Boerpot 4

Vandag moet ek tyd aan al die aanstellings spandeer. Ek het toe sommer besluit om vir Martin as my betuurder aan te stel. Na dit sal ek vir Jani by die werk verras met ‘n lekkergoedmandjie. By Jani se werk is sy bly om my te sien. Sy lyk nie so beïndruk met die gesenke nie. Sy vra my hoekom ek alweer so baie geld gemors het. Vrouens weet ook nie wat hulle wil hê nie. Ek dog hulle like dit om bederf te word. Stank vir dank! Ek vertel haar toe dat ek vir Martin en ‘n klomp van my tjommies oorgenooi het vir ‘n kuieraksie Saterdagaand. Jani is weer nie beïndruk nie. Sy is ook maar veeleisend. Nou sal ek seker weer moet geld uithaal om op te maak. En om te dink sy is die een wat se ek moet nie geld mors nie. Sy dwing my dan om geld te mors.

Dit is Saterdagaand en my hele spul tjommies is by ons. Vir ‘n slag het Jani ‘n paar van haar vriendinne ook genooi. Ek dink sy kom nou in die ding van ryk wees. Sy show ook maar lekker af met al haar ringe en dinge. Ons kuier almal lekker toe dit my byval dat dit te ‘n gewone geleentheid is. Ek wil he as die gaste huis toe gaan dat hulle moet se dat hulle dit vreeslik geniet het en dat mens kan sien ons is welgesteld. Ek stel toe voor dat ons almal weer Casino toe gaan. Almal sê dat hulle nie nou geld het nie en dat ons dit maar op ‘n volgende geleentheid moet doen. Natuurlik wil ek weer wys dat ek in die geld rol en sê toe dat ek vir almal sal betaal. Jani kyk my weer met snaakse oë aan. Martin sê dat dit regtig nie nodig is om vir hom te betaal nie. Ek sê hy moet worry nie. Ek gee werklik nie om, om hulle te treat vir die aand nie. Nog voor ek dit klaar kon sê, bedank hy my al vir my goedhartigheid. Almal wil egter eers huis toe gaan om ander klere aan te trek. Ek insist dat hulle sommer klere by my en Jani leen. Nou is my vrou weer woedend. Ek sien hoe sy sê dat dit in die hak is, maar sy sal dit like om op daardie stadium my kop te verbrysel. Ons het mos vragte nuwe klere. Van hulle is nog nooit eers aangetrek nie.

Ek moet sê ek en Jani het moerse goeie smaak wanneer dit by klere en skoene kom. Die spulletjie lyk amper nie meer soos gewone mense nie. Ek kon my nie indink dat Cindy (een van Jani se vriendinne) so goed kan lyk nie. Van die lelike eendjie na die mooiste swaan. Martin lyk ook nie meer soos ‘n welsynsgeval nie. Ek sê toe sommer onmiddellik dat hulle maar die klere kan hou wat hulle nou aan het. Jani roep my eenkant toe. Nou kom hier groot moles. Sy vra my hoe ek haar klere sommer net so kan weggee. Sy se ook dat sy gedink het ek het dit uit liefde vir haar gekoop. Ek probeer haar weer gerusstel deur te sê ek sal haar more weer neem om te gaan klere koop. Sy verduidelik aan my dat more Sondag is en sy weer ‘n bietjie by n kerk wil uitkom. Sy sê ook dat ons nie te lank kan uitbly vanaand nie.

By die Casino kom ou herinneringe terug. Ek onthou hoe dit nog gevoel het om ‘n ordinary mens te wees. Na ons duisende rande se chips gekoop het beweeg ons na die masjiene se kant toe. My gelukkige masjien is darem weer oop. Ek wou nog daar gaan sit toe Martin my van die plek afjaag. Ook maar ‘n windgat bliksem as jy my vra. Ek gaan kry toe n ander oop masjien. Vannaand is my luck weer uit of dit is dalk die masjien waarop ek nou speel. Jani het darem ‘n paar rand gewen. Sy is ook maar dom. Hoekom speel sy dit nie weer nie. Sy kan haar geld verdubbel. Martin kom na so ruk by my aan en se dat ek maar my masjien kan terugneem. Ek verduidelik toe aan hom dat hy nie reg dobbel nie. Ek koop vir almal nog chips en ek gaan saam met Martin om hom te wys hoe hierdie storie werk. Ek verduidelik toe aan hom dat die masjien eers ‘n wen sal uitgooi as jy oor ‘n sekere bedrag daar speel. Hy lag vir my en vra waar ek dit nogal gahoor het. Hy meld sommer dat hy nie kan glo dat ek daarvoor geval het nie. Ek los hom toe en gaan na ‘n paar van die ander vriende toe. Cindy is bly want sy het al ‘n duisend rand gewen. Ek wil net lag want dit is kleingeld. Jani sê dat dit nou laat is en dat ons eerder moet huis toe gaan. Sy sê ook dat ons te veel geld geld mors. Wat worry sy daaroor, dis mos nie haar geld nie. Ek sal haar maar vanaand haar guns gee en vir almal se dis tyd om huis toe te gaan. Almal belowe my dat hulle my op een of ander stadium in hulle lewe sal terug betaal. Ek weet mos dat dit maar net die manier is hoe ‘n Afrikaner grootgemaak is. Belowe die wêreld net uit etiket.

Oppad huis toe stel George voor dat ons ‘n ietsie moet gaan drink by ‘n pub of iets. Ek sê toe dadelik nee, aangesien dit nie in my klas sal val om by ‘n pub te sit en suip nie. Jani is bly dat ek my man kan staan. By die huis besluit die groep vriende om te gaan jol. Martin en Cindy maak nogal ‘n goeie paartjie uit. Almal meld dat hulle hul wengeld moet gaan vier. Ek wens hulle toe ‘n goeie tydjie toe en sê dat ek en Jani maar sal inkruip vir kerk. Toe sy nie kyk nie maak ek my beursie se oorblywende note in Martin se hande leeg. Ek sê toe dat hy my so oor ‘n uurtjie by die huis moet oplaai. Ek wil net eers seker maak Jani slaap al.

1 | 2 | 3 | 4 | 5 | 6 | 7 | 8 | 9 | Slot

skrywer: Charl Viljoen

Charl Viljoen
Charl Viljoen

Lewer kommentaar

Leave a Reply