Arrie voel die sand onder sy voete en besef regtig hoe lank terug hy by die see was. Die son het agter die golwe verdwyn en die strand is oorvloei met wit mis. Hy en sy pa stap na die naaste rots om te kyk of die vissermanne enige iets gevang het. Die lig van olie lampe en flitse wat die vissermanne gebruik skyn saggies deur die dik wit gordyn.
Arrie kyk op na sy pa. Hy sien ‘n man wat se plooie diep in sy gesig gegraveer is, dit maak hom hartseer om te sien hoe vinnig sy pa oud word. Sy pa staar na die liggies in die verte, hy het nog altyd ‘n stil passie vir visvang.
"Ek moes vir ons ‘n paar visstokke saam gebring het," sug hy, "ons kon lekker vis gevang het."
Arrie antwoord nie. Hy luister na die golwe wat breek langs hom.
"Dalk kon ons nog kabeljou gevang het," hang sy pa se stem bo die golwe.
"Nee, netnou vang pa weer penvisse soos verlede keer, en dan moet ons elke keer nadat pa inkatrol, nuwe hoeke aansit."
Beide lag. Deesdae sien hy sy pa min glimlag. Na die motor ongeluk waarin hy ‘n ma en sy pa ‘n vrou moes afstaan het die lewe moeiliker geraak. Hulle praat nie oor haar nie maar Arrie kan sien dat sy pa nog baie aan haar dink. Op haar verjaarsdag praat sy pa nie ‘n woord nie. Die pyn van haar dood verbrokkel sy siel meer en meer by die dag.
Hulle stap tot by die rots n kom tot ‘n stilstand. Arrie sien sy pa se oë is verder as die vissermanne gefokus. Sy gedagtes dryf saam met die water die diepsee in.
Daar was ‘n ruk stilte.
"Kom ons gaan kyk wat hulle gevang het."
Sy pa klim teen die rotse op. Arrie volg hom tot by die vissermanne. Die see het baie onstuimig geword en golwe bars teen die rotse met spore van wit skuim as dit weer terugtrek in die see in. Arrie kyk in ‘n emmer langs ‘n visserman wat aas aan sy hoek sit.
"Niks?" Vra hy die visserman.
"Vanaand is ‘n slegte aand," sy oë is op die katrol van die visstok gefokus. Hy haal ‘n pakkie sigarette uit sy hempsak en steek een aan.
"Die mis bring net ongeluk, gister is hier ‘n skool kabeljoue hier verby," gaan hy aan. Hy vat ‘n trek en trap die sigaret teen die rotse dood, "Ek gaan op die voorste rotse gaan staan."
Hy verlaat vir Arrie en verdwyn die mis in. Arrie draai om en sien sy pa het verdwyn, hy soek en sien sy pa by ‘n ander visserman. Die visserman beduie iets met sy linkerhand, sy visstok stewig in sy regterhand.
Arrie stap na sy pa toe en gaan staan langs hom sonder om ‘n woord te sê.
"Wanneer het jy die kabeljou gesien?"
"Gister," die visserman stap na sy emmer toe en haal ‘n klein vissie uit. Hy katrol een van die visstokke se lyn in en hak die vissie aan die hoek, "hier was duisende."
Hy swaai die lyn en die vissie verdwyn in die water.
"Dit was groot kabeljoue, maar min van hulle het gebyt."
Arrie staar na die golwe wat groei. Hulle beweeg stadig nadir en die voorste rotse verdwyn kort-kort onder swart seewater.
Die visserman katrol weer stadig in.
"Die water spook, visse wil glad nie meer buit nie," hy vryf sy voorkop, "dit is nou al dieselfde storie vir drie weke."
Bo in die lug sien Arrie ‘n paar helder kolletjies, die sterre is bakens in die lug net soos die flitse die vissermanne se skuiling verklap.
‘n Koue wind steek agter die rotse op, "die golwe het hom gebring," trek die visserman vir Arrie uit sy dromery weer terug na die rotse.
"Koue wind beteken die see wil ons nie meer hier hê nie."
Arrie se pa staar weer in die verte in, sy gedagtes is oor die golwe by ‘n plek waar hy nie nou kan wees nie. ‘n Plek waar sy vrou vir hom wag.
"Hy gaan my nie afsit nie, een of ander tyd sal ‘n vis moet byt," vul die visserman aan.
Die wind word sterker en reuk van seewater word varser. Arrie voel ongemaklik met die wind wat hom van die rotse in die swart see in wil jaag.
"Kom ons gaan terug," sy pa se troostende woorde het perfekte tyding.
Hulle stap teen die nat rotse af terug na die strand toe.
Sy pa gly en val teen die rots en verdwyn in die water.
"Pa," roep Arrie, sy hart klop vinnig en hy word duiselig.
Hy kyk desperaat rond maar sien niks. Sy pa het verdwyn. Hy beweeg vinnig nader aan die kant van die rotse en sien ‘n gespartel.
Arrie se bloed stol in sy are van skok. Sy pa is in die see.
Hy kyk verward rond maar die vissermanne het verdwyn in die mis.
Die wind waai woes deur die golwe is groot en sy pa is net ‘n klein kol in die reusagtige donker swembad. Na ‘n oomblik van twyfel trek Arrie sy skoene uit.
Hy duik in die yskoue water in en dit voel vir Arrie asof sy hart stop. Met elke beweging verder in die see in, speel sy lewe voor hom af.
Voor hom is sy pa wat stoei om bo die water te bly.
Arrie kyk langs hom en sien sy ma, sy glimlag en steek haar hand uit. Hy stop en steek sy hand na haar uit.
Die gekreun van sy pa fokus weer sy aandag op hom. Hy gryp hom om die bors en beweeg na die rotse. Sy pa se gespartel word stil en hy haal stadig asem.
‘n Golf kom vanuit die dieptes en skei Arrie van sy pa.
Die stroom trek vir Arrie verder in die see in terwyl sy pa op die strand uit spoel. Hy dryf weg in die diep see in en die geskreeu van sy pa wat hom roep word sagter totdat dit verdwyn teen die gefluit van die wind tussen die groot donker golwe. Sy kop verdwyn onder die water soos die donker dieptes hom stadig insluk.
skrywer: Johann van der Walt
