Dit is nou paradys! Swem, visvang, langs die see gaan loop, skulpvis oes van die banke af en kuier om die harde afgelope jaar te vergeet, en weer een te word met jou gees wat agtergeraak het!
Dit is die plek waar `n patatgat lekkernye vir die Kersete en Nuwejaarsfees optoor. Patatgate is kamers wat in die nabank uitgekap word en toegesluit word met ‘n deur om kwaaijongens uit te hou. Dan is daar die “lôngdrops”, wat nie verwar moet word met die patatgate nie. Die lôngdrops is die weg wat alle vlees moet gaan, hoe waardig en gesofistikeerd jy mag wees. Selfs die dominee wat Oujaarsaand kom preek, moet hier sy respekte kom betoon. Hierdie rondaweltjies is ook op die kim van die duinerug sigbaar, so aan die een kant van die stukkie hemel. As gevolg van die mooi uitsig oor die see, is die konvensie dat `n oop deur `n aanduiding is dat die huisie in gebruik is. Overgesetsynde is `n toe deur `n ope uitnodiging – jy verstaan?
Vroeër jare was daar twee belangrike dinge wat versigtig gehanteer moes word: drinkwater en wanneer wie swem. Oor die eerste kan ons in die Weskaap deesdae goed saampraat. Seker daarvandaan die liedjie se woorde: “Kinders moenie in die water mors nie want die oumense wil dit drink”. Die swemmery het ook sy tradisie gehad. Soggens was die see en die strand die vrouens, meisiekinders en die kleiner seuns se baljaarplek. Die meelsakke en ander materiale kon alles bedek, maar kon nie veel aan die verbeelding oorlaat as dit nat geword het nie. Daarom is besluit om soos goeie Calviniste swemure in te stel, en die ouderling moes daaroor by die eersvolgende kerkraadsvergadering verslag doen onder die rubriek: Openbare Sedes.
Na die middagete, met sy overdaad van aartappels, vleis en rys, het almal gaan rus. As die manne dan daar opstaan, is dit hulle tyd om die see te geniet alhoewel hulle met dieselfde probleem as die vroulike geslag (met die meelsakkies en ander materiale) moes worstel. Maar die manne was mos manne en sommiges het in hul adamsgewaad die Indiese Oseaan ingeplons! Dit was goed dat die lede van die vroulike geslag dan tuisgebly het en na die koffiegoed en aandete begin omsien het.
Slotte en deure het die kwaaijongens van die patatgate weggehou, maar die bondels klere van die ouer mans op die hoogwatermerk het hulle getrek soos motte na `n kers. Twee onderkake se plaatjies is omgeruil!
Oom Frans de Nikker het die swem vreeslik geniet. Dit was asof die kafstof van daardie jaar se oes dan eers afgespoel was. Die valstande is uitgehaal voor die swemmery want hy was bang dit val in die see. Hy kom toe niksvermoedend by sy bondeltjie en steek sy hand in om gou sy gebit in te sit…
Skielik dreun dit oor die strand: “Magtag ou Jan, ek moes beroerte gekry het van al die swem. Kyk hoe skeef hang my onderbek dan nou!”
bydrae: Emile de Villiers
