The Lizzie McGuire Movie

Met: Hillary Duff
Regisseur: Jim Fall

Groot rolprentmaatskappye is nie skaam om oppervlakkige blonde idole te skep, die grooste klomp snert aan kinders te verkoop en my nog boonop die aapstuipe te gee nie. Alles in die naam van geld.

The Lizzie McGuire Movie is ´n kloon van ´n gewilde Disney televisiereeks met dieselfde naam. Dit handel oor die oppervlakkige karakter Lizzie McGuire (Hillary Duff) en haar avonture.

Wat sal ´n kind uit die fliek leer? Wanneer die einde genadiglik aanbreek weet ons die volgende:
Oppervlakkige blonde poptertjies is die coolste.
Al kultuur wat ons nodig het is die verbruikerskultuur, met ´n skerp fokus op klere natuurlik.
Dit is reg om vir jou ouers en volwasse persone te lieg.
Jy hoef glad nie lojaal te wees teenoor jou vriende nie.

The Lizzie McGuire Movie is een groot advertensie vir Hillary Duff. Ek is seker sy sal binnekort op vele kinders se mure pryk en ook verskriklik baie geld maak. Sodra haar sterretjie kwyn sal die volgende Me Dof haar opwagting maak en ek sal iets nuuts hê om oor gal te braak. So draai die wiel. Ek hoop net die kleinvoete sien hierdie voorbeelde vir wat hulle is.

2/10

Lewer kommentaar

Leave a Reply