Die Etruskers was ’n etniese groep wat ’n belangrike deel was van die Voor-Romeinse beskawing in antieke Italië en een van die voorste handelsmoondhede in die Mediterreense omgewing. Die Etruskers het gebiede in Noord- en Sentraal-Italië bewoon wat as Etrurië bekend staan. Die Etruskers is deur die Romeine Etrusci of Tusci genoem. Toscana is een die benamings wat hiervan afgelei is.
Die 7de en 6de eeu v.C. word tans as die bloeitydperk van die Etruskiese beskawing beskou. Tydens hierdie periode het die Etruskers Italië oorheers en die oorheersende seemag in die Tirrheense See geword. Die Etruskers was ervare seevaarders en handelaars, wat met alle lande van die Mediterreense gebied handel gedryf het. Nadat die Griekse en Karthagiese weerstand gebreek was, het die seehandel danksy die oorheersing van die Tirrheense See tot die belangrikste dryfkrag agter die ekonomiese opswaai ontwikkel. Civita di Bagnoregio, ’n dorp in die Italiaanse provinsie Viterbo, 120 km noord van Rome, is omstreeks 500 v.C. deur Etruskers as ’n ommuurde vestingstad op ’n plato gestig.
Die Etruskiese beskawing vorm saam met dié van Antieke Rome en Antieke Griekeland een van die belangrikste kulturele fondamente van die Westerse beskawing. Die werklike omvang van hul bydraes op die gebied van tegnologie, boukuns en geneeskunde is oor ’n lang tydperk onderskat. Sedert die begin van die 21ste eeu is groot vordering gemaak op die gebied van Etruskiese studies en navorsingstegnieke. Ons huidige kennis oor die Etruskers gaan terug op antieke Griekse en Romeinse skrywers en argeologiese opgrawings.
Die Etruskers het die Griekse alfabet omstreeks 700 v.C. aangepas. Die Romeine het later hul alfabet op dié van die Etruskers gegrond. Die Etruskiese alfabet en tekste is maklik leesbaar, maar die taal self is nouliks bekend. Die meeste Etruskiese tekste is kort inskrifte op grafstene, terwyl die werke van die Etruskiese literatuur verlore gegaan het. Sommige wetenskaplikes verwys na die verwantskap tussen Etruskies en die oorspronklike taal van die Noord-Egeïese eiland Lemnos. Die Liber linteus Zagrebiensis of Zagrebse linneboek bevat die langste bekende teks in Etruskies. Dit is gebruik om ’n mummie toe te draai en het so bewaar gebly. ’n Etruskiese skottel uit die 6de eeu v.C. met die Etruskiese alfabet, is gevind in die omgewing van die moderne Chiusi.
Ons kennis aangaande die oorsprong van die Etruskers is nog beperk. Sommige navorsers beweer dat antieke mites, waarvolgens die Etruskers nasate van setlaars uit Klein-Asië is, moontlik waar kan wees. Omstrede genetiese studies dui op Anatolië as ’n moontlike oorsprongsgebied. Die probleem met hierdie soort studies is egter dat bewoners van die huidige Toskane geen genetiese ooreenkomste met antieke Etruskers toon nie. Ander wetenskaplikes neem aan dat die Etruskiese beskawing inheems aan Italië is. Die Etruskiese beskawing dateer in elk geval uit ’n prehistoriese tydperk nog voor die stigting van die stad Rome en het in die tydperk met die Romeinse beskawing saamgesmelt. In die proses het die Etruskiese taal verlore gegaan het. ’n Groot aantal kunswerke en ander voorwerpe het die Romeinse verowering egter oorleef en die Etruskiese kultuur, godsdiens, argitektuur en regstelsel het ’n groot invloed op die Romeinse beskawing uitgeoefen.