Die sneeu val nog saggies oor die vallei toe Hendrik se motor tot ‘n stilstand kom. Hy klim stadig uit en kyk na die berge in die verte. Die mis hang oor die sneeu bedekte reusagtige rotse. Dit is waar alles begin het, al die pyn en lyding van twaalf maande.
Hy stap na die klein houthuisie langs die motor en klim die trappies tot by die deur. Die vensters is met wit sneeukolle gevlek.
Die huis binne is klein en het slegs twee kamers. Die groot kamer bestaan uit ‘n bed in die hoek en banke in die middel, dit is die slaapkamer en die kombuis met ‘n klein kuierkamer in die middel. Voor die banke is daar ‘n kaggel klaar vol met droë hout.
Die kleinkamer se ingang is agter in die teenoorgestelde hoek as die bed. In die kamer is daar ‘n klein bad.
Die lig verdwyn stadig agter die berge en Hendrik begin vuurmaak. Die kaggel is groot en behoort die hele aand te brand. Hendrik stap na die kombuis en maak vir hom koffie.
Buite het die sneeu weer swaar begin val en die motor het vinnig onder ‘n wit kombers van ys die nag deurgebring. Die aand was koud maar Hendrik was warm aangetrek. Hy het op die banke voor die vuur aan die slaap geraak.
Die wolwe het in die verte geroep en buite het die wind geskree. Hendrik het na ‘n stille slaap gedryf. Die kole lyk soos rooi gloeinde klippe in die donker huisie.
Hendrik maak sy oë oop. Die son is nog nie bo die berge nie. Buite het die wind bedaar en dit lyk asof dit dalk ‘n mooi dag kan wees. Hy steun homself van die bank af en maak die deur oop, ‘n mondvol koue oggend lug vloei deur sy are. Die stoep is wit gesneeu en die bome rondom die huis se takke hang laag met die swaar sneeu wat hulle vashou. Hendrik klim versigtig by die trappe af en stap ‘n ent aan. Hy draai om en kyk na die lug bo die berge wat agter die houthuisie uitkom. Op die horison sweef grys wolke. Groot donderwolke wat verby moet beweeg. Die dag sal net mooi wees tot laat middag dan sal daar ‘n donder storm uitbreek oor die vallei. Geen mens sal ‘n storm oorleef in die woud nie. Die aande behoort aan die wolwe en hulle is ooknie genadig nie.
Hendrik besluit om sy soektog later in die week te begin. Vandag sal hy die gewere skoonmaak. Teen laat oggend het die sneeu op die stoep weg gesmelt en Hendrik dra ‘n stoel uit. Die geweer is in sy een hand en lê oor sy skoot terwyl hy met die ander hand ‘n koppie stomende warm koffie vashou.
Dit voel vir hom soos gister wat hy hier was. Die dag toe dit gebeur het is verewig in sy gedagtes gebrandmerk. Hy dra ook ‘n litteteken as herinnering van die nagmerrie.
‘n Ligte wind steek op agter die berge en vul die vallei. Die donker wolke het nader geskyf. Die druppels was stadig alle tekens van sneeu weg. Hy wens sy gedagtes kon so maklik weg gewas word. Die gedagte het pyn in sy siel in gekloof.
Hendrik staar by die venster uit en die geluide van daardie dag speel oor in sy kop. Hy draai vinnig om en stap na die kaggel. Die vuur straal kalmerende hitte oor Hendrik en hy word weer rustig. Elke vlam lyk anders as die vorige een. Hy stap na die ketel en maak koffie, die aand gaan hy weer voor die kaggelvuur deurbring. Die stilte hier tussen die berge is net wat hy nodig het. Dit het hom ‘n jaar geneem om finaal die besluit te neem maar dit is wat hy moet doen. Die aand beweeg rustig verby en hy val weereens in ‘n diep slaap.
Buite is daar ‘n harde gil en Hendrik skrik wakker. Hy spring van die bank af en hardloop buite toe. Hy gly op die gladde trappe en val in die sneeu. Nog ‘n gil vul die lug en Hendrik lig homself op. Sy bloed word yskoud, voor hom is groot spore.
Hy volg die voetspore en kom by Elsa uit. Sy vrou lê in die sneeu met rooi vlekke rondom haar.
“Elsa,” skree Hendrik. Hy val by haar sy neer en lig haar in sy arms.
Sy knip haar oë en hy vee ‘n sneeuvlokkie van haar voorkop af.
“Hendrik,” worstel sy om asem.
Hy skrik wakker op die koue houtvloer. Dit was ‘n nagmerrie waarna hy van die bank af geval het. Dit was ‘n droom, ‘n nagmerrie.
Sweet loop van sy voorkop af. Hy sit regop en voel ‘n snaakse teenwoordigheid.
‘n Koue stilte omring hom soos ‘n swart kleed.
Die huisie lyk donkerder. In die hoek staan die bed soos ‘n stil spook, die bed waarop hulle geslaap het. Hy beskou die bed as onheilig en bly daarvan af weg.
Hy voel nogsteeds daardie angs gevoel. Dieselfde gevoel wat hy die vorige jaar gekry het.
Later val hy weer op die bank voor die warm kole neer. Sy gedagtes dryf weg na Elsa, Carel en alles wat in sy vorige lewe gebeur het. Alles wat gebeur het voordat hy die spore gesien het.
Die aand is helder en geen sneeu val nie. Die wind waai nie deur die bome nie en geen wolf skree na die maan nie. Alles is stil onder die duisende sterre in die lug rondom die maan.
Hendrik verdwyn in die natuur se stilte. Sy ooglede word swaar en die gloeiende kole word al hoe donkerder.
Vroeg na dagbreek klop iemand aan die deur. Hendrik se oë gan stadig oop.
Die persoon klop ‘n tweede keer.
Hy maak die deur oop en staan in verwondering. Die gesig lyk so bekend.
Iemand wat hy dalk geken het.
“Goeie dag,” sê die jongman.
“Kan ek jou help? Jy weet mense verdwaal baie in hierdie woud.”
Hendrik forseer ‘n glimlag.
“Ek ken my pad hier rond. Ek het saam met die beste tussen hierdie bome geloop.”
Die jong man se hare is netjies gekam en laat Hendrik aan homself dink toe hy so oud was.”
Hy skat die man agttien of naby daardie gebied. Hy het ‘n pak klere aan.
“Kan ek vir jou koffie aanbied?”
Die man stof sy mou af en kyk dan weer vir Hendrik.
“Jy moet my onthou?”
“Ekskuus, wat het jy gesê?” vra Hendrik verward.
“Dit is ek pa, Carel.”
Hendrik se hart wil by sy mond uitspring. Sy seun het uiteindelik terug gekom.
“Carel,” sê Hendrik terwyl hy sy seun omhels.
“Ek het jou so lank terug gesien.”
Carel glimlag. Hy is die presiese beeld van sy pa op daardie ouderdom.
“Wel, kom ons gaan drink daardie koffie.”
Hulle stap in huis toe en Hendrik maak vir hulle koffie. ‘n Koel wind verwelkom hulle op die stoep.
“Sit, ek sit altyd hier op die stoep as ek koffie drink. Die berge daar ander kant lyk altyd mooi as die wolke weswaarts beweeg.”
Hulle sit eers in stilte. Hendrik se binneste brand en na ‘n gesukkel besluit hy om sy seun te vra.
“Wat het gebeur daardie dag, Carel?”
“Moenie ou wonde oopkrap nie pa. kom ons vier eerder my verjaarsdag.”
Hendrik sit vorentoe, ” Jy bedoel jy verjaar vandag?”
“Ja, Pa. ek is agttien vandag.”
Hendrik staan op en beweeg vinnig by die deur van die huisie in.
Hy kom na ‘n rukkie terug met twee glase en ‘n bottel whiskey.
“Nou kan ons saam ‘n dop drink,” sê hy met ‘n breë glimlag.
“Ek het so lank gewag vir hierdie oomblik Pa.”
Hendrik skink vir hulle ‘n kwart glas whiskey en hy sit weer agteroor.
Die oggend verdwyn vinnig en die middagson gaan lê bo die westelike berge.
“Ek gaan gou badkamer toe.”
Carel staan op en stap in huis toe. Hendrik is lank terug so bly gewees. ‘n Deel van sy vreugde, van sy lewe is aan hom terug gegee.
Hy skink nog whiskey in altwee glase en wag vir Carel.
“Carel?” roep Hendrik by die deur in.
Carel is vir ‘n lang ruk al in die badkamer.
Daar is geen antwoord nie.
Hendrik stap in en klop aan die deur maar kry nogsteeds geen antwoord nie. Hendrik sluk hard, hy is bang. Hy is bang dat Carel dalk ‘n ongeluk gehad het.
Die deurknop is yskoud.
Hendrik maak die deur vinnig oop en kyk rond. Die badkamer is net soos dit was toe hy hier aan gekom het behalwe vir sy handdoek wat opgehang is langs die wasbak.
Sy lewe is weer so leeg soos dit was van daardie dag af.
Hy val op die grond neer en bars in trane uit. Die gedagte van Carel laat hom opstaan en hy gryp sy geweer. Een vir een voer hy die geweer koeëls.
Buite is die son al half pad agter die berge en wolke is besig om stadig die lug bo hom te oor te neem.
Die dag toe hy Carel verloor het speel oor in sy kop. Carel was een keer weggeneem maar die gedierte sal hom nie ‘n tweede keer wegneem nie. Vandag gaan hy doen wat hy ‘n jaar terug moes doen.
Hy trek ‘n warm baadjie aan, gryp die geweer en beweeg buitentoe.
“Jy sal nie vanaand in hierdie woud slaap nie, jy sal nie weer in my woud slaap nie,” skree Hendrik die bome in.
Die sneeu begin liggies val en Hendrik klim stadig van die trappe af. Sy oë is gespits op die plek waar alles begin het.
“Vanaand eindig my nagmerrie. Jy sal betaal vir ‘n jaar se leiding,” skree hy weer en hardloop tussen die bome in.
Sy kop draai stadig rond en hy haal swaar asem. Met elke tree begin daardie dag se gebeurtenis sterker deurkom.
Die stemme is so duidelik so helder.
Dit voel vir hom asof Elsa agter ‘n boom gaan uitstap en sy leiding eindig.
Die sneeu begin swaar val en ‘n sterk wind draai om die bome.
Hendrik sukkel om te beweeg maar hy moet. Carel het sy hulp nodig. Hierdie keer gaan hy vir Carel red en hulle kan ‘n lewe saam begin daar waar sneeu nêrens te sien is nie.
Reusagtige bome staan soos donker figure rondom hom en die yskoue wind omsingel hom.
Met elke tree verder in die woud in word die nag donkerder.
Die sneeu omhels hom al bo sy kuite en hy sukkel om te stap.
Die sneeu word weer wit. Die flits wat in sy baadjie se sak was lig die pad vorentoe.
Hy soek desperaat na Carel. Die spore wat hy ‘n jaar terug gesien het behoort hom na Carel te neem.
Daardie spore wat aan ‘n gedierte behoort, die gedierte wat sy lewe geëindig het.
“Carel, Carel,” roep Hendrik die nag in.
Hy stap in sirkels tussen deur die bome opsoek na rede.
Die gedierte moet hom ‘n rede gee hoekom hy hom van Carel beroof het ‘n tweede keer.
In sy gedagtes sien hy al hoe hy die gedierte plattrek. Hy wil die gedierte plattrek net soos die gedierte hom platgetrek het.
Sy vinger rus op die sneller en die geweer wys die rigting vorentoe aan.
Die aand word kouer en Hendrik se energie word min, maar hy beweeg nog steeds aan.
Hy is nou al sover hy kan nie opgee nie. Uit die donker kom Elsa en Carel se gesigte te voorskyn.
Meteens omsingel die woud se donker hom. Hy klap die flits teen die geweer kolf , maar kry geen lig nie.
Angs vloei deur hom soos hy vasgevang in die donker staan.
“Pa,” die stem kom nie van ver af nie.
“Carel,” roep Hendrik die koue in met hoop dat dit wel Carel is.
“Pa,” die stem is baie naby.
“Ek kom. Ek kom my seun,” roep Hendrik. Hy beweeg vinnig in die donker na Carel toe.
Iets hardloop teen hom vas en Hendrik val met ‘n harde slag. Sy geweer lê langs hom en hy tel dit vinnig op. Hy lê in stilte in die donker.
Hy strek sy hand uit oor die sneeu en tel die flits op wat langs hom geval het.
Hendrik maak sy oë toe en dan weer oop. Niks gebeur nie, hy lê nogsteeds in die donker.
Hendrik wil die flits in sy sak bêre maar die lig gaan weer aan. Bo oor hom staan die gedierte waarna hy soek.
Hy vries van skok en gluur die gedierte aan. Hy sal nooit die sny in die ondier se gesig vergeet nie.
Hulle oë ontmoet mekaar.
Die beer se swart oë ruk Hendrik terug in tyd, terug tot waar hy in die huisie sit.
Hy hoor ‘n gil en hardloop uit in ‘n grusame toneel vas.
Daar lê sy vrou op die grond met Carel langs haar.
Hy hardloop nader en sien die moordenaar so entjie weg.
‘n Beer met ‘n sny oor sy gesig.
Hendrik skree soos hy die rooi sneeu in sy hande vasklem. Hy hardloop terug huis toe om sy geweer te kry, maar is te laat. Elsa lê lewensloos daar in die sneeu met Carel se mussie in haar hande. Die beer het Carel weggeneem.
Hendrik val op sy knee neer langs Elsa.
“Kon jy hom nie gelos het nie. Elke pa het die reg om sy seun se aggtiende verjaarsdag saam te vier.
Hoekom het jy hom weggeneem?” skree Hendrik in die rigting van die spore.
Hy neem Elsa in sy arms en begin huil.
Die pyn dryf hom sodat hy opstaan en die beer agterna sit.
Sy sewentien-jarige seun het sy hulp nodig. Verder in die bos in kom hy op Carel se baadjie af, die bloedmerke het al klaar die moue gevlek.
Die sneeu val swaar en bedek die spore dieper in die woud. Hendrik sal nooit die dier opspoor nie. Hy beweeg terug huisie toe met Carel se baadjie in sy hande.
Sy hart klop vinnig soos hy weer in homself ingaan. Die beer staan nog vir ‘n ruk en staar na hom. Hendrik kan hom skiet maar hy doen nie, sy vinger lê magteloos op die sneller.. Iets is anders. Die beer kan hom verskeur as hy wil maar hy staan stil met sy oë vasgepen op Hendrik.
Hendrik lê daar in die koue sneeu, maar ‘n warmte kom oor hom. ‘n Warmte wat hy nie kan beskryf nie. ‘n Hartseer gevoel wat hy nie ken nie.
Dit is ‘n ander hartseer, een wat hy nie het nie. Hendrik besef dat dit van die beer af kom.
Die groot gedierte het nie kom verwoesting saai nie maar vrede kom soek by Hendrik.
Hulle kyk mekaar aan vir nog ‘n paar sekondes voor die beer omdraai en in die donkerte verdwyn.
Hendrik lê daar met trane in sy oë. Dit wat sy lewe vernietig het is die enigste ding wat hy nie kan vernietig nie.
Hy lig homself op en volg sy voetspore tot by die huis. Na ‘n lang slaap pak hy sy goed en klim in die motor.
Hy het uiteindelik vrede gemaak met wat gebeur het.
Die son skyn helder op sy skouers, en hy is reg om ‘n nuwe lewe te begin.
skrywer: Johann van der Walt
