Verhoudinge blom met begrip

Heidelberg se arbeiderkontingent, hier verwys ek graag na die bruinmense, het deel geword van die boere en hul families op wie se plase hulle gewerk het. Ek onthou toe Dawid en Finix Pretorius se ma, tannie Maggie, op sterwe gelê het, dat van die werkerfamilies kom waak het, saam met haar. Ek onthou goed dat as ek as leraar daar gekom het, `n kring stoele om die bed gestaan het. Die aanwesiges het die kamer stil en met respek verlaat, sodat ek met die naby-familie kon gesels. Sommige van die arbeiders was al geslagte lank op die plaas.

Dan het jy die arbeiders gekry wat nie lank op `n plaas kon werk nie. Japie Coetzee het telkemale gesê hy wens dat die geleerdes navorsing wil doen oor die arbeiders se “sin”. Hy sal net uit die bloute sê: “Meneer my sin is op. Ek wil maar die einde van die maand trek.” Die vraag is: waar sit die “sin” van `n mens en hoe werk dit? By nadenke is dit ook so dat dit nie net die plaasarbeiders is wie se “sinne” ingee nie. So `n studie sal heel gepas wees.

Vroeër jare is ook op kerklike terrein mooi saamgewerk. As daar wyksbasare gehou word, het veel van die gebak uit die boer se kombuis gekom en is ook deur die boer teruggekoop. Een ding staan soos `n paal bo water – as die boere swaarkry as gevolg van droogtes of rampe, het die arbeiders ook in die swaar gedeel. Ek wonder of die deel in die goeie nie soms nagelaat is nie.

Dan was daar ook die karakters wat in die dorp se strate rondgedwaal het. Ek dink nou spesifiek aan ou Willem. As Willem iets in gehad het, het hy uit die Bybel begin praat. Ek onthou nog een Saterdagmidddag het my buurman, Tienie Barnard, vir Willem gevra om sy bakkie te was. Dit het reg onder my kamervenster gebeur. Ek het `n bietjie skuinsgelê het om my kragte op te bou vir die komende Sabbat. Ou Willem het die dag die Twaalf Artikels gevat en alles logies uiteengesit, kliphard vir homself. Hy het selfs die fynere onderskeidings van “glo in” en “glo aan” kon handhaaf! Ons kan net die Here dank dat daar mense was wat ook vir die arbeiders deeglik geskool het in die allerheiligste geloof.

In die tagtiger jare was daar van plaaslike owerhede se kant `n behoefte aan skakeling tussen die blankes en nie-blankes deur middel van die sogenaamde Verhoudingskomitees. So het ons dan saamgekom en na mekaar se stories geluister en mekaar beter probeer verstaan. Ek onthou een aand het ons saam vleis gebraai in Witsand. Mnr. Pieter Cyster, toe skoolhoof by een van die laerskole, het die storie vertel.

Hy is in Pniël gebore en kom uit ‘n geslag wat vrugteventers was. Self het hy onderwys gaan studeer en toe hy een vakansie by die huis was, het hy vir `n sitplek in een van die bakkies gevra, want hy het dit altyd so geniet om saam te gaan.

Die manne was nie baie gewillig nie, want hulle het gevoel dat Pieter met sy ge-meneersêery hul kanse swakker maak as hulle wat baas sê. Pieter het toe beloof dat hy so min as moontlik sal praat vir die voorreg om te mag saamgaan. Hulle het Pieter in ‘n kopklem vasgekry toe hulle vir hom gesê het dat hy altyd met hulle moet saamstem, veral tydens onderhandelinge. So is die voorwaardes vir Pieter se saamgaan neergelê.

Die bakkies kom toe by `n boer wat sakkies aartappels te koop aanbied. Die prys is vasgestel en die oplaai moet nou plaasvind. Iemand sê toe: “Pieter, jy is mos `n onderwyser. Tel jy die sakkies soos dit op die bakkie gepak word.” Pieter begin toe tel: “1, 2, 3, 4, 5…” Toe bottelnek die pakkery en die lyn gaan staan stil. Hy hoor toe die volgende: “Pieter, wat was die getal nou weer? Drie nè?” Pieter moes nou maar by drie begin en maak of hy niks weet van die eerste nommer 4 en 5 nie! Hierdie bottelnekke het gereeld plaasgevind, maar die pakker het geweet hoe om te pak sodat die orige sakkies nie van buite die bakkie sigbaar was nie! Na aanleiding hiervan het Pieter gesê: “`n Boer maak `n plan, maar ‘n kleurling het `n plan!”

Na sy aftrede uit die onderwys, is hy weer Pniël toe en is later selfs verkies tot burgemeester. Hy is ook daar oorlede. Wat ‘n voorreg is dit nie om sulke mense te geken het en nog te ken nie. Met sulke mense is ons toekoms veilig!

skrywer: Emile de Villiers

Lewer kommentaar

Leave a Reply