As ‘n woelige kind ten laaste omkap na ‘n woelige dag dan lyk die vreedsame ou gesiggie vir enige ouer soos die van ‘n engel wat ‘n mens net kan "opvreet", maar helaas as die dag breek in die ooste word almal wakker gemaak word deur dieselfde gesiggie, maar nou nie meer ‘n engelgesiggie nie maar die van ‘n duiweltjie wat jou net weer gaan trotseer tot die son sy oog in die weste knip.
Wat darem opvallend is, is dat om aan die slaap te raak byna sinoniem is met kerk of godsdiens! Wie het nie na ‘n laat-Saterdagaand lus gevoel om net om te kap in die kerk nie. En bewaar jou siel as jou oë eenkeer toegegaan het – dan is jou stryd net soveel meer! Dit is dan dat jy, maak nie saak wie die prediker is nie, die woorde rol soos water van die rug van ‘n eend terwyl jy alles op die spel plaas om te hoor en te verstaan.
Om in die kerk aan die slaap te raak, is alreeds in die Nuwe Testament opgeteken toe Eutiges, wie se naam toevallig "gelukkig" was onder ‘n preek van Paulus vaker geword het en toe hy aan die slaap raak hom te pletter geval het – drie verdiepings later. Paulus het hom opgewek en die seun is ligdag met die mense terug huis toe, na Paulus se marathon sessie. Die vraag was of sy naam profeties was van wat hy die betrokke aand sou ervaar het?
Om in die kerk aan die slaap te raak mag vele oorsake hê. Soos reeds vermeld, mag dit wees dat die die vorige aand se gesellighede sy tol eis. Dit kon ook wees dat ‘n mens vroegoggend medikasie moes gebruik en dan net soos jy rustig gaan sit, neem die gewraakde newe effekte oor, soos gewaarsku in die inligtingsbrosjure van die medikasie. Amper soos die "water-christinne" wat nie voel dat hulle heeltemal van die kerk moet wegbly want as die nood op sy hoogste is, mag "die plek van verligting" dalk net buite bereik wees, of over gesegd synde, kan die pildrinker die verleentheid ervaar om die buitegeboue te verpas!
Een van die mooiste opmerkings in die verband was toe verwys is na ‘n man wat Sondag na Sondag sy salige slapie in die kerk kom geniet het. Die leraar van die gemeente is gepols oor hierdie respeklose gees. Maar die leraar het die navraer se beoordeling van ‘n medegelowige gou in die kiem gesmoor toe hy vertel het dat daardie slaapende skone ‘n treindrywer van nering is, wat direk van sy nagskof die oggenddiens kom bywoon en dan ageer as Sondasgskoolsuperintendent en dan eers huis toe gaan vir ‘n welverdiende dagrus na ‘n veeleisende nagskof.
Dan is daar die pragtige gewoonte om huisgodsiens te hou, wat ook ‘n gewillige teelaarde vir ‘n salige dut onder die geklank van die teologie mag inhou. Ek
onthou hoe oupa ‘n hoofstuk of twee uit sy Bybel gelees het. Oupa se bid was nog nader aan die Hollandse taal as Afrikaans. Seker ‘n kerklike taal want het die ou broer nie gesê toe die Bybel in Afrikaans ingebruik geneem is in 1953, "Hoe dan nou, as Nederlands vir die Here Jesus goed genoeg was, hoekom die Bybel in Afrikaans vertaal?"
Daar was volop keel – en z-klanke wat dieselfde kalmerende invloed het op ‘n mens as die golwe van die see wat op die kus breek.
Oupa se gebede se klanke het jou weggevoer na ‘n wêreld van jou eie totdat ouma haar arm om jou sit, jou droomwêreld versteur en sê: "Toe boetie, dit is nou jou beurt." Skielik word die verantwoordelikheid om met die Here te praat aan jou oorgelaat en uitkomkans was daar nie.
In die Anglo-Boereoorog was die eise wat aan die boeresoldate gestel is baie groot. So moes die penkoppe snags die perde vasmaak en oppas. Hoe later die nag, hoe groter die sandkorrels van Klaas Vakie in die reeds rooi gevryfde oë Dan wil jou bene wat nie meer van staan weet nie. Jy moet rus, maar as jou geweer van jou weggeneem word, is dit vuurpeliton sake: slaap op wagdiens! Maar oë en bene smag na rus! Nou as die penkop op sy knieë staan, word sy geweer as ‘n derde been voor die ander twee geplant met die skouerband van die geweer om een van die bo-arms opgewen . So staan die jongman met kort beentjies soos ‘n driepootpot. As iemand gewaar word wat sy rondtes kom doen om te kyk of die wagte op hul poste is, staan die penkop met ‘n gedempte maar tog hoorbare stem: "Amen"
‘n Berig in, Die Matie, ‘n studentekoerant, het my opgeval: "Proffessor aangekla van openbare onsedelikheid". Hierdie ongehoorde stelling het my verder laat lees: "Mans- en damestudente slaap deurmekaar in sy uiters vervelige lesing oor ‘n netso ‘n vervelige vak naamlik Filosofiegeskiedenis voor die geboorte van Christus." Glo my ek het die vak op my bas deurgesleep – was dit dalk dat ek ook te diep geslaap het, in plaas van met ‘n gefokusde gemoed van die vak en die proffie te geleer het wat ek kon!
Ure slaap herwin elders as op my bed en buite my gewone slaaptyd loop die gevaar om leemtes in my lewensmondering te laat. Laat ons onsself oorhaal en werk want die nag kom nader. En onthou die opdrag: Ontwaak jy wat slaap en staan op uit die dood en Christus sal skyn oor jou lewe. HY sluimer of slaap nooit nie!
bydrae: Emile de Villiers
