Dit is oggend en iemand klop my wakker. Toe ek wakker skrik dink ek by myself dat dit die wonderlikste droom was … Ek glo dit nie. Dit was nie ‘n droom nie. Wel dit is defnitief nie my kamer of bed nie. Die persoon by die deur sê dat ek maar my ontbyt kan bestel.
Na ontbyt sit ek om ‘n tafel saam met ‘n klomp mans in pakke. Te deftig as jy my vra. Al my gegewens word geneem en die nodige reëlings word getref. Daar word aan my gevra of ek sal omgee as hulle my naam aan die pers bekend maak. Ek sê toe dat dit werklik nie aan my saak maak nie. Toe moes ek vir ‘n fotosessie en onderhoude gaan. By die fotosessies moes ek ‘n yslike tjek met my naam daarop vashou. Ek voel so belangrik. Ek het nog nie eers my ouers in kennis gestel nie. Hopelik sal hulle nou op my kan trots wees. Dit is mos net Morne voor en Morne agter. Al sy studies kan hom nie nou help om soveel geld soos ek te hê nie.
Na al die onderhoude en reëlings keer ek uiteindlik huiswaarts. By die huis wou ek nog my ouers van alles vertel, maar Yojani het al klaar geskinder. Almal is so bly vir my part. Ek kom agter dat almal vreeslik vriendelik is. Ek besef hoekom. Hulle wil almal net my geld hê. Hierdie fortuintjie moet my ‘n leeftyd hou, so hulle kan maar vergeet van gunste en gawes. Al die bohaai word egter na ‘n ruk stiller en ek kry bietjie tyd om helder oor alles na te dink. Ek sal darem nie Maandag hoef te werk nie. Of nee, ek sal gaan werk, net om my baas se gesigsuitdrukking te sien wanneer ek hom sy fortuin vertel, en dan sal ek bedank. Vir nou sal ek maar eers aan iets “high society” dink wat ek vandag kan doen. Ek kan nog niks doen nie. Daai man van die casino het gese my geld sal eers vroeg volgende week uitbetaal.
So gaan die naweek ook toe nou verby. Dit is Maandag en ek is sowaar oppad werk toe. Dit alles net vir ‘n stukkie persoonlike genot. By die werk sloer ek aspris en doen alles opsetlik verkeerd. Dit werk, my baas is boos vir my. Toe hy my uitrap, lag ek aspris hard in sy gesig. Hy word rooi van woede. Ek neem die pak papierwerk wat hy so oor te kere gegaan het, en strooi dit op die vloer neer. Dit lyk nou of hy my wil bliksem. So staan ek toe op en sê in ‘n normale stemtoon dat ek bedank. Hy is stom geslaan. Ek het mos geweet dat ek genot hieruit sal put. Sy gesig is nie net meer rooi nie, maar dit verander van kleur. Toe ek by die werk uitstap, weet ek dat daar vir my ‘n wonderlike lewe voorlê. Hulle sê geld kan nie alles koop nie, maar ek weet nie so mooi nie. Dit maak darem alles soveel makliker. Toe ek in die dorp se straat afloop, kom ek agter dat mense my aangluur. ‘n Vrou stop by my en vra of ek nie vir haar wil geld gee nie, want haar dogtertjie lê glo op haar sterfbed. Ek kon skaars iets sê toe vra iemand anders my weer geld vir een of ander welsynsaak. Mense vra my hoe dit voel om ‘n miljoener te wees ens. Hoe weet hulle dit dan? Ek probeer almal vermy en stap verder. Toe ek deur n winkel se venster kyk sien ek myself mooi in ‘n voorblad foto van ‘n koerant. Ek besef nou eers hoekom mense hulself onbekend wil hou. Behalwe vir die episode met my baas was vandag ‘n ramp. Almal wou net vrae vra of geld he. Om die waarheid te sê, ek kan nog nie werklik al die vrae beantwoord nie, want ek wag self nog vir die geld.
Dit is Donderdag en my geld is in my bankrekening. Vandag gaan ek en Jani shop. Ek het haar so ietwat afgeskeep van na die boerpot aand. Vandag koop ek vir haar soveel ringe as wat haar hartjie begeer. Sommer al vroeg oggend tref ek reëlings met n eiendomsagent om my eiendomme te gaan wys. Nou wil ek nog net vir my ‘n motor ook kry wat by my status pas. Ek kan darem nie met ‘n Opel Corsa gesien word nie. Na die gedoente is ek en Yojani uit om te gaan shop. Ek koop vir ons albei vragte klere en juwele. Ek wou juis ‘n nuwe selfoon gehad het. Toe koop ek sommer drie van die bestes. Jani smile van oor tot oor nadat ek vir haar ‘n string ringe gekoop het. Dit is jammer alles neem net so ontsettend lank. Ek het gedink as jy baie geld het kan jy ‘n motor sommer op die oomblik koop en huis toe neem.
Ek het al klaar ‘n idee gekry hoe ek dinge sommer nog vinniger kan laat gebeur in my lewe. Ek het vir Jani ‘n verloofring ook gekoop. Vanaand is die aand wat ek haar vra om met my te trou. Sy sal nie nee sê nadat sy die ring gesien het nie. Ek het vir ons ‘n romantiese aand by ‘n duur en luukse restaurant gereël. Ek wou ‘n afgesonderde tafel gehad het maar toe sê die retaurant vir my dat hulle nie so iets op so kort ‘n kennisgewing kan reël nie. Ek word toe gedwing om met geld te praat en te oortuig. As Jani vanaand instem is alles perfek. Ek soek sommer vragte kinders ook. Die twee van ons kan sommer na die geleentheid daaraan begin werk. Sy kan dan ook meer tyd aan my spandeer en daai onnodige studies van haar los.
1 | 2 | 3 | 4 | 5 | 6 | 7 | 8 | 9 | Slot
skrywer: Charl Viljoen


Lewer kommentaar