Die Jakkalssomer

Die Jakkalssomer is Dirk Jordaan se prosadebuut – ’n speurroman wat nie net lesers ademloos ’n donker doolhof van raaisels sal binnelei nie, maar ook worstel met hoogs aktuele Suid-Afrikaanse kwessies. Die roman is in murg en been Suid-Afrikaans, en wat gehalte betref, het dit blou bloed.

Vier lyke word in die Oos-Kaap opgespoor, en in die vlak graf is daar ook ’n AK47. Dit kan net apartheidsmoorde wees, maar daar is nêrens aanduidings of verslae wat lig kan werp op wie die slagoffers is nie. Vir die plaaslike polisie is dit een te veel – dit lyk na ’n saak vir kapt. De Villiers Pelser van die Nasionale Vervolgingsgesag, die polisie-eenheid gemoeid met hierdie soort misdade.

Div Pelser is ’n man wat op tipiese wyse deur die onlangs Suid-Afrikaanse geskiedenis gevorm is. Of dalk nie so tipies nie. Hy is ’n polisieman met ’n maatskaplike gewete. Sy deelname aan WVK-ondersoeke het sy oë oopgemaak vir ’n deel van die plaaslike werklikheid waarvan sy konserwatiewe agtergrond hom afgesluit het, en nou is hy ernstig toegewyd aan ’n taak wat hy sien as deel van die poging om die wonde van die verlede te heel. Maar die speurtog na die Oos-Kaapse moorde lei hom terug na die verlede op ’n wyse wat hy met sy edele voornemens nie kon voorsien nie. Dit is asof hy geblinddoek moet terugloop op die nuwe weg wat hy ingeslaan het om voel-voel die ware aard daarvan te ontdek. En hy loop hom vas in verdere moorde, in meer as een aanslag op sy eie lewe. Hy loop hom ook vas in ’n klomp ou jakkalse met nuwe pelse.

Die JakkalssomerEn dan lei sy speurtog hom na ANC-opleidingskampe elders in Afrika. Hy kom op die spoor van dié Jakkals, die kodenaam van een van die mees gevreesde bevelvoerders van MK, die ANC se destydse militêre vleuel. Hy worstel met die vermoede dat hierdie Jakkals se nuwe lêplek die hoofkwartier van die Suid-Afrikaanse polisie self is, en dat hy besig is om te grawe na die hoeksteen van die samelewing waarin hy nou met soveel oortuiging glo.

Uiteindelik lei die spoor na ’n verlate plaas noord van Pretoria. Dit is hier waar al die leidrade, al die vermoedens en al die hoop saamknoop tot ’n bloederige lus. Hier sak die son oor ’n godverlate landskap, en niemand kan sê of die bloedspoor dié van die speurder is nie, of dié van die Jakkals.

(Stuur jou resensies na bydraes by roekeloos.co.za)

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

Lewer kommentaar

Leave a Reply