Die koning van Afrika

Die verhaal van die Toyota Land Cruiser begin in 1950, net 14 jaar nadat Toyota sy eerste voertuig geproduseer het. In daardie stadium het die Japanse heropbou na die vernietiging van Tweede Wêreldoorlog begin momentum kry, en het die Japanse nywerheid homself begin hervestig. In die Japanse voertuigbedryf was daar ‘n strewe na groter diversiteit, en die voertuigmaatskappye het ‘n grootse veldtog van stapel gestuur om hul agterstand teenoor die wêreld se ander vervaardigers uit te wis namate Japan as ‘n nywerheidsreus herontwaak en nuwe markte toeganklik geword het.

Toyota se ingenieurs was bekend met die Amerikaanse Jeep, ‘n suiwer nutsvoertuig wat spesifiek vir militêre gebruik ontwikkel is. Hulle het gereken hulle kon op die Jeep verbeter en die gebruik van so ‘n voertuig tot die burgerlike mark uitbrei. Werk aan hierdie nuwegeslag-4×4-nutsvoertuig, wat meer krag sou hê en doeltreffender sou wees, het in Augustus 1950 begin. Die eerste prototipe-Land Cruiser, die Model BJ, is in net vyf maande ontwikkel en het in Januarie 1951 die lig gesien.

Hierdie eerste prototipe is aangedryf deur ‘n Toyota Model B-enjin van ses silinders en ‘n verplasing van 3,4 liter wat, vir daardie tyd, ‘n gesonde 85 perdekrag (64 kW) ontwikkel het. Die Model B-enjin was ontwerp vir gebruik in ‘n ligte vierton-vragmotor. Die onderstel was ook afkomstig van ‘n bestaande Toyota-produk, die SB-vragmotor. Hierdie kombinasie van ‘n kragtige en betroubare 4×4-kragoorbringstelsel en ‘n stewige, geharde onderstel het aan die Land Cruiser ‘n buitengewone veldvermoë gegee. Hierdie “baie krag/geharde onderstel”-resep het ‘n kenmerk van die Land Cruiser geword namate hy hom as ‘n skitterende 4×4-nutsvoertuig in markte oor die hele wêreld gevestig het.

Voorproduksieweergawes van die Land Cruiser was binne ses maande na die voltooiing van die eerste prototipe gereed – in Julie 1951 – en Toyota het hierdie eenhede aan die Japanse Nasionale Polisie en ander staatsdepartemente gedemonstreer. Die Toyota-ingenieurs, wat die grootste vertroue in die Land Cruiser se vermoë gehad het, het hul voertuig Japan se beroemde berg, Foedjijama, laat aandurf. Die doel was om die “sesde stasie” op die steil roete teen die vulkaniese berg uit te haal – iets wat geen ander voertuig nog kon regkry nie. Die Land Cruiser het die sesde stasie sonder probleme bereik en so sy naam in die annale van die Japanse motorbedryf gevestig.

Met sy reputasie gevestig in daardie beginjare, het Toyota se ingenieurs voortgegaan om die Land Cruiser verder te ontwikkel. Teen 1953 was die voertuig, nou bekend as die BJ-25, in reeksproduksie en 289 sagtedak-weergawes van die 4×4-nutsvoertuig is in daardie jaar afgelewer. Om hul produk van die Amerikaanse Jeep te onderskei, het Toyota se mense hul voertuig in 1954 die Land Cruiser gedoop.
‘n Jaar later is die Land Cruiser FJ-25 bekend gestel met Toyota se nuwe “F”-reeksenjin van ses silinders, wat ‘n maksimum-kraglewering van 105 perdekrag (ongeveer 79 kW) gehad het – ‘n kragtoename van 24 persent. Die FJ-25 het ook deure van metaal pleks van seil gehad, ‘n korter asafstand vir groter maneuvreerbaarheid en ‘n aangepaste veerstelsel wat die rygerief aansienlik verbeter het.

‘n Bakkieweergawe is in 1959 bekend gestel. Hierdie model, wat steeds as die FJ-25 bekend gestaan het, het met ‘n tweespoed-oordraratkas gespog, wat die bestuurder ‘n keuse tussen hoog- en laagstrekratverhoudings gegee het. Die geriefseienskappe van die voertuig is ook verbeter.

Die eerste Land Cruiser-eentonbakkie het in 1961 die lig gesien as die FJ-45 met ‘n langer asafstand. Ook in hierdie tyd is die FJ-40-hardedakmodel bekend gestel. Die eerste Land Cruiser-stasiewa, die FJ-55V, is in 1967 bekend gestel en het weldra in die VSA, Australië en ook Suid-Afrika ‘n legende geword. Die droom van Toyota se ingenieurs om ‘n reeks geharde, betroubare en duursame 4×4-voertuie te skep, is uiteindelik verwerklik.

‘n Proses van volgehoue evolusie word tot vandag toe voortgesit, en die Land Cruiser het oor die hele wêreld ‘n reputasie verwerf as ‘n voertuig wat die heel strafste terrein kan aanpak en dit kan onderkry. Voortgesette ontwikkeling en verbetering het gesorg vir toegevoegde waarde en ekstra gerief en verrigting namate nuwe tegnologieë ontwikkel en geïmplementeer is om hierdie Koning van 4×4’s verder te verbeter.

Die Land Cruiser het ‘n vername rol gespeel om die Toyota-handelsmerk in uitvoermarkte te vestig, waar die maatskappy gevestigde handelsmerke soos Jeep en Land Rover die stryd aangesê het. Die welslae van die Land Cruiser kan ten beste aan sy verkoopsgeskiedenis beoordeel word.

Die 50 000ste Land Cruiser is in 1965 afgelewer en die 100 000ste eenheid net drie jaar later. Teen 1973 het hierdie syfer al drievoudig toegeneem en was die Land Cruiser reeds gewild in 120 lande. In 1981 het Land Cruiser-verkope die eenmiljoen-kerf verbygesteek.

Deur die jare het Toyota op die reputasie van die Land Cruiser voortgebou en die reeks is verder uitgebrei in reaksie op die vraag na steeds groter diversiteit in die 4×4-mark, veral die ontploffing in die vraag na sportnutsvoertuie. Vandag is daar in Afrika, afgesien van die opvolgers van die oorspronklike Land Cruiser-nutsreeks, ook die Prado, die Land Cruiser Station Wagon – ‘n volle nutsvoertuig-tipe stasiewa waarmee die strafste terrein aangepak kan word – en die Land Cruiser 200, wat die maatstaf vir veldvermoë en gerief is in die Suid-Afrikaanse mark vir 4×4-sportnutsvoertuie.

Met die koms van die nuwe geslag van die Prado bied Toyota Suid-Afrika kopers ‘n keuse tussen sewe modelle uit drie afsonderlike Land Cruiser-reekse aan: twee eenton-bakkies (LC79), die LC76-stasiewa, wat op die bakkie gebaseer is, twee weergawes van die Prado en twee vlagskip-Land Cruiser 200-modelle, wat propvol gelaai is met Toyota se jongste tegnologie. Klante het ook ‘n keuse tussen petrol- en dieselkrag, nutsbakkie, nutsbusmotor, middelslag-sportnutsvoertuig en groot, luuksueuse sportnutsvoertuig.

Die geskiedenis van die Land Cruiser in Suid-Afrika gryp terug tot 1971 toe Toyota Suid-Afrika ‘n besending van 12 Land Cruiser FJ-45-bakkies ingevoer het. Tipies van daardie dae was hierdie voertuie beslis net nutsvoertuie. Daar was geen geriewe nie en hulle was maar taamlik Spartaans vergeleke met vandag se tegnologies gevorderde voertuie. ‘n Driespoedhandratkas was die standaard-ding in daardie eerste 4×4’s en kragstuur ‘n toekomsdroom. Die fokus was suiwer op duursaamheid en geharde verrigting van die pad af.

Intussen het dinge ietwat verander en daar is geen vergelyking tussen daardie eerste primitiewe ou FJ’s en vandag se gesofistikeerde Land Cruisers nie. Gevorderde elektronies beheerde liggewig-enjins met uitstaande doeltreffendheidseienskappe en verrigting is vandag die norm.

Die konsep van ‘n tweespoed-oordraratkas, wat in 1959 in die Land Cruiser FJ-25 in gebruik geneem is, het tot vandag toe oorleef, maar deesdae word dit gekoppel aan óf ‘n gevorderde vyfspoedhandratkas óf ‘n elektronies beheerde outomatiese vyfspoedratkas, soos in die nuwe Prado-modelle (petrol en diesel) gebruik word, óf die splinternuwe elektronies beheerde outomatiese sesspoedratkas waarmee die Land Cruiser 200-diesel toegerus is.

Gevorderde ewenaartegnologie het gelei tot die gebruik van heeltydse vierwielaandrywing vir die Prado en die Land Cruiser 200-busmotors. Ewenaarslotte gee meer vastrap in ekstra-strawwe omstandighede. Die intelligente aard van die gevorderde transmissie verbeter vermoë van die pad af tot ‘n vlak wat net enkele jare gelede nog as onmoontlik beskou is.

Die ontwikkeling ten opsigte van veer-, stuur- en remstelsels was net so verstommend. Die wurm-en-sektor-staafstelsel wat in die vroeë Land Cruisers gebruik is, het plek gemaak vir gevorderde, kraggesteunde tandrat-en-kleinrat-stelsels wat presiese bestuur en ‘n inspanningslose rit verseker. Grootliks verbeterde veerstelsels bied nie net ‘n geriefliker rit nie, maar ook ‘n lang slagafstand om te verseker dat al die wiele op die grond bly in strawwe toestande. Die Land Cruiser Prado- en die 200 Series-modelle het ook ABS-sluitweerremstelsels as standaard-toerusting vir doeltreffende remming.

Die gewildheid van die Land Cruiser wêreldwyd word ook in Suid-Afrika weerspieël. Verkope van die Land Cruiser 4×4-modelle in Suid-Afrika is fluks op pad na die 80 000 eenhede – en dit van ‘n nederige begin met verkope van net 15 eenhede in sy eerste jaar (1971) in Suid-Afrika.

Die nuwe Land Cruiser Prado sluit hom nou by die Land Cruiser-produkreeks aan en, soos die Land Cruiser 200, bied dit ‘n nuwe dimensie ten opsigte van verrigting, op en van die pad af, aan die Land Cruiser-reeks – ‘n voertuigreeks wat hom waarlik gevestig het as die Koning van Afrika.

Lewer kommentaar

Leave a Reply