Die Ballade van Frik & Dot, oftewel, “Goue Graal”

Tienvier korporaal van die Noord Transvaal

Frikkie was nie bang nie, hy’s ‘n man van staal.

Oppie agterseat is Dottie, sy’s ‘n minx en skraal.

Voorwaarts mars! Ons soek die “Goue Graal”.

Dottie het die tiete maar haar blik neutraal,

Frikkie het die wiele, hy onthou haar kaal,

Gistraand by die strip club om daai blink-blink paal,

toe sy ontboesem oor die bose en die “Goue Graal”.

Kom sit hier by die vuur, laat ons plan beraam

Oor ‘n visie vir die toekoms en die kind se naam.

Oppie paal kan ek nie bly nie, ek kry te fokken skaam

Frikkie vryf sy 9mill; sluk droog, beaam.

Daar’s ‘n (hun) afdraai oppie Highway

Die dice bestem dit so

Waar jy net met jouself stry

So het Frik en Dot geglo

Maar as jy vet gee en bo bly

Sal die Gode dit bepaal

Lat jy daai one-time-shot kry oppie

“Goue Graal”…

Gert Dipper is ‘n blok, hy’t ‘n badge, hy’s ‘n Poot.

Maak lankal stadig jag op elke skurk en idioot.

Vir Frik soek hy al jare, nog net gehoor van sy vennoot.

Die minx met die tiete en reputasie in die Moot.

Hy was toevallig op daai Highway toe hy hoor van die roof

En die Mustang daar verby seil teen ‘n spoed wat verdoof

18 kilometers met sweet op sy hoof trap Gert daai lepel plat

 in ’n chase in Bainskloof

Op sy troon sit die Duiwel en vingers tik. Hy wag.

Hy’t die rol van die dice voorspel, spoeg spat deur sy grynslag.

God self is bedruk bo die berge wink die lug,

hoe sal die jaagtog uitspeel as ’n Western, of as klug?

Skote klap die teer word kort

Dipper gallop daai Ford.

Real estate het duur geword vir Frikkie en sy Dot.

Die afdraai seil slap nader

Dipper rig sy lood, trompetgeskal en wolwehuil

Die roep van die ondergrond.

Dis Tjoekie toe skiem Dipper, waar sulke outlaws hoort.

Dottie gryp haar borste, bloed sypel uit haar mond.

Frikkie skree ten hemele, Roof is beslis ‘n ding!

Hoe durf jul oordeel fel oor die vrou wat ek bemin?

Frik en Dipper stry die stryd en die Mustang jaag steeds noord.

Frik grip die 9mill stywer en betwyfel God se woord.

Dottie blaas haar asem uit in ‘n verblindende wit lig

As dit is hoe die dice rol is daar fokken fout met moord.

Op daai afdraai gooi Frik handbriek en die Mustang swivel om,

en Dipper kom van vooraf kop-aan-kop sy oë verstom.

Frik se oë kyk reguit met Dipper in sy visier. Vandag skiet ek jou moer toe,

vandag vrek jy soos ‘n dier.

Die 9mill klop in slo-mo en die heelal stop verstard

Lood travel deur die ruimte tussen man en kar.

Hiënas giggel gekkig en die Duiwel prys met lof,

toe die lood Gert se kop vat en die ten hemele ontplof.

Dit was stil-stil op daai Highway, dit was asof alles wag,

en Frikkie in sy seat omdraai en weet dit is nou nag.

Sy Dottie lê daar leweloos, gistraand was sy nog kaal.

Nou sit hy met sy Dottie lyk en in die boot die “Goue Graal”.

Was die afdraai ooit die moeite werd, hoe kan ‘n mens bepaal?

Word jy mite of legende of kies jy “Goue Graal”?

God weet die Duiwel kroek, hy’s ‘n adder-idioot.

Sou hy net ‘n halwe kans kry dan slat hy daardie noot.

Frik weet hy moet nou koers kry, “Goue Graal” of helde dood,

Want Dottie’s aan die anderkant en God weet soort soek soort.

Hy sal outlaw bly vir altyd, dis bestem dis hoe dit hoort.

Hy lig die 9 mill mond toe en sluk sy eie lood.

Nou sometimes op daai Highway, daar by daai afdraai sign.

Kan mens goeters in die nag hoor soos ‘n Mustang of ‘n kraai.

Soms kan mens ‘n kind hoor in ‘n baie vreemde taal.

Hulle sê dis Dot en Frik se ongebore kind

met ‘n 9 mill op linker en op regs die vermiste Goue Graal.

Hy’s ‘n tydlose swerwer, tussen die hemel en die hel

Bebliksemd nes Frik, so word dit oorvertel.

Hy’t sy Ma se luscious tiete sal baie dit beaam en as jy fyn-fyn luister:

“Wit Willem is my naam!”

Die vrolike musikante: Kevin Gibson – dromme, Albert Frost – ghitaar, Schalk Joubert – baskitaar, Wynand Davel – viool, Landi Lu – Banjo & agtergrond stem, Lee Thompson – trompet, Neil Sandilands – sang

~ ’n eerbetoon aan Akkedis, The Lyzard Kings, Anton Goosen, David Kramer

Musiek & liriek – Neil Sandilands

Musiekregisseur – Marius Brouwer

Opgeneem by Bellville Studios – Theo Crous

Video – Rae-Dawn Sandilands

Hare & grimering – Vicky Sandilands

Mustang – Jaco Swanepoel

Video post-produksie – Neil Sandilands, Guy de Lancey Verfilm in Bainskloof, Wes-Kaap, Suid-Afrika, Junie 2020. Lockdown.

Lewer kommentaar

Leave a Reply