deur Ferdi Wheeler
Die disko het weergalm van die musiek. Midde in die lawaai, was ek al goed warm,
waar ek daar by ‘n tafel gesit het. Ek was op whiskey die aand. Brian het skielik langs my opgeduik. Hy self was toe ook al goed op ‘n stasie. Hy het afgebuk en in my oor gepraat, want dit was al hoe jy jouself hoorbaar kon maak.
“Hou asseblief my sigarette vir my,” het hy gesê. Onseremonieel het hy ’n pakkie
Winstons in my hempsak gedruk en haastig weer vertrek. Ek wou vra hoekom, maar die oomblik toe hy sy kop terugtrek, was ‘n gesprek onmoontlik.
Oomblikke later het polisie oral rondgeswerm, op soek na dwelms. Dit was in die dae voor die wettiging van dagga. Terselfdertyd het ‘n baie ongekultiveerde lid van hulle die kragtige hi-fi-stel afgeskakel. Nou kon jy net die polisiebeamptes se geskreeu en die meestal dronk antwoorde van die klante hoor.
“Staan op!” ’n Fris polisieman het voor my gestaan en ek het regop gesukkel. Hy het om die tafel geloop en oor my uitgetroon. “Hande op!”
Ek het my hande opgesteek en hy het my oor my hele lyf begin klap. Die pakkie
Winstons het uit my hempsak geloer, maar hy het dit geïgnoreer.
“Goed!” het hy geskree en weggestap.
Ek het agteroor op my stoel geval. Die geskreeu het opgehou. ‘n Paar klante is geboei. Die klopjag was ‘n sukses. Die gearresteerdes was onverskillig, baie onverskillig, of net te gerook om die harde goed wat hulle misbruik het, weg te steek. Maar ek was onverstoord. Ek het nooit aan die harde goed geraak nie. Dit was whiskey en sigarette vir my. Brian se geluk was egter in, het ek gedink, want die junkie het tussen die tafels na my toe geslinger die oomblik toe die alles-is-veilig-sein gegee is. Hy het breed geglimlag, so ek het aangeneem dat hy die dagga wat ek geweet het hy besit, êrens weggegooi het. Hy het by my tafel gaan sit.
“Kan ek my sigarette terugkry?” het hy gevra.
Dit het my daaraan herinner dat ek sonder sigarette was. Ek het die pakkie uitgehaal en oopgemaak. Ek kon egter nie daarin slaag om ‘n sigaret met my vingerpunte in die disko-ligte uit te trek nie. Dit het my gedwing om die vol pakkie Winstons van nader te bekyk. Dit was net glad nie Winstons nie. In plaas daarvan het ek ry op ry netjies opgerolde dagga-zolle gesien.
Ek het besef wat gebeur het. Brian het van oorkant die tafel vir my gelag. Die blote
arrogansie van die man, boonop: die belediging van my integriteit, het my soos ‘n
perdeby gesteek. Oorweldig deur woede, het ek die pakkie tot pulp in my hand vergruis en toe het ek dit op die vloer laat val en verder onder my voete vermorsel en hy het skielik nie meer gelag nie.
