Dié keer is die heldin ’n vrou. Lydia Stander. Luitenant Lydia Stander. Verbonde aan die Valke se afdeling vir prioriteitsmisdaad. Sy is toegewyd, gedrewe, slim en, ja, mooi ook. Nie dat enigeen van hierdie eienskappe dit vir haar maklik maak by die werk nie – dis ’n mannewêreld. Sy het egter ook deursettingsvermoë, en dit is deurslaggewend as sy te make kry met ‘n reeks moorde wat dalk iets gemeen het: ’n polisieman wat voor sy woonstel in Wonderboom-Suid geskiet is; die lyk van ’n gesiene sakeman wat in die parkeergarage van ’n kantoorkompleks gekry word; ’n staatsaanklaer wat op haar bloeddeurdrenkte mat gekry word …
Een van die spore lei Lydia en haar span na ’n kleinhoewe buite Pretoria. Die eienaar is ene Kalvyn Botha, ’n oudsoldaat wat nou ’n veiligheidskonsultant is. ’n Geheimsinnige man, wat boonop onverklaarbaar op die toneel verskyn wanneer iemand Lydia by haar huis voorlê.

Lydia se ontwikkelde intuïsie het al so dikwels oplossings gebied, maar waardeur word dit nou gevoed? Deur Kalvyn se ruwe charisma, deur haar huweliksprobleme, of deur haar herinneringe aan ’n plaasmoord waarin haar pa omgekom het?
Arendsnes word 15 September 2012 vrygestel.
Arendsnes / deur Dirk Jordaan — Tafelberg, 15 September 2012. — 256 p. ; sagteband. — ISBN 9780624055327 :
Taal: Afrikaans
Sleutelwoorde: Arendsnes, Dirk Jordaan