Rou Mevrou Dominee

Volgens die gemeente is Mevrou Dominee Brandt ‘n gemoedelike mens. Sondae groet sy elke lid met ‘n statige knik van haar bolla en dalk ‘n wuif van die hand as sy jou op die dorp gewaar. Haar dag begin met een van Maria se koppies tee, wat sy met getuite lippies slukkie-slukkie afsuig voor sy haar mond lipstif. Sy verkies die roos-teestel vir haar eerste koppie van die dag. Daarna wurm sy haarself in ‘n pastel Truworths-skepping in voor haar vingers, nou al minder skraal na al die jare, met breë goue ringe versier word. Haar gunsteling ring is die Marbie wat Dominee vir haar gekoop het by die laaste kunstefees op Potchefstroom.

Oppad dorp toe luister Mevrou Dominee graag RSG in haar wit-en-grys Mercedes, die AWB-model, wat sy as geskenk by manlief gekry het na die geboorte van hul eerste kleinkind. Sy is trots op die feit dat sy haar gesin so beplan het dat sy nog ‘n jong ouma kan wees. Wanneer die nuus skielik begin skakel sy die stasie oor. Sy glo dat politiek in ‘n man se gesprek hoort maar nie in die mond van ‘n dame nie.

Mevrou Dominee hou haar besig met vroue-dinge. As vooraanstaande lid van die gemeenskap en voorsitter van die Vroue-Landbouvereniging het sy baie verantwoordelikhede. Volgens haar verstaan mense nie aldag die uitdagings vir die moderne VLV-vrou nie. Wanneer sy haar motor voor die kerksaal tot stilstand bring besef sy net te goed dat die dames met pruilmonde skinder-gereed sit en wag op haar nuwe rangskikking wat op die agtersitplek pronk.

Die dames van die VLV vergader elke Donderdagoggend rondom die spierwit tafeldoeke van die saaltjie agter die kerk. Die week is die tafels swaar versier met krismisroos-rangskikkings deur Mevrou Naude, die dame wat soos ‘n kropduif tussen die tafels paradeer.

Smiddae, wanneer al die vergaderings verby is, glip onse Mevrou Dominee gou na die apteek vir haar "kalmeermiddels" (wat sy skelm drink, dis nie nodig vir Dominee Brandt om te weet van al die ‘kopseertjies’ in haar lewe nie) en haar spesiale vrouesalf. Daarna na die drankwinkel vir ‘n half-jack’kie jenewer. Moed vir die dag van môre.

Oppad huistoe verkyk Mevrou Dominee haar aan die kosmosse wat so wild langs die pad groei. Wanorde is nie iets waarmee sy haarself kan vereenselwig nie. Mevrou Dominee se huis en leefstyl is een van netheid en orde. Daarom is haar kinders op ‘n vroeë ouderdom in die kosskooltjie op die dorp gesit. Sy kan mos nie haar huis so goed oppas en skoon hou met kinders wat met taai kloutjies aan al wat ‘n ding is wil staan en vat nie. Vir haar kan jy altyd deur ‘n servetring trek. Sy wou nie soos die ander ma’s lyk nie, altyd slordig met ‘n walglike reuk wat rondom hulle sweef, iets tussen babakos en nuwe Barbies.

Haar manier van reëls en regulasies toepas het nog altyd die ding gedoen. Kinders smag na dissipline, daarom het sy summier elke Sondag na middagete lyfstraf uitgedeel, ingeval hulle iets stouts sou beplan vir die week wat voorlê. Nietemin is Mevrou Dominee se kinders, haar leefstyl en haar huis ten spyte, haar trots. Hulle is na die beste hoërskole in die land, en die drie het ‘n dokter en ‘n doktor opgelewer.

Die jongste was nog altyd ‘n teleurstelling. Sy wou nie ‘n derde kind gehad het nie, maar Dominee was in nood by die bank. As sy vrou het sy dit op haarself geneem om ‘n plan te maak om die bankbestuurder te oorreed. Sy het hom gaan sien voor sy by die apteker kon uitkom. Toe sy besef sy is in die "ander tyd", het sy koelkop gebly, vir Dominee ‘n "drankie" gemaak (ook maar goed sy kom so baie by die apteek) en hom kaal in die bed gaan sit.

Mevrou Dominee hou glad nie van Dominee se lyf nie, sy voel dat geen mens nodig het om gedwing te word om soveel velle te sien hang nie, sy het maar in die gastekamer geslaap.

Toe Dominee die oggend wakker word was sy reeds voor die spieëltafel besig om haarself te lipstif. Dit was nie moelik om hom te oortuig dat hulle besig was met die "bose van die lustigheid" nie. Hy val deesdae vir als, alhoewel hy baie geskok gelyk het dat hulle so iets sou doen. Sy vermoed lankal dat hy ‘n buite-egtelike verhouding het met die vet orrelliste, Frieda Kamper, maar Mevrou Dominee is nie in die minste gepla nie. Sy het ‘n groter doel voor oë (ja, groter as vet Frieda), en dit is om as die beste dame en staatmaker vir die VLV gesien te word. Frieda, met haar lang onderarmhare en konstante sweetreuk, is nie ‘n spikkel op die radar van die VLV nie. Sy is tien teen een nog nooit eens genader om by die groep van respektabele dames-wie-strewe-na-perfeksie aan te sluit nie.

By die huis aangekom besef onse Mevrou dat manlief se kos nog nie opgesit is nie, en dit trek al drie-uur se kant toe. Sy verkies om die kos teen vyfuur op die tafel te hê, sodat sy nie vir Maria oortyd hoef te betaal nie en sodat die huis voor ses weer perfek kan lyk. Mens weet nooit wie in die gemeente nou weer gaan opdaag met ‘n probleem nie, en sy kan nie bekostig dat ‘n gas (tydig of ontydig) haar huis in ‘n gemors betrap nie.

Voor slapenstyd vang ons vir Mevrou Dominee besig met die sewe-en-tagtigste swiep van die kam deur haar hare. Sy sit en dink aan al haar verantwoordelikhede vir môre. Haar dagboek is nogal vol. Sy sien die bankbestuurder weer elfuur, maar hy is gelukkig vinnig klaar. Sy sal Mevrou Naude se man twaalfuur moet inpas. Vir hom sal sy ekstra hard ry, Mevrou Naude wou mos vandag so rondpronk tussen die klomp krimisrose van haar. Onse Mevrou Dominee glimlag vir haarself in die spiëel, sy wonder of Mevrou Naude weet haar man is ‘n pre-ejakuleerder. Jy weet wat dit van ‘n vrou sê …

skrywer: Marteni Burger

Lewer kommentaar

Leave a Reply