Op soek na Generaal Mannetjies Mentz

Vanjaar het reeds ´n ryk oes opwindende nuwe Afrikaanse romans opgelewer, maar as mens wil praat van die groot pryswenner, staan Christoffel Coetzee se Op soek na Generaal Mannetjies Mentz kop en skouers bo die ander uit.

Dié debuutwerk van die 52-jarige Windhoeker, uitgegee deur Queillerie Uitgewers, is reeds bekroon as wenner in die derde Sanlam/De Kat Groot Romanwedstryd, en dit spog boonop met die M-Net- en Eugène Maraisprys. Die boek is reeds in sy derde druk, hoewel dit maar eers in April verskyn het en dit verkoop steeds soos soetkoek.

Op soek na Generaal Mannetjies Mentz het die Anglo-Boereoorlog as agtergrond. Dit word beskryf as ´n kragtige verhaal van menslike leed, hartstog en wreedheid. Daar word sonder voorkeur gefokus op die optrede van ´n geheimsinnige Boeregeneraal en sy groep in die Vrystaat wat wraak neem op Engelse wat Boere gevange neem, maar ook op die Boere wat te maklik oorgee.

Hierdie groep se paaie kruis met ´n groep Boerevroue wat in die berge teen die oorlog skuil saam met ´n groep Witsies (half-Soeto, half-Griekwa). Die strydpunt is ´n jong Engelse luitenant wat onder hulle sorg gelaat word, op wie een van die vroue verlief raak, maar wat dan ook slagoffer van die Wraakkommando word.

Aan die einde volg die verhaal Generaal Mannetjies Mentz na die oorlog op vlug saam met sy kommando deur Mosambiek en per boot via Dar-es-Salaam tot in Duits-Oos-Afrika. Uiteindelik vestig die Generaal, nou ´n ou man, hom onder die berg Kilimandjaro saam met sy kamerade en Masai-groepe.

Die beoordelaars in die wedstryde waar Op soek na Generaal Mannetjies Mentz skoonskip gemaak het, was gaande oor die roman:
“Elkeen van die karakters, van die geheimsinnige generaal Mentz, Ounooi, Blink Frans, veral ook die Ma-figuur en aunt Soph, word oortuigend gekarakteriseer en ontwikkel sodat daar aan die einde van die verhaal werklik met spyt van hulle afskeid geneem word…
Op soek na generaal Mannetjies Mentz is ´n meesleurende verhaal wat die leser moeilik sal neersit.”
“Daar is nog nie vantevore in Afrikaans so geskryf oor die sogenaamde Wraakkommando’s nie. ´n Magnum opus.”
“Die roman beïndruk. Die tema is uiters tersaaklik: ´n verlede wat aan brutaliteit gekoppel is, die skuld wat daaraan kleef, die herinnering daaraan wat tot vandag by ons spook, die noodsaak om verantwoording te doen.”
“Hy skep ´n totaal nuwe beeld van die Anglo-Boereoorlog. Meesleurend en oorspronklik.”

Lewer kommentaar

Leave a Reply