Elke Desembervakansie het ons gesin gaan kamp. Soos ‘n staatskonvooi het ons die pad gevat met een ekstra groot Jurgens-karavaan (Noag se ark), die Land Rover, en my ma agterna in die ou groen Mercedes. Dit was amper meer soos om te trek as om te gaan kamp. Nie so erg dat ons die televisie saam gevat het nie, maar met soveel tente, stoele, toue, die Sputnik en ander bagasie, het ons meer gelyk soos ‘n nomadiese sigeunerfamilie. Die hoogtepunt van die "Groot Trek" was wanneer Pa my toegelaat het om die Land Rover te stuur tydens die laaste paar honderd meter, terwyl ek op sy skoot sit. Dit was harde werk wat baie konsentrasie gevat het vir ‘n klein laaitie en ek was behoorlik gesweet aan die einde van die lang rit tot by St. George’s-strand, net buite Port Elizabeth, waar ek groot geword het. Die moegheid was ongelukkig nie in my pa se oë genoeg rede om uit die tentopslaan-werk te kom nie. Na baie moeite in ‘n sterk wind met vlappende seile en verkeerde tentpenne, krom pale, lang toue en kort humeure, was die kamp nou "opgeslaan", want kamp sal ons kamp! Soos enige ander dag by die kamp, het ek sommer so met ‘n joggertjie aan gesit en speel in die grys sand by ons staanplek. Omtrent sewe jaar oud, met ‘n draadkar en ‘n grafie het ek die hele plek gemyn. Meteens gaan daar toe een groot gewoel in die enigste teerpad af – iets soos luidsprekers, lawaai en toeters en kinders wat gil. My eerste instink was: "Onluste!" Die tipe waarmee my oudste broer in die polisie my bang gemaak het as hy my met traangas om die huis gejaag het. Ek storm die tent binne om my ma te gaan vind vir beskutting, maar my pa keer my voor en sê: "Nee kyk man, dis Krismisvader agter op ‘n ou Chev-bakkie. Hy kom deel sweets en koeldrink uit!". Met die tweede kykslag sien ek toe die bakkie… gelaai met Krismisvader, bruin bokse, die kampopsigter en sy hond, Sally.
Op dié ouderdom het die idee van Krismisvader net een ding beteken, geskenke! Nou was daar nog die geleentheid van lekkergoed ook! Ek sleep en trek my pa tot waar tannies en ooms help om vir elke kind sweetspakkies uit te deel. Kinders stamp en stoot en daar is oral suckers en yslollies en tjips en guava-sappies en Tjompe en sulke harde sweets met suurgroen kleure. Dit was eintlik net bedoel vir rêrige klein kindertjies, maar ek het gesien hoe ‘n paar grootmanne hulle lywe klein hou om ook te kry. "Asseblief Oom, Dankie Oom!". Met hande vol papiere en soetgoed soek ek toe ‘n plek van rus waar ek alles kon sit en verorber.
Tussen almal vind ek toe sitplek langs Shaun. Hy was altyd vuil van buitespeel in die stofgrond tussen die kampeerplekke en die bosse. Hy was donker gebrand, kaalvoet en het al gevorderd gevloek vir ‘n negejarige. Hy het veral gevloek wanneer hy gesê het hoe graag hy ‘n draadkar soos myne wou hê. Hy sou my aan die bo-arm gryp en sê: "@#$%&, maar dis ‘n !@#$& draadkar hierdie. Kan ek hom ry?" Dit was "’n one-of-a-kind" -draadkar wat my pa self uit dik draad gebuig het terwyl hy vir maande bedlêend was na ‘n rugoperasie. My draadkar was gefit met ‘n unieke stuurmeganisme en breeknekaksie. Een oggend oppad terug van die strand af vang ek en my pa vir Shaun in die teerpad met my draadkar. "Ek het gedog ek bring hom af strand toe vir jou!" het hy gestotter en senuweeagtig op een plek getrippel. Na ‘n paar warm klappe van my pa af, het Shaun hom vir ‘n paar dae skaars gehou, en my draadkar uitgelos.
Dit was my namiddagtaak om die koffieketel te gaan volmaak by die kraan. Die ketel het net mooi agterop die draadkar gepas. Ek was besig om die kraan toe te draai toe ek iets hoor in die bos, "Pssst! Ek swop jou hierdie krismiswurms vir jou draadkar?". Shaun se gesig het tussen die blare verskyn. Tot vandag toe kan ek nie onthou of hy sproete gehad het en of hy net vuil was nie. "Watse wurms?" Dit was sulke kralerige, helderkleurige kriewelwurms in ‘n boks. Ek was net sewe jaar oud, maar wat sou die wurms nou kon doen om op te maak vir sonder my draadkar wees? Blykbaar as jy krismiswurms besit, lewer Krismisvader ekstra geskenke af. Sjure. Shaun se hand het vanuit die bos my bo-arm stewig vasgevat en hy het soos ‘n wafferse karsmous ernstig gesê: "Dink daaroor. Dis ‘n @#!%& goeie deal!" Ek het my pa van krismiswurms gaan vra. Diè bestaan wel – maar het niks met Krismis te doen gehad nie. "As jy stout was deur die jaar kry jy net ‘n blikkie ertjies by Krismisvader", is hoe my Pa gespot het.
Kersoggend was daar vir my ‘n paar verrassings. Maar al wat ek nou kan onthou was ‘n swart Comaro "remote control"- kar met ‘n draad wat terug gekom het tot by die controls. Daar was ook die vorming van so ‘n jeukerige, rooi knoppie op my bo-arm, ietwat gevoellig, maar ek het dit geïgnoreer terwyl ek Knight Rider gespeel het met my "nuwe" kar, die draadkar vergete.
Teen Nuwe Jaar was ons terug by die huis, my Comaro se batterye was pap en my draadkar was weg! Met trane wat oor my wange stroom het ek my pa laat belowe dat ons die volgende dag sou terugry om te gaan soek by ons kampplek. Die nuwe Comaro sou nooit weer my aandag trek nie. Daardie aand ,badtyd, het ek ontdek dat die knoppie op my arm nou ‘n wit, kloppende punt gevorm het, maar ek was vroeëer te onsteld oor my draadkar om dit op te let. Ma moes help. Terwyl sy die pitsweer uit my arm gewurg het, gewapen met Bettadene en Band-Aids, het sy verduidelik dat ek aan iets baie vuil moes gevat het en dìt is wat my die pitsweer gegee het. Tydens die koorsagtige kilimakskrete van my pitsweerpetalje, het ‘n gesig voor my verskyn. Shaun. Die vuilste ding van die vakansie. Vuil-Shaun, die draadkardief en sy krismiswurms.
Jare later onthou ek my gevoelens van wraak soos wat ek beplan het om die volgende Desembervakansie Vuil-Shaun se bakkies te gaan inslaan. Dit was eers met die voorbereiding vir die volgende "Groot Trek" dat ek die draadkar onder in een van die versteekte kaste in die karavaan gevind het, presies waar ek hom die vorige jaar tydens die oppak ingeprop het. Deur my eie toedoen het ek op ‘n hele jaar se speelgenot uitgemis.
Shaun het nooit weer by St. George’s gekamp nie en ek het nooit weer my draadkar iewers vergeet nie. Vir die res van my lewe sou ek nog vuil mense teëkom, maar nooit weer sal ek toelaat dat iemand my bo-arm vasgryp en my met n pitsweer los; of my draadkar probeer koop met krismiswurms nie.
skrywer: Conrad Muller
