Dis vier jaar na die fenomenale sukses van Op die vrou af wat in 2004 by die KKNK geopen het voordat dit vir die volgende twee jaar landswyd getoer het en deur meer as 80 000 mense gesien is.
En in dié vier jaar het André le Roux verder in die psige van die man en die vrou rondgekrap en uitgevind dat hulle so ongelooflik mooi bymekaar pas ten spyte van hulself. Want as hulle op vakansie gaan, pak hy ‘n kortbroek, t-hemp plakkies terwyl haar vier tasse onder andere haar tiekiehake en swart nommertjie wegsteek, is dinge aan die brand. As hy sê ‘Ek gaan winkel toe, het jy iets nodig?’ en sy antwoord: ‘Moet ek ‘n lysie maak?’ dan weet ons hier kom sports. Wat van die 10 goed wat mens nooit NOOIT vir ‘n vrou mag sê nie, en wat bedoel sy rerig as sy sê sy wil net ‘ietsie kleins’ vir kersfees hê? Hoe moes hy weet ‘ietsie kleins’ is nie ‘n handgrootte stofsuier nie. En as hulle Valentynsdag vier by ‘n restaurant en die tangomusiek begin speel, dan kom dinge mooi op dreef.
Pedro Kruger is terug as Hy: die man, die euwel, die verwer, die onwillige inkopie-metgesel. Deur die afgelope paar jaar het Pedro ‘n reputasie opgebou as een van die mees veelsydige vermaaklikheidskunstenaars wat tans in Afrikaans werk. Sy uiteenlopende projekte as akteur sluit in: Festen, Die Tafel, Die vrou wat haar man gekook het, Lyf en Anna se Engel. As regisseur en spelleier was hy die afgelope paar jaar ook betrokke by feestreffers soos Die Hangkas Haas, Shirley Valentyn en Die Swart Bank. As spankaptein op Lirkiekeraai kuier hy weekliks in die volk se sitkamers en André le Roux se dialoog pas Pedro soos ‘n handskoen.
Sy word gespeel deur die ewe talentvolle Jolette Odendaal, eertydse lid van Cutt Glas en die ster van wegholsuksesproduksies soos JillJol 1 en 2, Big Band Blast, Imbumba en Houtkruis.
(Stuur enige resensies of bydraes na bydraes by roekeloos.co.za)