deur Ferdi Wheeler

Dit was reeds laat agtermiddag, omstreeks vyfuur, toe hulle die ouman agtergelaat en terug Bloemfontein toe probeer ryloop het. Die twee was ‘n paartjie. Twee vrygeborenes in post-rewolusionêre Suid-Afrika en, soos die meeste van hul jeugdige tydgenote, down and out. Ja, properlies down and out. Jim en Annie. Verfompfaaid en pennieloos. Volbaard Jim en sy cherie d’amour Annie op hul deurgetrapte skoene. Maar wat loop, is hulle. Eindeloos deur Bloemfontein se strate. Maar daardie oggend vroeg het hulle geryloop Kimberley toe. Dis 136 kilometer en wonder bo wonder het hulle net buite Bloemfontein ‘n geleentheid gekry. Toe wou hulle daai agtermiddag weer terug, na hul besoek aan Jim se oupa.

Die gerylopery terug was ‘n ramp. Die een kar na die ander het verbygekom en die uitgestrekte arms en duime geïgnoreer. Mense het net nie meer vreemdelinge opgelaai nie. Jim was nie gepla nie. Hy’t voor geloop en aangehou loop, verder en verder van Kimberley af, tot die twee so teen sewe uur die aand omtrent twintig kilometer buite Kimberley was. Dit was sterk skemer. Annie het gekla van pyn in die sy van die lopery.

Jim was geïrriteerd. “Ek los jou hier … net hier!” Het hy haar toegeroep – hy was so ‘n vyftig treë voor haar. Maar sy’t koppig vasgesteek. Toe van die skouer van die pad afgedraai en in die lang somergras gaan sit. Hy’t sy hande in die lug opgegooi en teruggedraai en langs haar gaan sit. Kort-kort het ‘n kar verby gery.

“Ons gaan nie in die nag ‘n lift kry nie. No ways! Ons sal in die veld moet slaap of terugdraai waar daar mense is,” het sy gesê terwyl sy ‘n grasstingel tussen haar vingers verstrengel en gewring het.

“Ons moet net aanhou loop. Iemand sal ons nog oplaai, jy sal sien.” Jim het ‘n hand op haar skouer gesit, maar hy het nie veel hoop gehad in wat hy kwytgeraak het nie. As Annie koppig geword het, was sy steeks! Nie ‘n sambok sou haar kon laat verseg nie.

So het hulle gesit en die son het oor die einder weggeraak en dit was donker. In die ooste het ‘n enorme geel maan bokant die horison gehang. Jim het haar nader getrek en sy het teen hom aangeleun. Dit sou nie die eerste keer wees dat hulle in die veld moet slaap nie. Vorige rylooptogte het ook al so uitgedraai. Hulle het nog woordeloos so gesit, toe Annie skielik regop sit.

“Kyk, daar … Daar’s ‘n lig!”

“Dis ‘n plaashuis, dommie,” het Jim afwysend gesê. “Jy weet een manier om vrekgeskiet te word, is om in die aand op ‘n senuweeagtig boer se werf aangestap te kom.”

“Ek gaan soontoe!” het Annie meteens beslis gesê en opgestaan.

Jim het na haar een hand gegryp in ‘n poging om haar terug te trek langs hom. Maar sy was al op pad. Hy’t opgespring in aarselend gevolg. Die liggie daar voor was dof en ver – seker ‘n goeie twee kilometer ver. Hulle’t deur die heiningdraad langs die pad geklim en doelgerig begin stap. Nieteenstaande die maan, was dit moeilik om in die halfdonker deur die veld te stap. Hy’t nie ‘n poging aangewend om haar in te haal nie; haar eerder haar gang laat gaan en ‘n wag-en-sien-houding ingeneem.

Hul sending was eenvoudig om vir slaapplek en iets te ete te vra. Hul verwagtinge was om dalk soos honde weggejaag te word. So ‘n driehonderd treë van die opstal af, het Annie vasgesteek. Dinge het nie goed gelyk nie. Dit was ‘n ou huis. Nog van gebeitelde klip gebou met g’n teken van bakstene nie. ‘n Breë stoep het die huis omring en die huis was donker met net ‘n lig wat in ‘n vertrek langs die voordeur gebrand het. Maar ‘n dowwe lig, soos van ‘n lantern of kerse.

“Nou moet jy roep,” het Jim beveel, toe hy langs haar gestop het. “Ek stap nie ‘n tree verder nie. As ons moet scram, wil ek ten minste ‘n goeie voorsprong hê.”

Annie het hom skalks aangekyk en toe haar hande bak langs haar mond gemaak. “Hallo! Hallo! Kan ons naderkom? Hallo!”

Stilte. Die skadu van ‘n mensfiguur het teen die ruit agter die gordyn geval. Die lig het beweeg. Dit was ‘n lantern wat  gedra is voordeur toe. Hulle’t gewag. Die lanterndraer het in die voordeur gestop met die lantern vooruit gestrek. Die figuur agter die lantern was onsigbaar.

“Wie’s daar?” het ‘n vrouestem geskree en die yl stemmetjie het blikkerig in die aandlug geklink.

“Dis Annie en Jim hier, antie! Ons is op pad Bloemfontein toe en ons kry nie ‘n lift nie. Kan ons nader kom?”

“Kom stadig…Ek hou die roer op julle gerig. Ek skiet!”

“Is reg, antie. Ons kom stadig nader.”

Die vrou het die lantern langs haar sy laat sak en klaarblyklik staan en kyk hoe die twee skadurige figure aangestap kom. Jim halfhartig in die agterhoede. Die teenwoordigheid van ‘n vrou het Annie aangemoedig. Ten minste was dit nie ‘n stuurs, vrekbang ou donner nie. By die stoeptrappies het sy gestop.

“Ons soek net ‘n plekkie om so ‘n uur of twee te rus en miskien ‘n stukkie om te eet, antie. Naand, antie …”

“Vanwaar kom julle?”

“Kimberley, antie.”

“Maar dis mos Kakie-wêreld. Is julle joiners?”

“Ek weet nie van joiners nie, antie. Ons bly op Bloemfontein …”

 “Hoekom dra jy broek? Julle leef mos lekker daar op die dorp met die Ingelse mee …”

“Ek dra maar meestal jeans, antie.”

“Hoekom staan jy so agter jou vrou, g’n wonder jy is nie op kommando nie,” sê die fyn vrouestemmetjie teenoor Jim.

“Ek staan maar so, antie. Dis moeilik om ander in die oë te moet kyk.”

“Is so. Wie is julle?”

“Ek’s Annie en dis Jim. Ons trou een van die dae … Ons …”

“Kom jy nader niggie. Die neef bly net waar hy is,” sê die vrou en nou kan hulle duidelik die geweerloop sien wat dreigend gelig word.

Annie het vorentoe getree en die vrou in die deur het geretireer sodat daar spasie vir haar was om deur te glip. Toe sy binne was, druk die vrou die deur agter haar toe. Jim het vertwyfeld agtergebly. Hy kon net die twee vrouefigure afgeëts teen die venster in die lanternlig sien, maar die stemme was dof en dit was of hulle opsetlik sag gepraat het. Hy’t rondgekyk. Die werf was verlate, behalwe vir ‘n vark wat lui in die maanlig oor die kaal werf gedrentel het. Toe hy terugkyk, staan Annie in die voordeur.

“Kom in, maar gedra jou,” het Annie hom gemaak kwaai aangespreek.

Jim het ingestap en net binne die deur vasgesteek. Die vrou het nog steeds die geweer ter hand gehad en hy het baie onveilig gevoel.

“Dis antie Lizzie, Jim. Sy het nie veel om ons aan te bied hier op Abramskraal nie. Net kaboemielies en ‘n plek om te slaap tot môreoggend.” Aan Annie se stem kon Jim hoor dat sy half histeries was van dit wat die vrou haar vertel het. Wat Annie eintlik wou sê, was: die vrou is weird, maar gedra jou net.

Die vrou het iets soos ‘n Voortrekkerrok aangehad. ‘n Klokvormige skepping wat tot haar enkels toegemaak het. Die vertrek was gemeubileer met ‘n lang houttafel met agt stoele gerangskik om die tafel. In die hoek was ‘n stoof, maar uitgedoof. Die tafel was staande gemaak oor die vel van ‘n groot boksoort, waarskynlik ‘n eland. Die vertrek het na rook geruik. Haar beskerming, die geweer, is in die een hoek van die vertrek langs die stoof neergesit.

“Hallo, antie Lizzie,” het Jim gesê en steeds in die deur gewyfel.

“Jy kan sit, neef. Ek skep op.”

Jim het vorentoe getree en die stoel aan die onderpunt van die tafel uit getrek en gaan sit, elmboë op die tafelblad afwagtend. Antie Lizzie het ‘n bruin porselein-opskepskottel van ‘n rak bokant die stoof afgehaal en dit op die tafel neergesit. Toe ook twee borde van ‘n rak aan die oorkant afgehaal en goud- geel mieliepitte vir hulle twee opgeskep.

Jeez, die vrou is arm, het Jim gedink. Kaboemielies en ‘n lantern in die huis. Sy kon nie ver agter hom en Annie gewees het wat aardse besittings aanbetref nie. Kaboemielies was baie soos groenmielies eet en hy het die koue gereg geniet. Annie het saam met hom weggeval en antie Lizzie het aan die bopunt van die tafel hulle sit en dophou. Jim het haar so onder die etery deur bestudeer. Sy’t ‘n oulike gesiggie gehad. Vol onderlippie met ‘n wipneusie. ‘n Soort van snipperige voorkoms. Donker oë en swart hare, wat al amper heeltemal grys langs die slape was. Sy moes daar by die vyftig gewees het.

Toe hulle klaar was, het sy onseremonieel die twee borde geneem en in die wasbalie gesit. Hulle het besluiteloos by die tafel bly sit. Die inisiatief het by antie Lizzie berus. Sy was so weird en onvoorspelbaar dat hulle nie haar volgende skuif kon voorsien nie. Toe sy egter van die wasbalie af terugdraai, het sy glimlaggend by hulle aan die tafel aangesit.

“Ek verwag my seun Braam en ‘n patrollie van sy kommando vanaand. Hulle bring vir my kos. Dis ‘n gespanne tyd wat voorlê. Die Kakies se spioene is orals en hulle kan maklik betrap word omdat mens nooit weet wanneer die huis dopgehou word nie.”

Jim en Annie het na mekaar en weer na antie Lizzie gekyk. Hulle het stilgebly omdat hulle nie geweet het hoe om te reageer op haar Boere-oorlogpraatjies nie en omdat hulle as gaste nie haar eer wou krenk nie. Voorop in hul gedagtes was egter die een idee: sy moes van die lotjie getik gewees het. Wat die verwarrendste was, was die huis, haar kleredrag, die geweer en dit wat sy kwytgeraak het. Die vrou was ‘n hele pakket en nie net iemand wat ge-yl het nie.

“Julle bekommer my egter die meeste,” het antie Lizzie voortgegaan. “Julle is tussen die duiwel en die diepsee. As die burgers jou hier kry, Jim, sal hulle wil weet hoekom jy nie op kommando is nie. Hulle mag jou selfs skiet as ‘n verraaier. Annie is veilig met my, maar jy sal in die solder moet gaan skuil tot my seun en sy maats weg is …ek’s bevrees … En Annie sal nie ‘n woord moet laat val omtrent jou nie.”

Jim het na Annie gekyk. “Dis reg met my, maar is ek dan nie ‘n bietjie ingehok nie. Ek meen, as dit op ‘n deursoekery uitloop, is ek toast.” Jim het na homself geluister en sy eie ore nie geglo nie: hy’t met die antie saamgespeel. “Nee dis reg: ek gaan solder,” het hy toe laggend opgemerk. Punt van die saak was dat hy daar was om nie in die veld te slaap nie en daar praat hy homself toe amper in ‘n veldslapery in!

“Ek sal graag wil hê Annie moet my geselskap hou. Dis nou al maande laas dat ek vrouegeselskap gehad het. Die burgers sal haar nie leed aandoen nie, al is sy ook Kitchener se suster,” het sy met ‘n glimlaggie gesê.

Annie het kopknikkend geglimlag, maar sy was lam van die dag se stappery. Sy wou eintlik net omkantel en slaap en sou veel eerder saam met Jim solder toe gegaan het.

“Nou kom ek wys jou waar jy gaan slaap.” Antie Lizzie het opgestaan en die lantern geneem. Die twee jonges het haar gevolg. Hulle het deur die huis by die agterdeur uit gestap. Onmiddellik op die regterhand was ‘n stel trappe wat skuins na bo na ‘n deur in die solder gelei het. Met Jim agter haar, gevolg deur Annie, het die drie die trappe uitgeklim. Die maan het hoog en suiwer in die aandhemel gesit. Vir ‘n oomblik het dit vir Jim gevoel asof hy deur die antie met die maan op die agtergrond gekyk het. Maar hy’t net sy kop geskud, terwyl sy die deurknop gedraai en die deur piepend na binne laat oopswaai het.

“Die venster sal die maanlig inlaat, sodat jy nie heeltemal in die donker hier sit nie,” het sy gesê. Dit was waar. Die solderkamer was heel verlig deur die maanlig. “Moenie voor die venster staan as hier mense kom nie,” het sy toe gewaarsku. “Jy kan loer, maar moenie jou liggaam in die venster wys nie. Annie bring vir jou ‘n kombers. Dit word koel in die nanag.”

Alleen in die kamer het Jim in die rondte gedraai en ‘n paar kiste rondgeskuif om vir hom lêplek te maak. Annie was gou terug met die kombers. Sy’t dit op die vloer neergegooi en hom giggelend om die lyf gegryp. “Ek dink sy’s kens,” het sy in sy oor gefluister.

“Eerder jy as ek,” het Jim terug gefluister. “Ek gaan nou slaap. Sien jou met jou leepoë more.” Hulle het mekaar gesoen en laggend afskeid geneem. Dit was omtrent nege uur. Jim was gou aan die slaap. In die huis was dit die omgekeerde. Die twee vroue het gepraat tot omtrent elf uur. Annie het toe gevra om verskoon te word en ‘n lêplek te kry. Antie Lizzie het vir haar in ‘n aangrensende kamer ‘n bed gewys.

“Ek slaap nie vannag nie,” het sy ter verduideliking gesê. Annie was ook gou in ‘n bewustelose slaap.

Op die kop twaalfuur het daar ‘n gedreun soos van onweer vanuit die veld gekom. Hulle het later saamgestem dat hulle omtrent gelyk daarvan wakker geword het. Dit was die burgers wat in aantog was en die gedreun was gemaak deur die hoewe van 50 perde – lankal nie meer beminlike strydrosse nie, nee, meer diere wat die ergste van die oorlog aan hul lywe gevoel het. Nogtans was die patrollie ‘n indrukwekkende gesig. Die 50 ruiters het in geslote formasie oor die veld aangery gekom. So haastig as wat hulle die perde kon aanspoor. Hulle was in kakie-uniforms geklee, oorlogsbuit, want persoonlike kleding het lankal nie meer bestaan nie. Daar was nie tyd te verspil nie. Die vyand het oor die verassings-element beskik en die kanse was goed dat laasgenoemde – so naby aan Kimberley – kon opdaag. Die antie se seun Braam was tussen die ruiters. Voor hom op die saal het hy ‘n sak meel met moeite gebalanseer.

Dit alles het Jim vanuit die solderkamervenster aanskou. Sy mond het oopgehang. Sy brein het ‘n moderne verklaring vir die skouspel gesoek. Miskien ‘n herlewing van die Afrikaner-Weerstandsbeweging? Hy’t van die beweging van voor sy geboorte, geweet. Maar die verklaring het ook nie water gehou nie. Die patrollie het kort voor lank op die werf rondgemaal.

“Halt! Breek vir ‘n half uur. Net ‘n half uur,” het die bevelvoerder uitgeroep. Die aandlug was gevul met die gesnork en gerunnik van die perde en die harde stemme van mansmense. Sommige het gelag. Die meeste was ernstig. Die laaste maande van die oorlog was hel. Wagte is uitgesit. Braam het met sy kosbare vrag die huis in gestap. Die antie se stem kon gehoor word. Sy’t baie vrae gevra. Daar was baie “hoe gaan dit”? Die swaar voetstappe van moeë voete oor die plankvloer van die huis het tot in die solderkamer weergalm.

Annie het verstom en met slaap-deurmekaar hare by die kombuistafel gesit. Sy’t skaapagtig geglimlag terwyl die antie haar aan Braam en die leier, wat ‘n veldkornet was, voorgestel het. Die manne het goedige opmerkings teenoor haar gemaak. Mens kon dit ‘n vrolikheid noem. Toe was daar weer perdehoewe. Dit was ‘n brandwag wat aangejaag gekom het.

“Seker tweehonderd, tweehonderd!” het die brandwag dit uitgeskree toe hy op die werf sy perd tot stilstand gebring het. Dit het geklink asof almal gelyk geskree het. Burgers het verward na hul rydiere in die gemaal gesoek. “Daar kom hulle nou,” het die brandwag weer geskree. Die Britse kolonne het self donderend en op ‘n stywe gallop aangeval. Toe skote, skote, skote. Nie almal het weggejaag of in desperaatheid te voet die veld ingevlug nie. Driekwart van die burgers het stelling ingeneem en vuur op die vyand gelewer en hulle tydelik gestuit. Die koeëls het geklap teen die huismuur en spoedig was daar uitroepe van pyn van gewondes.

Annie was plat op die vloer maar die antie het nie geskrik nie. Sy’t met haar Leemetford uit die kombuisvenster op die vyand losgebrand. “Vuilgoed! Vuilgoed!” het sy kort-kort geskree. Annie, aan die anderkant, het vir die eerste keer in baie jare gebid. Gebid dat die kakofonie, die geweld, die bruisende drif van die dood, net moes stop. In die solder het Jim absoluut gefassineerd, en in doodsgevaar by die venster die gebeure staan en dophou. Hy het besluit dit was ‘n Afrikaner Weerstandsbeweging van die een of ander aard wat deur die regering onderwerp word. Die gebrek aan gemotoriseerde eenhede kon hy nie verklaar nie. Hoekom sou hy ook probeer? Hy’t dan daar voor hom gesien hoe dit gedoen word!

Dis moeilik om te sê hoe lank die slag van Abrahamskraal geduur het. Maar so skielik soos dit begin het, so eensklaps was dit oor. Die burgers, die 30 wat vasgeskop het, het geoefend die tweede probeerslag hul perde gevind en laat spat. Daar was omtrent vyf dooies. Die ander vyftien of so, het lankal hul eie basse gered. Die Britse kolonne het donderend in ‘n skynbaar onstuitbare stroom oor die werf gestroom agter die vlugtende burgers aan. Die malende vegtende menigte was uiteindelik weg en het in die vêrte verdwyn. Stilte. Toe weer perdehoewe. Klop, klop, klop. Ruiters wat hul perde laat loop en voor die plaashuis se voordeur inhou. ‘n Vyfstuks. ‘n Kaptein en ‘n paar gewone Tommies. Hulle het uit die saals gespring en met oorgehaalde gewere die huis ingestap. Binne kon hulle ‘n histeriese gehuil hoor.

Op die kombuisvloer het hulle die huilende Annie oor die lewelose en bebloede liggaam van die antie aangetref. Die lantern was vroeg gedurende die slag reeds moertoe geskiet en sy was net ‘n rukkende hopie in die swak lig op die grond.

Die kaptein het tot by haar geloop en met sy een rybelaarsde voet haar eenkant toe geskop. Annie het op haar sy geval en dit het by haar geregistreer dat die soldaat wat oor haar getoring het, vir die antie se dood verantwoordelik was.

“You killed her!” het sy geskree en op die kaptein afgestorm.

Hy het haar een keer geklap en sy het bewusteloos neergeslaan. Die offisier het die twee uitgestrekte liggame vir ‘n oomblik aanskou en toe gesê:”Let’s go,” en die Tommies wat agter hom saamgebondel was, het omgespring. Oomblikke later het hulle ook op ‘n stywe gallop die Britse kolonne agterna gesit.

In die solderkamer het Jim amper histeries van vrees geskuil en gewag dat die geweld teen hom moes draai. Hy’t alles gehoor en hy het nie geweet of Annie nog gelewe het nie. Hy’t homself onder die venster teen die muur aangedruk en gewag. Een uur het twee en toe drie geword. Maar dit het doodstil gebly, tot die eerste lewerik die daeraad begroet het. Hy het die hele nag deur vir sy lewe gevrees. Hy’t stadig orent gekom en deur die venster gekyk. Daar was niks. Niks! Die werf was ‘n wildernis van onbeteuelde plantegroei. Hy’t om hom rondgekyk. Die solder was in ‘n verwoeste toestand. Verwoesting wat deur tyd en wind en weer meegebring word. Dit was die tweede en miskien die grootste skok. Hy moes die deur ruk en pluk om dit oop te kry. Toe was hy buite aan die bopunt van die trappe. Die verrotte hout wou onder sy gewig meegee toe hy daarteen afgeloop het. Sy keel was droog en sy asem het hortend oor sy lippe gekom. Jy kon hom hoor asemhaal in die stil somermôre.

Daar was nie meer ‘n deur in die opening wat die agterdeur was nie. Die vloer was verrot en vol gate. Hy’t wesenloos die huis binnegestap en nie geweet wat om te verwag nie. Die hele huis was leeg. Nie ‘n teken van meubels nie. In die kombuis het hy vasgesteek. By die gat wat die venster was, het Annie op die vloer gesit. Sy’t wesenloos deur die venster na die daeraad gestaar.

“Pop?” het hy sag en vraend gesê.

Sy’t stadig haar kop gedraai en na hom gekyk. Die een oog was amper toegeswel.

“Wat het gebeur?” het hy gevra, maar dit was natuurlik ‘n retoriese vraag. Hy’t alles gehoor.

“Hulle het haar doodgeskiet,” het sy nogtans toonloos geantwoord en weer begin huil.

Jim het besorg nader geloop en langs haar gaan sit. Toe eers het hy geregistreer dat sy ‘n leersak op haar skoot vasgehou het. “Wat’s die?” het hy gevra.

Sy het betraand afgekyk. “Sy’t gisteraand vir my van dit vertel en gesê ons moet dit vat.”

“Wat is dit?”

“Dis 800 goue Krugerponde. Sy’t dit vir ons gegee. Dit was onder die vloer daar in die hoek,” het sy geantwoord en die trane van haar wange afgegee. Dit het twee vuil strepe oor haar vel gelos.

Hy’t nie verder gepor nie. Hy’t sy arm om haar skraal skouers gesit. “Ons moet weg van hierdie plek af,” is al wat hy gesê. Dringend. Sy’t geknik. Sy’t die leerband van die sak oor haar skouer gegooi en hy het haar opgehelp. Hulle het oor die veld heen terug na die grootpad geloop. Geskok en getraumatiseer, maar met ‘n tweede kans in die lewe – komplimente van die antie. Menige maal het beide om die beurt verbysterd teruggekyk. Maar hulle was reeds te ver weg toe die antie weer in die deur verskyn het en die twee weerlose figure in die vêrte met ‘n glimlag agterna gestaar het.

Lewer kommentaar

Leave a Reply