Schalk Schoombie het al verlede November aan Samoerai begin skryf – geïnspireer deur sy eie ervaringe en waarnemings en natuurlik deur wat rondom hom in die wêreld gebeur. Sy eerste bron van inspirasie was ‘n (wit) boemelaar waarby hy daagliks verbyry. ” ‘n Intimiderende en beledigende man.”
Selfs die kere wat hy ‘n “God bless you” ingooi vir ‘n aalmoes wat hy ontvang, is daar iets in sy stemtoon wat Schoombie laat wonder oor sy bedoeling. “Hy bring al my ambivalente gevoelens oor boemelaars na vore. Die morele ambivalensie van wat jou te doen staan as jy deur ‘n boemelaar genader word.” En as Christen wonder hy of hy eendag in die hiernamaals met ‘n ry boemelaars gekonfronteer gaan word.
Met tieners in die huis – veral ‘n tienerseun – is hy ook bewus van die dikwels skokkende taalgebruik onder jong mense. “Toe ek die eerste weergawe van my teks vir ‘n onderwyser in Pretoria gegee het om te lees, was die reaksie: die taalgebruik is in die kol, en dit is dikwels erger.”
Voorts weet hy ook van die rekenaarspeletjies waarmee tieners hulle dikwels besig hou, waarvan sommige besonder gewelddadig is. “In een van die speletjies moet jy mense afpers, hulle vermoor, jou oral inwurm, soos ‘n besetene rondjaag, selfs mense se kele afsny om vordering te maak.”
As ouer glo hy jy kan die wêreld nie weghou van jou kinders nie. Hy stem saam dat rolprente en speletjies nie mense kan vorm nie, dat dit die taak is van die ouers om dit te doen – iets waarmee hy hom aktief bemoei – maar hy glo wel dat dit ‘n invloed het. Dat dit emosies kan rig. “Ek het al self gesien hoe meer aggressief my kind voorkom ná hy ‘n gewelddadige speletjie gespeel het.”
Hy voeg by dat sy seun ‘n “amazing kind” is, maar dat jy in voeling moet bly met waarmee tieners hulle besig hou. “Maar ouers het dikwels ‘n blinde kol oor hul kinders. Wat te verstane is, want jy wil net die beste vir jou kind hê.”
En dan was daar natuurlik die voorval van die Waterkloof-vier, wat toe hy sy eerste weergawe geskryf het nie so in die nuus was nie en wat hy doelbewus nie “ge-google” het nie. “Ek moet dit benadruk dat Samoerai my eie, fiktiewe storie is. Daar is rakelingse ooreenkomste – sodat die een se pa ook ‘n skoolhoof is – maar daar is baie meer verskille. My boemelaar het byvoorbeeld ‘n naam en ‘n geskiedenis. Hy is nie net hierdie naamlose mens nie.”
Die laaste paar weke het hy in verstomming die hoofopskrifte van koerante gelees – van die seun wat met ‘n masker en ‘n samoerai-swaard by ‘n skool ‘n mede-leerling doodgemaak het, en ander beseer het. “My mond het oopgehang. Ek het dadelik vir Ilse (van Hemert, die regisseur) ‘n SMS gestuur. Die voorblad het gelyk soos ons plakkaat. Die masker. Die swaard. Die lewe boots nie net kuns na nie, dit is erger as fiksie.” Met die Waterkloof-vier wat die laaste paar maande in die nuus was met hul appèlsake en die uiteindelike begin van hul vonnisuitdiening, het Schoombie getrou berigte vir die spelers uitgeknip om dit by die eerste repetisie vir hulle te gee. En so ook met die swaardvoorval. “Ek hoef vir hulle niks te verduidelik nie. Die navorsing is vir hulle gedoen.”
Een van die kommentare van ‘n kriminoloog op die swaardvoorval het hom veral opgeval: dat tienerouers sit met ‘n tydbom in hulle voorhuis. Met die gewelddadige tye waarin ons leef, was Schoombie bedag daarop om nie die geweld op die verhoog uit te beeld nie. Volgens hom lê daar wel daarvan in die taalgebruik, maar nie om te skok nie, maar as deel van bewusmaking.
En hoewel Samoerai op donker kwessies fokus, is dit vir hom belangrik dat Samoerai nie sonder hoop – en selfs humor – is nie. “Uiteindelik gaan dit oor menseverhoudings en die moontlikheid van genesing en vergifnis.”
* Hoewel die ouderdomsperk aandui dat dit net vir volwassenes geskik is, sê Schoombie dit sal ‘n sinvolle ervaring wees vir ouers (of ‘n onderwyser) en hul ouer tienerkinders (of leerlinge, maar nie jonger as 16 jaar nie) om saam na Samoerai te gaan kyk en ná die tyd indringend daaroor te praat. Daar is vyf vertonings van Samoerai en ‘n teatergesprek oor die drama wat by die Boeke-oase aangebied word.
* Die Aardklop Nasionale Kunstefees word van 30 September tot 4 Oktober in Potchefstroom aangebied.
(Stuur enige resensies of bydraes na bydraes by roekeloos.co.za)
