deur Magdaleen Rautenbach

Eendag, lank, lank gelede was daar ‘n klein veerboot, wat alleen oor die meer gevaar het. Sy naam was in groot swart letters teen sy boeg geverf: GELUK.

Maar die veerboot was baie hartseer. Dis soos ‘n seun van so vyftien jaar, hom een middag tydens ‘n wandeling langs die meer aangetref het. Met sy swart kuif wat laag oor sy groen oë hang en sy blou hemp en kortbroek wat een is met die meer se blou waters, stap die seun nader.

“Goeie middag, meneer Geluk,” groet die seun en vra dan ook sommer dadelik: “Waarom is jou naam Geluk, as jy so hartseer lyk?”

Geluk kyk droewig na die seun en antwoord dan: “Seun, veertig jaar gelede – voor jy nog gebore is – het ek al oor die meer gevaar met mense van heinde en verre. Ek was so gelukkig. My vriend, Hans die stuurman, het met my gevaar, dag en nag, deur storms en kalm weer, het ons gevaar.”

Die veerboot swyg ‘n oomblik, en dan vervolg hy: “Die ding het een dag vier jaar gelede gebeur. Ons moes passasiers na die ander kant van die meer neem. Soos jy self kan sien, is ek nie baie groot nie, maar ek kan heelwat passasiers aan boord laat kom. Daardie nag wou Hans nie na die anderkant uitvaar nie. Dit was vir die passasiers egter van lewensbelang dat hulle aan die oorkant van die meer moes kom.”

“Ons kon sien dat daar ‘n groot storm op pad is. Die groot donker wolke het laag en kwaad oor ons gehang en keer op keer het die donderwolke oor ons gebrul, met honger in hul blitsende oë. Tog het ons die passasiers veilig oor die meer gebring. Maar met ons terugkeer het die storm in felheid toegeneem. Die hemele was kwaad daardie aand. Ons het voortgebeur deur die stormwind en reën, maar die storm het ons meegesleur oor die onstuimige waters van die meer heen. Daar was niks wat ons kon doen nie. My vriend Hans is van my weggeruk – die veerboot gee ‘n snik – en hy is deur die storm verswelg.”

“Later in die oggendure het die storm begin bedaar. Ek het verwilderd en sonder einde na my vriend Hans die stuurman begin soek en nou na vier jaar is ek nog steeds op soek.”

“Nou is ek in rou en my lewe kleurloos. Ek het my beste vriend verloor. Hy was my stuurman. Eensaamheid is ‘n donker pad. Ek probeer my vriend nou net vind, sodat ons weer soos van ouds kan bond. Nou is ek al so moeg. Maar ek kan hom nêrens vind nie. Sal jy my van my soektog kan bevry?” vra die veerboot smekend vir die seun.

Die seun kyk met betraande oë na Geluk en sê dan met ‘n knop in die keel: “Ja, hartseer veerboot, ek kan probeer. Vier jaar is ‘n lang tyd alleen op die meer. Dalk is dit nou tyd dat jy hom vaarwel groet. In gedagte sal hy altyd by jou wees, so jy hoef nie meer te vrees: hy sal altyd naby jou wees. Onthou: sy hart is ook in rou.”

“Waarom sê jy so?” vra Geluk verbaas.

“Omdat ek dink hy jou die vier jaar nog die heeltyd dophou en hy hoop sekerlik dat jul goeie werk voortgesit sal word deur jou.”

“Maar hoe doen ek dit alleen, sonder my vriend aan die stuur?” vra Geluk.

“Ons sal aan ‘n plan moet dink,” sê die wyse seun. “Eers moet ons jou ‘n bietjie opknap, want jy sien wind en weer het jou heelwat verniel. So jy moet eers kalfater.”

“Baie dankie,” sê Geluk bly. “Dis die eerste maal in vier jaar dat ek weer geskrop en geverf sal word.”

Dit het die seun vyf dae gevat om Geluk weer mooi te kry. Eerste is hy weer helderrooi geverf en is sy naam weer in swart hoofletters op die boeg geverf: Geluk die Veerboot – sodat elkeen wat na hom kyk kan weet dat hy nie sommer net ‘n bootjie is nie, maar ‘n veerboot!

“Dankie, my vriend. Van nou af gaan ek my werk as veerboot voortsit. Hoe kan ek jou ooit bedank?” sê Geluk.

“Ek sê jou wat,” kom die seun met ‘n voorstel. “Oor ‘n verdere drie jaar kom stop jy weer hier en dan vaar ek eenslag saam met jou oor die meer,” sê die seun opgewonde.

Geluk, die veerboot, is al te in sy skik met die voorstel. “Dis reg so, dan sien ons mekaar oor drie jaar weer,” sê Geluk en begin stadig die meer in vaar.

“Pas jouself mooi op, Geluk,” roep die wyse seun hom agterna en stap weg die verte in.

“Dankie, ek sal dit die keer doen. Tot ons weer sien, seun,” sê Geluk opgewonde en vaar na die anderkant van die meer toe.

Dis al laat wanneer Geluk sy bestemming bereik waar stuurman Hans hom elke dag laat wag het op passasiers. Geluk is baie verbaas toe hy ‘n mensfiguur met ‘n lantern deur die donker sien aankom. Dan kan Geluk sy oë nie glo nie: dis meteens sy vriend Hans wat daar voor hom staan.

“Naand, Geluk. Ek sit nou al vier jaar lank vir jou en wag,” sê Hans. En met ‘n sagter stem sê hy dan: “Ek het gedink ek gaan jou nooit weer sien nie. Maar nou dat ek jou weer sien, is jy mooier as ooit. Hoe het dit gebeur?”

“Ja,” sê Geluk, “’n Seun het tot my redding gekom. Ek was so moeg en wou net opgee, maar die seun het my moed gegee – my mooi gemaak, my geïnspireer. Hy het gesê jy sou my steeds wou sien passasiers oor die meer neem. “Maar hoekom het jy nooit na my kom soek nie, Hans,” vra Geluk meteens hartseer en met teleurstelling. Maar die vraag en die emosie van die oomblik blyk oorbodig te wees, want twee manne kom haastig aangestap na die lanternlig wat in Hans die stuurman se hand is.

“Naand, manne, kan ons help?” vra Hans.

“Ja, ons moet aan die oorkant kom, asseblief,” sê die twee in ‘n koor.

Bly draai Geluk onmiddellik sywaarts, sodat die passasiers aan boord kan gaan. Hans die stuurman volg met sy lantern en gaan sit op sy gebruiklike plek agter die stuur.

Geluk vaar met ‘n lied in sy hart na die oorkant van die meer toe en vol vreugde om weer van diens te kan wees.

In die maande wat volg, kom Geluk agter dat net hy met sy vriend Hans kan praat en dat die passasiers onbewus van hom is. Tog is elke vaart veilig en bedank die passasiers vir Geluk, wanneer hulle by hul bestemmings aankom. Maar of die passasiers nou vir Hans bedank, of nie, die twee is gelukkig. So of Geluk se stuurman net in die gees by hom is, maak nie saak nie, maar elke keer gebeur dieselfde ding oor en oor: In die hawedorp lui die kerkklok vir passasiers om aan boord te gaan en mense kom van vroeg tot laat om saam met Geluk te vaar. Met ‘n ou grysaard aan die stuur van die veerboot en al is dit ook stormweer en wind, vaar hul steeds veilig na die oorkant.

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

  1. Verhaal vol omgee en bemoediging. Goed gedoen Magdaleen. 🌹

Lewer kommentaar

Leave a Reply