Petronel Malan, die bekroonde Suid-Afrikaanse pianis wat reeds geruime tyd ‘n hoogs susksevolle internasionale konsertloopbaan handhaaf, sal op Sondag 4 Augustus haar eerste buiging maak by die Hugo Konsertreeks in Kaapstad.
Aanvullend tot haar optredes in die Wes-Kaap, wat reeds bekend gemaak is, sal hierdie solo-klavieruitvoering in die hoogs indrukwekkende Hugo Lambrechts Ouditorium gehoor kan word.
Malan, wat bekend is vir haar unieke programsamestellings, sal werke van Haydn, Schumann, Liszt, asook opwindende Ignaz Friedman transkripsies van Bach, Mozart en Beethoven komposisies speel.
Petronel Malan maak deel uit van ‘n handjievol top Suid-Afriaanse pianiste wat plaaslik en in die buiteland reeds groot naam gemaak het. Aangesien haar besige konsertloopbaan nie gereelde besoeke aan Suid-Afrika moontlik maak nie, word haar optredes in Suid-Afrika altyd met groot afwagting en deur uitverkoopte konsertsale ontvang.
Sy het op sesjarige ouderdom met formele klavieronderrig begin en reeds as tiener alle moontlike vername musiekpryse in Suid-Afrika verower. In die buiteland het sy vinnig sukses behaal en is dienooreenkomstig al in van die wêreld se voorste konsertsale gehoor o.a Carnegie Recital Hall in New York en Salle Cortot in Parys.
Malan neem eksklusief vir die Hänssler Classic etiket op en het reeds groot erkenning vir haar Transfigured opnames ontvang. Haar Transfigured Bach: The Complete Bach Transcriptions of Bartok, Lipatti and Friedman is in 2004 benoem vir drie Grammy®-toekennings, insluitende “Beste Instrumentale Solo Album”. Haar tweede opname Transfigured Mozart, is in 2006 uitgereik en ook met groot lof besing. Sy het verder ook Transfigured Beethoven en Transfigured Tchaikovsky uitgereik.

