Die ware jakob

Subaru se Forester het ‘n splinternuwe ontwerprigting ingeslaan vir dié derdegenerasie-model wat in Julie 2008 in Suid-Afrika bekend gestel is: die ontwerp het op ‘n skoon vel papier begin en deel buiten sy onderstel-filosofie maar min met sy voorganger.

Die hoër, breër en langer Forester is bekend gestel om te voldoen aan verbruikers se behoeftes en te voorsien in die vraag na meer ruimte in ‘n voertuig wat eerder as kompakte sportnuts gestileer is. Al die kernafmetings is vergroot en die algehele hoogte is nou 1 700mm, die stamper-tot-stamper-lengte is nou 4 560 mm en die asafstand is met 90 mm gerek. Die Forester se afmetings van deur tot deur is nou 1 780 mm – ‘n stewige toename van 45 mm in die voertuig se algehele breedte.

Iets wat van kardinale belang is in ‘n segment waar baie van die mededingers net op die oog af werklik sportnutsvoertuie is, behou die Forester sy dubbeldoel-vermoë danksy die unieke kombinasie van sy voltydse simmetriese aandrywing deur al vier wiele (AWD) en horisontaal-teenoorstaande BoxerT-enjins, wat die beste in sy klas is. Al die modelle het ‘n groter grondvryhoogte en die weergawes met handratwisseling en gewone vergassing bied steeds ‘n unieke voordeel danksy die gebruik van ‘n laestrek-oordraratkas.

Kopers het danksy drie spesifikasies, twee enjins en drie ratkaste altesaam agt modelle om van te kies. Die gevolg is dat die Forester voldoen aan die behoeftes van ‘n uiteenlopende reeks kopers wat op soek is na ‘n vooraanstaande kruisvoertuig wat nie geraak word deur die middeweg-toegewings wat dikwels in hierdie segment aangetref word nie.

Die Forester-reeks begin by die Forester 2,5X 5-gang-handrat wat R269 000.00 kos, en die vlagskip- 2,5 XT Premium SportShiftT wat R387 000.00 kos.

Kopers kan kies uit die beproefde turbolose enkel-bonokas-kragbron wat in sy jongste gewaad tot 126 kW/229 Nm opgekikker is, of die bekroonde dubbel-bonokas-turbo-enjin met verrigtingsyfers van 169 kW en 320 Nm. Al twee dié enjins is soortgelyk aan die kragbronne wat in die vorige reeks ingespan is, maar is omvattend verbeter om rybaarheid en brandstofdoeltreffendheid te verbeter.

Dieselfde geld die handrat- en outomatiese transmissies met verbeterings wat selfs tot laewrywing-smeermiddels strek.

Dit word algemeen erken dat aandrywing deur al vier wiele die ideale manier is om die beste van ‘n enjin se beskikbare wringkrag gebruik te maak deur kleiner hoeveelhede daarvan na elke wiel te stuur, wat vir die beste klouvermoë sorg. Dit maak die voertuig baie meer beheerbaar, veral op onvoorspelbare oppervlakke waar ‘n klein toename in wringkrag die wiele kan laat tol en die bestuurder beheer kan laat verloor.

Al die Forester-modelle pronk nou ook met dinamiese voertuigbeheer (VDC), ‘n stabiliteitstelsel wat die rem- en kragwerking gebruik om die voertuig se gedrag in draaie te beheer. Die stelsel kan met die druk van ‘n knoppie op die voorpaneel afgeskakel word, hoewel dit ‘n mate van remhulp-klouvermoë behou – iets wat veral in veldrytoestande nuttig te pas kom. Nog iets wat nuut in die 2009-Forester is, is die toevoeging van noodremhulp (BA) wat die opgekikkerde skyfremstelsel wat reeds sluitwerende remwerking (ABS) en elektroniese remkragverdeling (EBD) insluit, aan te vul.

Die nuwe dubbelmikke van die agtervering speel ‘n belangrike rol in die allesomvattende vermoë van die Forester, en sorg vir beter rygemak, verbeterde insulering teen padgeraas, vergrote veringbeweging en uitgebreide binneruimte.

Die beknopte veringontwerp is ‘n deurslaggewende faktor in die Forester se breë en plat bagasieruim, wat met die agterste sitplekke platgevou tot 1 660 liter se bagasieruim beskikbaar kan stel. ‘n Volgrootte noodwiel word gebruik, terwyl ‘n magdom hakies waaraan inkopiesakke gehang of waaraan goed vasgemaak kan word, daarvoor sorg dat ‘n wye verskeidenheid bagasie of vrag veilig vervoer kan word. Subaru se handelaarskappe sal ‘n verskeidenheid bybehore aanhou wat vir spesifieke gebruike ontwerp is, soos om trapfietse te vervoer.

Maar hierdie praktiese sy van die Forester het nie daartoe gelei dat verfyning en gemak ingeboet word nie – dit is baie duidelik wanneer die bestuurder se deur die eerste keer langs jou toevou. Min geraas, vibrasie en grofheid is bewerkstellig deur klassieke materiale en smaakvolle hout- of metaalagtige beslag (afhangende van die model) te gebruik om ‘n vooraanstaande gevoel te skep – selfs in die intreevlak-model.

Al die modelle het elektries beheerde vensters en buite-truspieëls, lugversorging, bykomende invoersok, drie 12V-kragsokke, hoogte/reikafstand verstelbare stuurkolom, en stuurwiel-kontroles vir die spoedbeheer en klankstelsel.

Die XS- en XT-modelle het bykomende toerusting soos volle klimaatbeheer, ‘n 6-skyf-CD-wisselaar, en selfverstellende agtervering. Dié weergawes kan maklik uitgeken word aan hul allooisierwiele, voorste misligte, kleurgepaste buitetruspieelhulsels en die metaalafwerking van die deurhandvatsels.

Die topmodelle het leerbekleedsel regdeur die binneruim, ‘n sondak en elektriese verstelling vir die bestuurder se sitplek.

As ‘n kompakte sportnuts nog ooit daarop aanspraak kon maak om uiters doeltreffend aan meer as een ontwerpvereiste te voldoen, is dit die derdegenerasie Forester. Waar ander benaderings ‘n mate van toegewing vereis, lei Subaru se unieke ontwerpbenadering tot ‘n pakket wat werklik daarop aanspraak kan maak dat dit die beste van al twee bied.

Lewer kommentaar

Leave a Reply