Britte se visumvereistes

Suid-Afrikaanse paspoorthouers sal vanaf 3 Maart 2009 visums benodig om in Brittanje toegelaat te word. Die Britse Hoëkommissariaat het gister aangekondig dat die visumvereistes sal geld omdat Brittanje sy grensbeheer opskerp en omdat Suid-Afrikaanse paspoorte volgens die Britse owerhede “een van die mees misbruikte paspoorte” ter wêreld is.

Alana Bailey, adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum, het daarop gewys dat die Britse owerhede reeds in 2006 kommer oor die gebrekkige beheer van Binnelandse Sake oor die uitreiking van Suid-Afrikaanse paspoorte uitgespreek het en van toe af weier om Suid-Afrikaners met tydelike paspoorte in die land toe te laat. Die stap is in 2007 deur nog Europese lande byvoorbeeld Duitsland, Nederland en België ingestel – lande wat groot handels- en kultuurvennote van Suid-Afrika is. In Maart 2007 het Brittanje aangekondig dat lande, insluitend Suid-Afrika, aan ʼn toets onderwerp sou word om vas te stel of Britse visumverpligtinge voortaan vir die lande se burgers sou geld. Die toets het gefokus op sake soos die uitreik van veilige paspoorte deur die betrokke lande en stappe wat dié lande intern neem om misdaad, onwettige immigrasie en terrorisme te bestry. Die instel van visumplig op Suid-Afrikaanse paspoorthouers bewys dat Suid-Afrika en meer spesifiek, die departement van Binnelandse Sake, die toets jammerlik gefaal het.

Die Britse regering noem dat die besluit aan hersiening onderhewig sal wees en dat die Britse owerhede kennis neem van Binnelandse Sake se “ambisieuse omkeerprogram” wat daarop gerig is om bogenoemde probleme aan te spreek.

Lewer kommentaar

Leave a Reply