Ag nee, die naweek het sy gat gesien en dis alweer terug werk toe! Hoekom kan ek nie ook ‘n nice job soos van my tjommies nie. Die meeste van hulle sit net agter ‘n rekenaar en click, click ‘n paar keer per dag. Ek moet myself afsloof vir peanuts en dan sê my baas nogal ek moet nie so kla nie, want die meeste mense verdien minder as ek. Hy probeer my net ‘n rat voor die oë draai. Ek weet mos dat die gemiddelde Suid-Afrikaner tussen 20 en 30 duisend verdien en ek moet maar tevrede wees met net ‘n skrale R15 000 per maand. Ek moet ‘n plan maak. My sosiale lewe word in die wee gelaat as gevolg van te min geld.
Dit is Maandag en ek is weer besig om die werkers aan die werk te sit. Alles loop darem goed af vandag. Niemand was dwarstrekkerig nie. In my kantoor dwaal my gedagtes weer rond. Jani, my meisie is veeleisend. Ek hoor mos hoe sy skimpe gooi vir ‘n seëlring wat sy by daai nuwe juwelier gesien het. As ek nou vir haar daardie ring moet koop kan Martin maar vergeet van ‘n jol die naweek. Daar sal nie geld wees nie. So gepraat van hom, ek dink nou dit is hoogtyd dat hy sy gat lig en ‘n werk gaan soek. Ek kan nie sy onkostes ook langer dra nie. Die probleem is dat ek nie weet hoe om vir almal te sê hulle moet ophou om op my te teer nie. Wat sal ek kan doen om almal gelukkig te hou?
Ek het vir so tydjie gesit en dink, toe kom ek op ‘n antwoord. Ek sal die Lotto of iets moet wen. Ek dink dat ek al my teertjommies sal nooi om die naweek by Carousel ‘n paar rand te gaan blaas. Miskien is een van ons dalk net gellukkig en wen groot geld.
Al die reëlings is getref en ons is sommer ‘n hele kaboedel wat lekker gaan geld blaas. So ‘n paar van my tjommies wat saamgaan het ook werk (die wat net click, click werk doen), so almal sal darem nie net op my teer nie. Ons is in my motor en Martin bestuur. Almal vra dieselfde vrae soos “Wat sal jy doen as jy die Jackpot wen?” Almal antwoord net lekker dinge soos reise, huise en motors. Niemand dink eers daaraan om my terug te betaal nie. Ek weet nie eens hoe hierdie dobbelstorie werk nie. Dit is so effens teen my Christelike beginsels ook, maar ek het geen keuse nie. Dit is die enigste manier hoe ek van al die teergatte ontslae kan raak.
By Carousel kan ek sommer sien dat hier geld vloei. Dit is net liggies waar jy kyk. Ek kan myself net indink hoe ek sal voel as my masjien moet bezirk skreeu en ligte gooi. Dit sal dan beteken dat ek die Jackpot huis toe vat. (Ag ok dan, ek en ‘n paar ander). Ek stap sommer na die eerste en beste masjien toe. Toe ek sit vra Martin my wat dink ek gaan ek nou doen. Ek kyk hom sleg uit. Hy moet nie vergeet nie, ek betaal vir hom. Hy sê dat ek eers chips moet koop. Ek dink toe dat hierdie mannetjie begin om windgat te raak. Ek sê ek nie gaan nie, omdat ek alreeds versadig is. Hy lag vir my. Hy sê dat ek my nou nie moet dom, dig en diffycult hou nie. Hy praat nie van chips om te eet nie, maar van chips om mee te dobbel. Ek voel skaam. Nou weet hy dat ek onkundig is oor sulke dinge. Ek haal ‘n honderd rand uit en vra dat hy sommer vir ons kan gaan chips kry. Weer eens lag hy my uit. Hy se dat as ons R100 tussen die twee van ons gaan speel, sal ons defnitief die geld verloor. Hy sê toe dat die masjiene glo geprogrameer is om eers ‘n wen uit te gooi as jy oor ‘n sekere bedrag daar spandeer het. Ek haal toe maar R200 uit. Hy hou aan kerm tot ek R1 000 uithaal. Net toe ek amper rustig word kom my ander werklose vriende ook by my aan. Hulle vra my of ek darem vir hulle ook n paar chips gaan koop. Ag nee, vanaand moet ek wen. Ek gee toe vir die hele spul van hulle ‘n R1 000.
Martin is darem al terug met ons chips. Nou kan ek hierdie masjien warm maak. Ek is so opgewonnde soos ‘n kind voor hy sy kersgeskenk oopmaak. Martin verduidelik my hoe alles werk. Vinnig, vinnig lyk ek soos ‘n professionele dobbelaar. Een, twee, drie en ‘n duisend rand se chips is klaar. Martin verseker my dat ek nie moet sleg voel nie en dat my luck nou sal intree. So karring ons klomp toe aan. Toe gebeur dit. My masjien skreeu bezirk en liggies flits. Foto`s word van my geneem. Sekeriteit kom nader. Ek word na ‘n sekere kamer toe vergesel. Het dit werklik gebeur?…… Ek is bang en angstig ter selfde tyd.
Dit is net mense waar ek kyk. Ek word toe vertel dat ek die boerpot losgeslaan het. ‘n Bedrag van sowat R4,8 mijoen. Ek word ook vertel dat ek die aand in een van hulle luukse kamers kan spandeer. Daar is egter nog baie reëlings en formaliteite wat getref moet word. Ek voel soos ‘n koning. Ek vra toe of ek net kan reëlings tref met my vriende. Hulle sê toe dat dit in die hak is. Ek beweeg toe weer na die casino toe. Toe ek daar aankom, begin van die mense gil en fluit. Ek moet sê dit is nogal stunning. Ek vertel toe aan Jani en my ander tjommies wat gebeur het. Martin lyk effens ontstel en sê dat ek eintlik op sy masjien gespeel het. Almal van hulle soek net geskenke. Jani meld dat sy eindlik daardie seëlring kan kry. Ek verduidelik toe aan hulle dat hulle maar kan voortgaan sonder my, en dat ek nie vanaand verder saam met hulle sal kan spandeer nie. Ek verstaan dit ook nie werklik nie, maar dit voel al klaar of die spul nie in my klas val nie.
1 | 2 | 3 | 4 | 5 | 6 | 7 | 8 | 9 | Slot
skrywer: Charl Viljoen


Lewer kommentaar