C. Louis Leipoldt

C. Louis Leipoldt maak sy debuut in Afrikaans met die indrukwekkende Oom Gert vertel en ander Gedigte (1911). Altesaam het hy meer as 40 oorspronklike werke uitgegee, romans, kortverhale, kinderboeke, dramas en digbundels. Twee jaar na sy dood verskyn sy eerste Engelse bundel, The Ballad of Dick King and other Poems (1949).

Die veeltalige Christiaan Frederik Louis Leipoldt is op 28 Desember 1880 op Worcester gebore. Sy pa, ‘n predikant op Clanwilliam, stuur hom nooit skool toe nie, maar onderrig hom tuis. Hy begin werk as verslaggewer, studeer medies in Londen, was ‘n skooldokter, skoolinspekteur, toe weer joernalis en vanaf 1925 pediater in Kaapstad. In 1939 word hy die voltydse sekretaris van die Suid-Afrikaanse Geneeskundige Vereniging. Interessant van die verskeie poste wat Leipoldt beklee het, was een wat hy ses maande beklee het in 1908. Dit was aan boord van die Amerikaanse mediamagnaat Joseph Pulitzer se jag.

C. Louis Leipoldt was nooit getroud nie, maar het wel verskeie jong mans bygestaan in hul opvoeding. In sy boek Die Reisiger bied Karel Schoeman ‘n sielkundige ontleding van Leipoldt wat dit duidelik stel dat hy gay was.

Leipoldt is op 12 April 1947 oorlede. Sy graf is in die Pakhuispas naby Clanwilliam.

Lieriese Tussen-In

Wys my die plek waar ons saam gestaan het
Eens toe jy myne was –
Vroeër voor jou liefde vir my getaan het,
Vroeër toe jy myne was.
Kyk, dis dieselfde; die silwer see
Blink in die sonskyn soos lang verlee
Dit eenmaal geblink het, ‘n welkomsgroet
Vir ons liefde wat uithou en alles vergoed.

Wys my die plek waar ons saamgekniel het
Eens toe jy myne was –
Vroeër toe een siel vir ons saam besiel het
Vroeër toe jy myne was.
Kyk, dis dieselfde; die hemel blou
Lag, soos voorheen, op my en op jou;
Dit skitter nog altyd ‘n welkomsgroet
Vir ons liefde wat uithou en alles vergoed.

C. Louis Leipoldt
C. Louis Leipoldt
Wys my die plek waar ons saamgeloop het
Eens toe jy myne was –
Vroeër toe ons harte so veel gehoop het,
Vroeër toe jy myne was.
Kyk, dis dieselfde; net jy nie. Vra,
Wie van ons twee moet die meeste dra?
Jy wat vergeet het – of ek wat boet
Vir my liefde wat uithou en alles vergoed?

Eis van die vonk wat spartel
Sy goud as sieraad trug,
Vra van die vis wat dartel
‘n Jammerwoord of sug,

Of laat die branders van die see
‘n Antwoord op jou vrae gee,
Eerdat jy van my eis ek moet
Wat lank verby is weer vergoed.

Goud in die skemer skitter
Die sterreskaar se prag;
Die see blink wit, en witter,
Die maan se dowwe krag.
En net so in die skemerswart
Van jou vergeetheid blink my hart,
Want witter as die witste see
Is wat jou liefde vir my gee.

Keur van die beste
Wat lewe besit,
Gun ek vir jou wat vir my van jou beste
Ryklik gegee het vir dit.

Ver in die weste
Verwissel die kleur
Van die neerdalende son in die weste
Ryklik met wierook vergeur.

Liefde die sterkste,
Wat liefde kan eis
Leen ek vir jou dat die swakste die sterkste
Liefdevol plig kan bewys.

Sê nie die leste
Is luttel en klein;
Min was die eerste maar meer is die leste
Ryklik deur liefde verfyn.

Keur van die beste
Wat liefde kan win,
Stort ek vir jou want ek weet dat die beste
Is dat jou siel my bemin.

Sonstrale op die nat veldsand,
Veelkleur’ge surings op die land,
Gousblomme oor die gras versprei,
En wateruintjies op die vlei,
Suurknolle in die bot; die bome
Nog blaarloos en die bergkloof-strome
Nog troebel met die modderklei,
En bo ‘n blou lug uitgesprei;
So kom die lente in sy tyd
Na winterwit se wanhoops-stryd
Teen wat die son se goud kan bring
Om van sy wintermag te dwing
Die rus vir wat in kiem en saad
Verskuil lê voor die dageraad,
Van lewe aanbreek en die land
Versier en elke leegte en rand
In weelde bloei, met wierook spog
Die geure van die lewesvog
Wat deur wat lewe liefhet loop
Eer môredou die weiland doop,
En uit sy koue wintersroes
Die wêreld wakker skud vir oes.

As ouderdom, wat alles breek, sy volmag oor my kry,
Dan gaan ek na die Hantam waar ek hoort
En dra demoedig wat ‘n mens van ouderdom moet ly,
Voordat hy aanklop by die hemelspoort.
Dit lyk vir my die Hantam is die vredevolste plek
Hieronder op die wêreld wat ons het
Hoe lank die somersdae daar hul warm goud sonskyn rek,
Hoe jubel daar die vinke in hul pret,
Hoe skitter daar die voorjaarsprag in kleure honderdtal,
Hoe verf die najaarberge met sy bruin,
En in die koue winterstyd hoe raas die waterval
En blink kapok op elke berg se kruin.
Die wilde bok wat voel sy krag verminder as hy stry
Soek rustyd in die skuiltes van sy soort.
As ouderdom, wat alles breek, ‘n houvas oor my kry,
Dan vlug ek na die Hantam waar ek hoort.

Daar kom ‘n weerklank oor die veld,
‘n Weeklank van die see,
Van branders wat die rotse streel,
En met die wit strandskulpe speel
En skuim vir aalmoes gee.

Daar kom ‘n weerklank oor die veld,
‘n Weeklank van ‘n stad
Waar mense huil en mense haat
En met mekaar oor mense praat
En mense roem beklad.

Daar kom ‘n weerklank oor die veld,
‘n Weeklank van die kloof,
Waar teen die krans die klimop bloei
En met die wilde haakdoorn stoei
Vir groeikans vir sy loof.

Daar kom ‘n weerklank oor die veld,
‘n Weeklank van die vlei
Waar tussen ruigte-gras die riet
Sy halme na die sonstraal skiet
Om van die goud te kry.

Daar kom ‘n weerklank oor die veld,
‘n Weeklank van ‘n hart,
Wat voorjaar deurgelewe het
En somer met sy sonskyn pret,
En nou vergaan van smart.
Kom gee vir my polfyntjie,
Dit maak nie saak nie wat,
Die kleinste, nietigste lyntjie
Waardeer ek as ‘n skat.
Koop waar jy wil, by smouse,
Penswinkeltjies, of wat
Jy kry in Krismis-kouse –
Dit bly vir my ‘n skat.
Net iets wat jy as joue
Betrag het, gee my dit,
Ek neem dit aan as goue
Gesteente tot besit.
En as jy eenmaal sterwe
Dan pryk dit nog by my,
Gegee meer as ge-erwe,
As liefdeblyk gekry.

Sielsanker as die vloedgolf van vertwyfling oor die strand
Van kennis bruis en alles met hom trek,
‘n Houvas in die weemoudsuur as deur die hele land
Die duisternis van dorre nagte strek,
‘n Goue gryp vir iedereen, ‘n steun deur dik en dun;
‘n Aalmoes vir die arme van gemoed;
‘n Lawedrank vir flouval as die wêreld ons misgun
En met ‘n hoonklank wat ons doen vergoed;
Dis die ingebore sterkte, dis die oorgeërfde krag
Om deur duisternis die sterre te sien blink,
Om die halfgebore klagwoord te onsenu met ‘n lag,
En met skerts die wyn en mirre op te drink.

Sokrates, as jy hier was, nou vandag
Met jou nare ou gevreet,
Gierig om van ons te weet
Wat elkeen van ons beskou
As sy menseplig, en trou
Aan jou roeping om oor wat ons dink te lag,
Sou jy nog die moed besit,
Of die neiging altemit,
Om te sê wat jy wil sê
Sonder om eers uit te lê
Vir die stommerikke wat op woorde wag?

Veld-akwarelle

Torkwaas, topaas en toermalyn,
En wisselende aleksandryn;
Sardoniks wit gestreep; porfiet,
En malwa-groen blink malagiet;
Die heuning-geel van krysopraas;
Die diepsee-pêrel met sy waas
Van môre-grys eer dou-voor-dag
Die daglig in die ooste lag;
Safier wat blouer bloukleur gee
As die diep dieptes van die see;
Die bloedrooi skyn van ‘n robyn
Nuut-uitgegrawe uit die myn,
En peridot en amatis
Waarin twee tinte om voorrang twis.

Rotskuns bo C. Louis Leipoldt se graf
Rotskuns bo C. Louis Leipoldt se graf
Gevul met volop groen en nuwe geel,
Gebore uit die milde voorjaarsreën,
Wat nagte lang sy vrugbaar nat verleen
Aan dood-verdroogde vlak en veld wat steel
Van wat daar is, om daarmee weer te deel
Met blommesaad wat vir die winter ween,
Lê uitgestrek ‘n nuwe wêreld. Teen
Die berg se uitgekerfde kranse speel
Die kleurvernis van nuwe môremis,
En oor die werf stroom wierook uit die vlei,
Die ruik van grond wat nat is, en van sand
Wat gister nog die jagtende akkerdis
Geskroei het met sy hitte nou verby,
En van die lewe wat opbruis oor die land.

Rooskleurige suurknolle
Met feselryk blombolle
Geplant in swart vet grond;
Die loof geil groen; dik rond
Die lang sterk stengels; mooi
Beblom met rose-rooi.
‘n Lewendige kleur-juweel,
Waaragter, vèraf, geel
Bo wit sand, tussen vers
Blaar swangere kraal en kers
En vygiebosse pryk
Die nuwe gousblomryk.
En verder waar die vlei
Nog troos van water kry,
Groei tussen ruigtegras
Sandlelies bleek soos was,
En grys trompetters stort
Hul stofmeel, opgeskort
Vir skemerure, as die kwynende maan
Vertoef bo vèraf bulte voor hy ondergaan.

‘n Kronkelkloof waarin die kreupelhout –
Daars lepelboom en stinkhout en rooi-els
En wilde oliewenbos, al jare oud,
En kippersol wat met die wind gesels
Hoog bo die laer maats wat minder groen
En minder sierlik uitsteek bo die grys –
Wag tot die late môrestraal hom soen
En tot die son sy gloei-goud sterkte wys.
‘n Bok-getrapte voetpad loop daardeur,
Beskadu met boomvarings waar dit draai
Om wind-verweerde sandsteen wat verkleur
Met koggelmanderkleure, wat verraai
Die oes van lewe wat die klipskeur hou,
Sodra die môre blink sy holtes vind
En bo nog sonder wolke strek die blou
En die dooi blare bewe met die wind.

Laai af, Gratis, Oom Gert vertel en ander gedigte >> (ePub formaat / DRM Free)

Laai af, Gratis, Polfyntjies vir die proe >> (ePDF formaat / DRM Free)

Lees, Gratis, Oom Gert vertel en ander gedigte >>

Bronne:

Deloof, J. 1978. Literaire dissidentie in Zuid-Afrika. Ons Erfdeel 21. Rekkem/Raamsdonksveer:Stichting Ons Erfdeel.

Leipoldt, CL. 1911. Oom Gert vertel en ander gedigte. Roekeloos.co.za. http://www.roekeloos.co.za/gedigte/oom-gert-vertel-en-ander-gedigte/ (gebruik op 27 November 2012).

Leipoldt, CL. 1929. Lieriese Tussen-In & Veld-akwarelle. Die Nuwe Brandwag, Tydskrif vir Kuns en Lettere. Pretoria:J.H. De Bussy.

Pienaar, EC. 1919. Taal en poësie van die tweede Afrikaanse taalbeweging. Pretoria/Amsterdam/Kaapstad: J.H. de Bussy/ Hollandsch-Afrikaansche Uitgevers-Maatschappij v/h J. Dusseau & Co.

Schoeman, K. 1980. Die Reisiger. Kaapstad:Human & Rousseau.

Wikipedia. The free encyclopedia. 2012. Sv ‘C. Louis Leipoldt’. http://en.wikipedia.org/wiki/C._Louis_Leipoldt (gebruik op 27 November 2012).

Sluit aan by die Gesprek

1 Kommentaar

Lewer kommentaar

Lewer kommentaar