Die sprokie duur voort

Pietermaritzburg – Die sprokie het vir die voormalige Suid-Afrikaanse kampioene, Evan Hutchison en Achim Bergmann in die Motorite Revo1 4×4 voortgeduur toe hulle die Spesiale Voertuigkategorie van die Nissan Sugarbelt 400 Saterdag gewen het.

Hutchison en Bergmann het hul derde oorwinning in drie renne in vanjaar se kampioenskap aangeteken. Dit was ook die derde agtereenvolgende sege vir die 4×4 Revo1 wat deur Bergmann ontwerp en gebou is – ‘n resultaat wat die mite dat nuwe renvoertuie aanvanklik altyd tandekryprobleme ondervind, die nek inslaan.

Met die huidige kampioene, Kallie en Quintin Sullwald, wat nóg ‘n teleurstellende ren ondervind het, is die familienaam in ere herstel toe Herman en Wichard Sullwald in ‘n Sullwald Racing Zarco, tweede geëindig het. Na ‘n bestendige ren het die Sullwalds net meer as vier minute agter Hutchison en Bergmann klaargemaak.

Die laaste podiumposisie het aan nóg ‘n pa- en seun-span, Nick en Ryan Harper in die Atlas Copco-BAT behoort. Hulle het ook ‘n soliede ren in drukkende omstandighede ondervind met ‘n roete wat sy tol op die spanne en voertuie geëis het.

“Dit was harde werk,” het ‘n gedehidreerde Hutchison gesê wat nie wel na die ren gevoel het nie. “Ons het geen probleme ondervind nie, maar dit was ‘n tipiese Sugarbelt waar jy elke sekonde moes konsentreer.”

Hutchison en Bergmann het agter die Century Racing CR1 4×4 van Mark Corbett en Rudi Balzer en die Century Racing BAT van Colin Matthews en Marc de Chalain weggespring. Die twee Century-voertuie het vroeg tydens die eerste van die twee figuur-agt-sirkelroetes waaruit die roete bestaan het, reeds meganiese probleme ontwikkel en Hutchison en Bergmann het die voortou oorgeneem wat hulle daarna nie een keer afgegee het nie.

Met die twee Century Racing-inskrywings uit die pad het die Sullwalds ook ‘n paar plekke opgeskuif. Hulle het in ‘n gerieflike tweede plek ingeskuif, maar het nooit naby genoeg aan Hutchison en Bergmann gekom om enige druk op hulle uit te oefen nie.

Die Harpers was ook ‘n voorbeeld van bestendigheid en het geleidelik deur die veld opbeweeg. Die vierde plek het aan die plaaslike span, Clint Gibson en Gary Campbell in die Gibson Racing BAT behoort wat net meer as ‘n minuut agter die Harpers was.

Die top vyf is deur die veterane, Nardus Alberts en Geoff Minnitt in die Wrapsa-BAT afgerond. ‘n Sterk vertoning het gesorg dat hulle net 26 sekondes stadiger as Gibson en Campbell was ná ‘n stryd wat regdeur die ren voortgeduur het.

‘n Dryfasprobleem het ‘n gunstelingspan, Shameer Variawa en Siegfried Rousseau in die Total Porter gekniehalter met Kallie en Quintin Sullwald wat ‘n string probleme oorkom het om sesde in Klas A te eindig. Dit was ook ‘n teleurstellende ren vir Naeem Mossajee en Mohamed Moultson in die Tyre Rack Jimco wat agter in die veld weggespring het en toe ‘n 30 minute-straftyd opgelê is wat hulle verder op die rangorde laat terugval het.

Probleme het Mike Whitehouse, wat 17 uit 18 renne as ‘n jaer klaargemaak het, en Mathew Carlson ook gekniehalter. Hul probleme het ‘n pap band ingesluit asook ‘n wiel wat verloor het terwyl hulle in ‘n moddergat vasgeval het; ‘n wiellaer gebreek het en ‘n konstantesnelheidkoppeling beskadig het.

Rob Spencer en Gareth Mumford in ‘n Zarco het met die Klas B-louere weggestap. Die KZN-paar het aan hul eerste nasionale ren van die seisoen deelgeneem en het voordeel uit hul plaaslike kennis getrek.

Die tweede plek het aan die Kaapse span, Derick du Toit en Ian Pienaar in die Orange Tree BAT behoort. Dit was ‘n goeie herstel vir ‘n paar wat agter weggespring nadat hulle probleme tydens die voorren, wat die wegspringposisies bepaal, opgedoen het.

Die Klas P-ere het aan die huidige kampioene, Johan en Etienne Bezuidenhout in die Adenco BAT behoort. ‘n Uitstekende vertoning het beteken dat die Kaapse broers uiteindelik sesde algeheel in die Spesiale Voertuigafdeling geëindig het.

Tweede was Johan van Staden en James Rossouw in nóg ‘n goeie vertoning in die KEC BAT wat 90 sekondes agter die Bezuidenhouts was. Maar hulle het lank voor die plaaslike span, Don Thompson en Don Blakey, klaargemaak met die KZN-span wie se Zarco regdeur die ren oorverhittingprobleme ondervind het..

Tussen die Klas P-spanne wat nie die paal kon haal nie, was die Oos-Kaap 400-wenners, Jan en Hendrik Kraaij in die Keymax BAT wat onherstelbare ratkasprobleme tydens die voorren opgedoen het. Veringstelselprobleme het Richard Schilling en Chris Davies in die Aceco ook gehinder.

Lewer kommentaar

Leave a Reply