MisversTAND

In die nagtelike ure droom ek van berge en dale. Van wít berge vol knoppe en bulte wat soos gletsers kraak en afbreek. Van donker, diep valleie. Ek val …


In ‘n nagsweet ruk ek wakker met my wang wat seer in my kussing klop.

Bewerig soek my vingers die skakelaar van my bedliggie. Met my mond wyd oop, kyk ek in ‘n spieëltjie maar word nie veel wyser nie. Ek voel net die geklop en pyn. Voel soos die tand hier voor, regs.

Desperaat dink ek aan boererate: Vryf ‘n naeltjie al om die tand. Smeer tandepasta op. Probeer ‘n aspirienoplossing. Niks help nie en ek kan nie verder slaap nie. Die tand pyn erger as ek my kop neersit.

Voor sewe-uur bel ek my tandarts. Daar is ‘n boodskap op sy antwoordmasjien. Hy is met vakansie en los die kontaknommer van ‘n kollega wat hy aanbeveel.

Dis te vroeg, sy tel nie op nie. Sal maar by die werk probeer uitkom en vandaar bel.

“Ja,” vertel my kollega. “My vrou was nou onlangs by haar. Sy’s ‘n klein, fyn vroutjie … Vreeslik gaaf. Spesialiseer eintlik in kinders. Sy’t bietjie gesukkel om my vrou se tand te trek, later amper bo-op haar gesit.”

Klink na my soort tandarts. Klein en fyn en gaaf. En ek wil mos nie ‘n tand trek nie.

Ek ry sommer sonder om ‘n afspraak te maak en sy ís toe vreeslik gaaf. “Ek sal jou gou help voor my eerste afspraak!”

Ek moet mooi trap tussen al die Lego blokkies en kryte en opgestopte diertjies. Die tandartsstoel is in die vorm van ‘n krokodil.

Ek gaan lê in die maag van die gedierte. “Asseblief, die pyn is erg … net hier.”

“Maak jou mond mooi oop en sê aaah,” sê sy in haar graad-een-juffrou-stem.

Dan is dit daai ongemaklike oomblik wanneer jy nie weet of jy jou oë moet toemaak of die tandarts vol in die oë moet kyk nie. Ek kies die eerste opsie.

“Sal gou ‘n x-straaltjie moet neem. Kan niks met die blote oog bespeur nie.” Soos voorspel, klim sy toe amper bo-op my om dié taak te verrig.

Ek slaan my oë opwaarts. Na die hemel … Die hele plafon is ‘n skildery van vlieënde, biddende engele tussen wolkies. Hulle hande is na my uitgestrek … Kom hulle my haal?

Sy frons. “Mmmm, die tand lyk beslis nie lekker nie, maar ek gaan jou eerder na ‘n spesialis verwys. Kyk, die wortels van die tand eindig amper in jou kakebeen! Ek beskik nie oor die nodige instrumente nie.”

“Asseblief, verdoof net die pyn,” smeek ek. Sy spuit my in en skryf antibiotika voor. Gee my haar en die spesialis se fisieke kaartjies.

Skaamteloos vra sy my R400 vir die ondersoek en die antibiotika is nie op die koop toe nie. Maar nou ja, sug ek terwyl ek terug werk toe ry. My haasbekkie kind is oulik, maar op my ouderdom?

Twee weke gelede speel voor my af: My vingers in ‘n sakdoek stewig om my kind se tandjie. “Dink aan mooi dinge, jy weet, soos die see of blommetjies of die katte … “ raai ek haar aan. Ek wikkel die tand heen en weer. Nes die tandarts vroeër, sit ek al amper bo-op haar.

“Glup!”

Ek sluk nog my trane terwyl sy met haar tandlose glimlag die tand blink poets. Dit gaan in haar beste skoen onder die bed. “Dis so ‘n mooi tand, wonder hoeveel geldjies die Tandmuis vir my gaan los …”

Later so tussendeur skoonmaak, kinders bad en kos maak, voel ek bekommerd oor ons ou hond wat kort-kort hoes. “Kom Webster! Gaan bietjie buite en eet grassies …”

Met bedtyd agtuur is die kinders gretig om te gaan slaap. Die muis kom mos nie as jy wakker is nie.

Terug in die kombuis hoor ek gille uit hulle slaapkamer. “Mamma! Mamma, my tandjie is weg!” “Hoe kan dit net weg wees?” vra ek terwyl ons op ons knieë oral oor die mat rond voel.

Webster hoes weer … “Webster? Nee man,” prewel ek by myself.

In trane vou my dogtertjie haar hande saam: “Liewe Jesus, dankie vir my Pappa en Mamma en vir my sussie en die katte en Webster. Ek hét ‘n tandjie gehad, ek jok nie! Asseblief, sệ vir die Tandmuis om ‘n geldjie vir my te bring?”

Ek stel voor dat sy vir die muis ‘n briefie los. “Mamma is seker die muis sal verstaan,” verseker ek haar.

En ja, natuurlik het die tandmuis gekom en ‘n ekstra groot geldjie gelos. Dis nou die regte Tandmuis, nie Webster die Tandkabouter nie.

Maar om terug te kom na my storie. Nadat ek die antibiotika kursus voltooi het, is ek (langtand?) na die spesialis.

In ‘n spieëltjie wys ek hom die seer tand. Onder, voor aan die regterkant. Hy stel ondersoek in. Neem ‘n x-straal.

“Daar is niks fout met hierdie tand nie?” frons hy en neem nog x-strale van die regterkant van my mond. “Hier lê die probleem!” Hy tik op ‘n tand, bo aan die regterkant. “Ouch!”

“Ek verstaan nie?” “Ons noem dit ‘referred’ pyn. Dit gebeur soms dat pyn homself êrens anders manifesteer. Amper soos wanneer iemand ‘n hartaanval kry en slegs pyn in sy arm ervaar,” verduidelik hy.

Op pad uit besluit ek om die res van die middag af te vat. Gaan nie met my dooie mond terug werk toe nie. Sal goed van die middag gebruik maak en die kinders se slaapkamer ‘n deeglike skoonmaak gee terwyl hulle in die skool is.

Maar eerste dinge eerste. Ek verwyder die fisieke kaartjie met die krokodil tekening uit my beursie. Skeur dit op. Is dankbaar sy het nie die nodige instrumente gehad nie.

Dan begin die groot opruim. Die kinders gaar goed onder hulle bed op. ‘n Halwe pakkie taai, saamgekoekte lekkers. ‘n Leë aartappelskyfie sakkie. ‘n Pen wat nie meer skryf nie. ‘n Stukkende popkop? Alles gaan asblik toe. Webster is bly ek werk op die vloer. Hy sit getrou styf teen my.

Ek stofsuig die mat.

“Klik-klik-klik-klik…” raas die stofsuier. Ek skakel dit onmiddellik af. Ek en Webster snuffel deur die stofsakkie. Wonder of dit ‘n oorbel is wat die pyp ingesluk het.

Maar tussen die stof ontdek ons grootoog ‘n blink gepoetste tandjie.

Webster waai sy stert.

Hy kyk na my met sy liefdevolle … onskuldige oë.

“Jammer Webstertji … Kom! Daar’s droëwors in die yskas.”

tandarts

(foto: Conor Lawless)

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar