Toyota in die Verenigde Koninkryk in Derbyshire, waar die hibriede Auris, die Auris en Avensis vervaardig word vir die Britse en uitvoermarkte, het onlangs geskiedenis gemaak as die eerste Britse voertuigvervaardiger om grootskaalse sonkragpanele by die vervaardigingsaanleg te installeer. Dit volg op finale goedkeuring deur die plaaslike owerhede in Brittanje.
Die sonkragpaneel-stelsel is gesetel op 90 000 m2 se nywerheidsperseel binne die aanleg se gronde en bestaan uit sowat 17 000 sonpanele. Dit is so groot soos vier en ’n half sokkervelde. Die sonpanele sal krag verwerk vir gebruik deur die aanleg en sal die aanleg se koolstof-voetspoor dramaties verminder, onverbroke kragtoevoer verseker en die aanleg se elektrisiteitkoste dramaties sny.
Die nuwe sonpaneel-konstruksie beloof om sowat 2 000 ton se CO2 uitlaatgasse elke jaar te sny en sal sowat 4 600 000 kWh se krag verwerk wat voorheen deur die elektrisiteitsnetwerk voorsien is. Die panele sal uiteindelik genoeg krag genereer om 7 000 voertuie elke jaar te bou.
Die sonpanele sal meer as R120 miljoen kos en sal geïnstalleer en betaal word deur British Gas. Die installasie het reeds begin en sal vanaf Julie krag aan die aanleg begin lewer.
Die aanleg word reeds beskou as ’n omgewingsvoorloper, synde dit die Auris Hybrid vervaardig en dus reeds ’n bydrae maak tot die omgewingsdoelwitte van die VK. Dit is steeds die enigste volledige hibriede voertuig wat in Europa vervaardig word.
In 2002 was Toyota die eerste vervaardiger om sy vullis aan stortingsterreine te elimineer en in 2008 het hulle dit ’n stap verder geneem deur geen vullis vir verbranding te stuur nie.

dit is fantasties. hoekom kan Suid Afrika se regering dit nie sponser en begin installeer by groot fabrieke nie.