Boerpot 3

Die aand is perfek. Die restaurant het ‘n vioolspeler gekry soos ek gevra het. Jani sê die heeltyd dat dit nie nodig was vir so moerse okkasie nie. Sy sou tevrede gewees het met die Spur. Daar is kerse opgesteek en ons albei geniet eers ‘n lekker glasie wyn. Ek laat ook nie langer op my wag nie en neem haar hand. Ek probeer so diep as moontlik in haar oë kyk. Dit is net om haar te laat besef sy het nie ‘n keuse nie en moet ja sê. Ek weet ook nie regtig hoekom nie, maar ek vra haar in Engels om met my te trou. Seker maar om dit meer gesofistikeerd te laat klink. Sy lyk verbaas. Voordat sy iets kan sê, wys ek aan haar dat sy eers moet stil wees sodat ek die ring aan haar vinger kan steek. Toe sy die ring sien verander die verbasing in haar oë na die van ekstase. Sy sê sy is jammer maar sy is nie te koop is nie. Daar gaan al my verwagtinge.

Sy meld dat dit nie vir haar oor die ring of geld gaan nie. Sy sê dat sy bang is om ja te sê want dan sal ek en ander mense dalk dink sy het net ja gesê vir geld en nie vir liefde nie. Ek vra toe aan haar wanneer sal sy dan kan ja sê, aangesien ek altyd ‘n miljoener sal wees.

Sy glimlag meteens en se dat sy my maar net wou wys dat geld nie alles is nie en dat haar antwoord ja is. Nou is ek so, so bly. Ek gee toe vir die kelner ‘n teken wat ons afgespreek het sodat die sanger kan inkom. ‘n Groot ronde omie kom die kamer binne. Hy sing die liedjie Love changes everything. Ek en Jani dans stadig op die musiek.

Die musiek is klaar en ons geniet die vyfgang maaltyd. Terwyl ons eet vra ek haar om haar werk te bedank. Sy sê dat sy nog nie so iets impulsiefs kan doen voordat ons wettiglik getroud is nie. Maar sy belowe my dat sy dit sal doen wanneer ons getroud is.

Ek besluit ook sommer om alles makliker te maak en stel ‘n persoonlike assistent aan. Sy naam is Rubin. Ek moet sê die mannetjie weet nogal wat hy doen. Maar vir die salaris wat ek hom moet betaal, verwag ek dit van hom. Binne ‘n japtrap het hy die huis wat ek gekoop het op my naam en alles. Ek reël ook met hom dat hy die huis moet meubeleer. Ek moet sê nou verstaan ek hoekom my ouers altyd sê die lewe is duur. Daar is al klaar ‘n redelike hap uit my geld uit. Ek sal nou moet begin briek aandraai. Ek het darem al die groot geldvreters klaar gekoop, so nou is die geld net myne.

Dit is nie eers twee weke nadat ek en Jani verloof is nie dat ons trou. Natuurlik het ek weer uitgehaal vir die troue. Sy is die mooiste bruid wat daar ooit was. Ek moet sê ek het ook nie te sleg gelyk nadat ek aan my neus laat sny het nie. Never mind hoe ons lyk, ons is baie gellukkig. Nou kan sy haar werk as sekretaresse bedank en haar toegewyde aandag op my en ons toekomstige kinders vestig. Vir ons wittebrood sal ons sommer maar ‘n vinnge toer in vele ander lande gaan maak. Oor die reëlings hoef ek nie te worry nie, my PA doen alles…. Sjoe kan die lewe nog lekkerder word?

Die wittebrood is verby en ons is tuis. Jani sê dat haar verlof amper klaar is en ons maar die laaste paar dae saam moet geniet. Toe ek dit hoor is ek ontsteld. Ek trap haar sommer dan en daar uit omdat sy my bedrieg het. Sy het dan gesê sy sou bedank. Sy raak dinge kwyt dat sy nie soos ‘n leeglêer kan rondlê by die huis nie. Haar werk is glo vir haar belangrik omdat dit haar met haar studies help. Donnerswil, moenie vir my sê sy is nog steeds van plan om haar studies klaar te maak nie. Ek het genoeg geld. Sy moet nie haar tyd op sulke onbenullige dinge mors nie. Sy moet eerder haar lewe geniet.

Na ons uitval voel ek effens sleg. Ek besef dat sy seker nie soos ‘n nikswerd wil voel nie. Dit moet seker vir haar sleg voel met ‘n man aan haar sy wat al die aandag trek. Om op te maak sal ek maar vir haar ‘n nuwe motor en klere en goed koop. Dit behoort die ding te doen.

Daardie aand maak ons toe op en ek sê vir haar sy kan doen wat haar gelukkig maak. Ek sê toe vir haar dat ek wil kinders hê en dat sy in elk geval binnekort sal moet ophou werk. Sy verstaan my punt ook in en daar is weer vrede in die huis. Ons liefdesband voel nou sommer sterker as voorheen. Ek dink toe dat dit sommer ‘n goeie tyd is om nou weer vir ‘n baba te probeer. Toe ons by die restaurant uitstap word ek weer oorval met fortuinsoekers. As dit so aangaan sal ek ‘n lyfwag ook moet aanstel. By die motor besef ek ook die ander probleem. Dit is vir my vreeslik ongerieflik om elke keer die deur vir haar oop te maak en dan self te moet bestuur. ‘n Bestuurder behoort ook gou aangestel te word. My volgende mylpaal sal wees om die lewe so gemaklik as moontlik vir ons te maak.

1 | 2 | 3 | 4 | 5 | 6 | 7 | 8 | 9 | Slot

skrywer: Charl Viljoen

Charl Viljoen
Charl Viljoen

Lewer kommentaar

Leave a Reply