Nissan maak skoonskip

Pietermaritzburg, Saterdag – Die Nissan Sugarbelt 400, die derde ronde van die Absa-Veldrenkampioenskap, het Saterdag in Nissan se guns getel.

Die veteraan voormalige Suid-Afrikaanse kampioen, Hannes Grobler en Juan Möhr, het die fabrieks-Donaldson-Nissan Navara-span gelei om skoonskip in die Produksievoertuigafdeling te maak. Dit is Grobler en Möhr se eerste oorwinning dié seisoen terwyl dit die Donaldson-Nissan-span se derde sege na drie renne vanjaar is.

Tweede was die Noorweër, Ivar Tollefsen en sy Britse navigator, Quin Evans, wat derde tydens vanjaar se Dakar-ren geëindig het. Duncan Vos en Ralph Pitchford het verseker dat die Nissan-beker oorloop deur die derde podiumposisie in te palm.

Dit was ‘n uiters professionele vertoning van Grobler/Möhr en ‘n tipiese brawe vertoning van Tollefsen en Evans. Maar die beste vertoning is deur die huidige SA-jaerskampioen, Vos, en Pitchford gelewer wat 55ste op die pad was in ‘n veld wat ook die Spesiale Voertuigkategorievoertuie ingesluit het.

“Ek kan amper nie die resultate glo nie,” het ‘n opgewonde Vos gesê wat sy derde agtereenvolgende oorwinning nagejaag het. “Ons het die hele ren voertuie verbygegaan en dit was senuweetergend in die stof op ‘n roete waarop jy nie kon bekostig om ‘n fout te maak nie.

“Sonder die samewerking van die voertuig voor jou, was dit gevaarlik om verby te gaan, maar ons het kop gehou.”

‘n Verheugde Grobler, wat vyfde weggespring het, het gesê dat die sege lank reeds op die kaarte was en die paar was nege minute voor Tollefsen en Evans. Grobler en Möhr het beheer van die verrigtinge geneem toe die fabrieks-Castrol-Toyota Hilux, in die hande van Anthony Taylor en Robin Houghton, alle aandrywing halfpad deur die laaste van die twee figuur-agt-sirkelroetes waaruit die roete bestaan het, verloor het.

“Ons het ‘n oorwinning benodig en deur vyfde weg te spring, het dit effens moeiliker gemaak,” het Grobler gesê. “Die voertuig was goed en dit was uiteindelik ‘n goeie resultaat vir die span.”

Die vierde plek het aan die tweede fabrieks-Castrol-Toyota Hilux van Hein Lategan, wat aan sy derde veldren deelgeneem het, en Chris Birkin behoort. Dié paar het geen kanse gevat nie en in die warm en stowwerige toestande net voor Chris Visser en Japie Badenhorst in die RFS Toyota Hilux, wat 80 sekondes agter was, klaargemaak.

Hoë-profiel slagoffers sluit beide die fabrieks-Ford Racing Ranger TDCI-inskrywings in. Die voormalige kampioene, Neil Woolridge en Kenny Skjöldhammer het ‘n stuurkolom gebreek terwyl Thomas Rundle en Hennie ter Stege nie die ren kon aanpak nie aangesien hulle enjinprobleme ontwikkel het toe hulle tydens Vrydag se voorren, wat die wegspringvolgorde bepaal het, van die pad gery het.

Terence Marsh en Pieter Groenewald in die Regent Racing-Nissan Navara het ‘n taai stryd gestry om uiteindelik negende algeheel in die premier-Klas SP te eindig. Hulle het agter in die veld begin en ‘n koppelaarprobleem het hulle regdeur die ren geteister.

Die Klas D-louere het aan die pa- en seun-kombinasie van Cliff en Louis Weichelt, wat hul derde oorwinning van die seisoen ingepalm het, in die N1 4×4-Toyota Hilux D4D behoort. Hulle het ‘n skoon lopie gehad en dié paar het nie eers uit die voertuig geklim nie.

Heinie Strumpher en Hendrik van der Linde in die Micaren Exel-Toyota Hilux was die enigste ander Klas D-span wat die ren kon voltooi. Hulle was meer as ‘n uur agter die Weichelts.

Die Klas E-sege het aan die beginners, Pikkie Labuschagne en Rikus Erasmus behoort wat hul debuutoorwinning in die nasionale kampioenskap in die 4×4 Megaworld-Toyota Hilux aangeteken het. Dar was meer as 20 minute tussen Labuscagne en Erasmus en Deon Venter en Ian Palmer in die tweede 4×4 Megaworld-Toyota Hilux.

Venter en Palmer het die eerste twee byeenkomste van die seisoen gewen en hul posisie bo-aan die Klas E-kampioenskap gekonsolideer. Die huidige kampioene, Jannie Visser en Joks le Roux in die RFS Toyota Hilux moes alles uithaal om derde in die klas te eindig.

Die rensteljaer, Leeroy Poulter, en Rob Howie het hard vir die vierde posisie in die Ferodo-Nissan Hardbody baklei. Tussen die gesneuweldes was die Ford Racing-spanne, Baphumze Rubuluza/Khuliele Vakalisa en Lance Woolridge en Kevin Christie en die Ruwacon Racing-paar van Louw de Bruin en Riaan Greyling in nóg ‘n Ford Ranger.

Lewer kommentaar

Leave a Reply