Oom Dawid Skilpad

Oom Rooi Dawid (of Dawid-skilpad) Beukes was aangestel om die jakkalse en ander ongediertes in die distrik uit te roei. Hy was die eerste amptelike ongediertejagter waarvan ek gehoor het. Hy het teen die duine by Melkhoutkraal gebly. Sy vel was gevoelig vir droë lug – daarom het hy naby die koel osoonbries wat deur die seewinde van die Indiese Oseaan in die aandskemer oor hom gespoel het, gewoon.

Die “skilpad”- bynaam se herkoms was ‘n geswore geheim soos waar jy witblits kon koop by oom Tooi van Eeden se pa of by Willem Louwrens. Inteendeel niemand het dit gewaag om hom op hierdie bynaam te noem nie, Soos ook met oom Pietie Wyn! So `n navraag sal selfs ‘n waardige ouderling se ratwerk sommer vroegmôre laat vasbrand.

Die rooi(-gelaat) laat ‘n mens besef dat oom Rooi Dawid en die oorle koning Dawid ook dit in gemeen had. Hulle het meer verskil as wat hulle ooreengestem het: koning Dawid was ‘n mooi jongman en oom Dawid nou nie juis meer jonk nie en nog minder mooi … Oom Dawid en Koning Dawid was tog meesters in eie reg deur die veldslae wat hulle met sukses gevoer het. Vir beide was dit slagvelde waar hulle hul slag kon wys. Die Koning wat sy tienduisende soldate verslaan het en oom Dawid ‘n paar kortkoppe agter hom – ongediertes.

So is hy, oom Dawid, per ongedierte betaal. Vir elke stert van ‘n ongedierte het hy sy beloning ontvang. Jy moes die ongediertes se gewoontes geken het om so suksesvol soos hy te wees, en daarom was hy redelik in aanvraag. Volgens die annale van die jakkalsklubs kon hy nie goed spel nie, as hy sy verslae geskryf het, maar spoorsny, vanghok te stel en skiet was sy forte. Maar wat my laat besef het dat hy ‘n besondere man was, was toe hy eendag vir my vertel het dat hy met sy lyndraad afgestap het, en niksvermoedend op ‘n ewe niksvermoedende kapel getrap het! “En toe oom Dawid?” het ek belangstellend gevra. “Sien dominee, ek het toe maar gedans!” “Gedans my oom?” “Ja, ek het die helsteen met my kaal voete getrap tot hy geelpens na bo gelê het.” “True as bob” het my ouma altyd gesê, hierdie ou mense was nie net die sout van die aarde nie, maar ook die wegbereiders vir die geslagte wat sou kom. En die voete? Met eelte en kepe wat reeds om die achielieshiel “kook”, kan hy selfs op die doringdraad trap sonder om dit te weet of te voel. Die voete het jare se kaalvoet stap en baie vuil lakens gekos.

Sommige mense het tien, ander vyf en ander weer net een talent gekry. Hulle wat daarmee gewoeker het, is oor meer aangestel. Of jy nou die jakkalse wat net duskant die duine op die skaaplammers teer, dood gemaak het of die vyand stert tussen die bene terug na sy hole toe verjaag het – maak nie saak nie want die oorwinning is joune!

Oom Dawid het my geleer om nie skaam te wees vir die eenvoud of die klein dingetjies nie. Koning Dawid sou al die eer ontvang het vir sy heldedade, maar tuis sou daar meer lammers in die kraal wees. Koning Dawid sou ryk buit gebring het, oom Dawid het gesorg dat daar skaapkop en afval; rugstringtjoppies, potgebraaide boud, lammersterte en -peertjies op die tafel was.

Oom Dawid was in die ouetehuis op die dorp opgeneem, maar sy vel wou die droë hitte nie hou nie en is terug na Melkhoutkraal waar hy met die koel seebries op sy rooi gesig die laaste keer kon asemhaal en sy kop in sy dop ingetrek het – salig, betyds en vol vrede. Die Koning weer, moes, voor hy sterf reëlings tref dat Joab en Simei as vergelding vir hul dade sou sterf. Nog tot op die einde is daar bloed op sy hande! Welgeluksalig is die wat rein van hart is, want hulle sal God sien!

skrywer: Emile de Villiers

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar