat hulle nagelaat het om die aerakode in te pons! En daarna: siedaar …

Maar wat ons in ag moet neem is dat Ou dok en tannie Claudie van ver kom. As Ou Dok terugdink na sy jongdae was daar toe net drie motorvoertuie op Redelinghuys. Die een het aan ds JD Malan behoort en was ‘n splinternuwe Ford, niks anders as ‘n swart Model T nie!

Dis die dae toe sy pa, as dominee kom huisbesoek doen, het ‘n span perde laat inspan het en na die steil sandbult gestuur het want die motor met sy speekwieletjies sou in die lossand vassit. Maar die kneg van die Here het sy storie geken. Met meer gewig op die fordjie kon hy die bult uit – sonder perde!

Dae van die Rogersknipmes wat die Britte, na die industriële revolusie op sy kolonies kom dump het en sy unieke voorganger uit die Herneuterkamp verbied het.

Die dae toe die herinneringe van die Anglo-Boere oorlog nog vars in die geheue was van die wat oor die Oranje gewoon het en waar daar Kaapse rebelle in die huisgesin was. Dan was daar die eerste Wêreldoorlog, die rebellie en later ook die tweede Wêreldoorlog.

Polities was dit die tyd van die “armblanke vraagstuk” en natuurlik die opkoms van die Afrikaner en Afrikaanssprekende ( die kinders op skool “niet Hollands mogen praat hebbe” as hulle uitevang word, dan met ‘n plakkaat op die bors met die klag: “Dutch Donkey” in die hoekie moes gaan sit het.

Meisies was gemeet aan hul vaardigheid in die kombuis en met die naald en gare. Hulle moes eers met die Dover, en later met Aga, kon bak of ‘n ete voorberei van aartappels, vleis en rys. En as daar groente geëet moet word, so sê die manne van daardie tyd, is ‘n vark geslag!

Naaldwerk was ook ‘n vereiste vir ‘n goeie huisvrou. En as daar geld was, onthou dit was moeilike tye as gevolg van die oorloë en die depressie, kon ‘n Singer naaimasjien baie vinniger die nodige nate toewerk. Dit was dan ook die era van die hoed en die hoededoos. Een was op die kop, tydig en ontydig, en laasgenoemde was altyd in die pad of het gevaar geloop om platgedruk te word. Die hoed die simbool van betaamlikheid en ‘n perskepit in die kous se band – kuisheid?

Dié mense was diegene wat kerk uitgebou het: sending met sy sendingstasies, hospitale en skole wat gebou is, waar die ongelowige bedien kon word, en barmhartigheid, wat ouetehuise, weeshuise, koshuise en watter behoefte daar ook was, ‘n huis voor gebou het.

Dit is dan ook hulle wat die verwyt van apartheid moes dra. Dit was hulle wat gestry het vir dit wat hulle as hul eie beskou het en daarmee saam die stryd om die armblanke en die Afrikaanssprekende op te bou. Die Afrikaner is in hierdie stryd om oorlewing saamgesnoer tot ‘n groot en invloedryke kudde wat nie krities kon staan teen sy leiers nie – dit sou op verraad neerkom!

Manne en vroue wat in die SAP-NAT stryd gestaan het. Soms het dit ‘n lyn wat deur families geloop het en baie onmin veroorsaak het. Dr Malan was eers die geestelike leier van die volk wat opgestaan het en word toe later die politieke leier. Calvinisme word sterk aanvaar en geleer. Dr Verwoerd oorleef ‘n eerste aanslag op sy lewe, maar ongelukkkig nie ‘n tweede nie. Dit ruk die Afrikaner in sy siel en ‘n laer word getrek. Twee broers neem die leiding in die land oor: Dr Koot die NG Kerk en John Vorster die bewind. Juis onder hulle leierskap kla die leraars dat dit beter was om onder John te werk want hy gee jou net 90 dae, terwyl dr Koot ‘n kampvegter daarvoor was dat ‘n leraar ten minste drie jaar in ‘n gemeente moet dien voordat hy na ‘n volgende mag gaan.

Tegnologie het ontwikkel. Die radio met sy groot kas en drie knoppe en ‘n buite lugdraad wat gestrek het tot die hoogste punt in die vyeboom, was eers net aangeskakel vir die sewe uur nuus, Kom dat ons boeke vat, die uitsaaidiens op ‘n Sondag en die Du Plooys van Soetmelksvlei. Nou blêr die radio met sy vele stasies van aansit tot afsit – daar is geen rus nie! En toe kom die TV net betyds om ons te wys hoe Niel Armstrong sy eerste tree op die maan gee en ons verseker dat die maan nie van kaas is nie, maar van stof en klippe. Toe kom die rekenaar en Internet en bebodder alles want nou moet ons bybly. ‘n Kennisontploffing vind plaas. Toe kom die selfoon …

Ek salueer Ou dok en tannie Claudie wat nog probeer om by te bly want hulle het rede om lankal hande in die lug te gooi en moed op te gee. Hulle het meer gesien en beleef as wat een mens in een leeftyd kan verwerk.

bydrae: Emile de Villiers

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar