deur Wiener Wurst

Aangesien die bedrywighede van inisiasieskole tradisioneel ´n groot geheim was, weet min mense vandag wat daar aangaan. Dit wat ek hier met julle gaan deel is in klein brokkies oor baie jare aan my meegedeel en ek neem aan dat sommige hiervan oordrewe kan wees.

Hierdie inisiasieskole, sogenaamd, is geen skole nie, behalwe miskien deesdae op sommige plekke. Die kinders word op verskeie plekke in die land vergader in etniese verband. Elke etniese groep het hulle eie weergawe van uitvoering van die inisiasie. Dit wat ek hier vertel is nie noodwendig die gebruik van almal nie.

Die kinders word met volle wete en toestemming en soms in opdrag van hul ouers na die ‘skool’ gestuur. Daar is baie sterk gemeenskapsdruk op so ´n kind om te gaan. So ´n kind word geen keuse gelaat nie en as hy sou verbyglip sal sy vriende hom die volgende jaar onder dwang “skool toe” neem. Een faktor wat ´n groot invloed het op die rede vir die inisiasie-aksie, en die wyse waarop dit gedoen word, is bygeloof.

Dis bykans onmoontlik vir ´n kind om nooit die inisiasieproses te deurgaan nie. Indien wel, word hy soos ´n uitgeworpene in die samelewing behandel en het vroeër jare die gevaar geloop om sy lewe te verloor. ´n Meisie word nie toegelaat om met ´n persoon wat nie besny is nie, te trou nie.

Die kinders word kaal uitgetrek en kaalkop geskeer. Gedurende die aanvanklike seremonie word die besnydenis sonder enige verdowing gedoen. Die besnydenis, is aan my vertel, word stadig en seremonieel met ´n stomp mes wat van ´n ou saaglem gemaak is, gedoen omdat geglo word dat hoe meer pyn, hoe meer effek en seremoniële waarde aan die aksie. Die man wat dit aan my vertel het, het beweer dat sy phallus in die proses ook raakgesny is sodat hy “pês nie meer straight nie”. Daarna word growwe sout in die wond ingevryf as ontsmetting. Geen kla of huilery word verdra nie. Almal word gedwing om selfgebroude bier te drink en dagga te rook. Hierdie bier bevat bestanddele wat aan die bizarre grens. Soms word items soos ou flitsbatterye daarin gegooi omdat die geloof bestaan dat dit die bier sterker sou maak. Die afgesnyde voorvelle word gebraai en die kandidate gedwing om dit halfrou as medisyne te eet. Hierna volg die gevegte.

In die weke wat die inisiasie voorafgaan word massas uitsoek kweperlatte vergader. Hierdie latte word in soutwater gelê om dit meer soepel te maak sodat dit nie maklik breek nie. Die latte is twee tot drie meter lank en eindig in ´n dun punt soos die voorslag van ´n wa-sweep. Die soutwater dien ook om die snywonde wat dit oor die liggaam veroorsaak, meer te laat brand. Net voor die gevegte, is aan my vertel, word die latpunte in batterysuur gedoop om die brandeffek te verbeter.

Slaners word uit die samelewing gewerf vir ondersteuning by die gevegte. Meestal is dit volwassenes wat so min of meer drie of vier jaar tevore self die inisiasie deurloop het.

Al die kinders word verplig om met mekaar te veg, wat behels ´n oor en weer latslanery tussen twee partye, totdat een opgee. Die verloorder word deur die besope, bloedlustige omstanders met hulle latte aangemoedig om te bly veg.

Indien iemand sou weier om tot die geveg toe te tree, sak die omstanders op hom toe en slaan hom so erg dat weiering eintlik nie as opsie bestaan nie. Dan word hierdie kinders in hierdie toestand van ontbering en besering, sonder klere, soms net met ´n kombers, in die bittere koue, sonder kos losgelaat om hulle weg te vind, vir drie weke. Hulle beseerde liggame word by sommige groepe met klei besmeer as ontsmetting, verdowing teen die ontsteekte wonde of beskerming teen die Junie-koue.

Die beeld wat ek uit die vertellinge van die ‘instrukteurs’ of uitvoerders van die inisiasie gekry het, is nie vertroostend nie. Hulle blyk sadiste te wees wat meestal nie ander werk doen nie. Hulle word ryklik met beeste betaal deur die families van die ‘skoliere’. Hierdie is mense wat genot put uit die verniel en pyniging van jong kinders. ´n Bewys hiervan is dat beeste gedurende April/Mei/Junie skaars en onkoopbaar duur is. Bees-mouse maak spesiaal beeste bymekaar vir hierdie tyd van die jaar wanneer swart families bykans enigiets daarvoor sal betaal.

Bygeloof speel ´n groot rol. By sommige groepe is die eet van wors, vir verwagtende vroue en kinders wat gereed vir inisiasie is, verbode. Die dood van so ´n kind gedurende inisiasie word aan oortreding van sulke reëls toegeskryf. Deur die jare het ek hewige argumente met van my swart kennisse oor wat ek die onnodige sinnelose mishandeling van kinders genoem het, gehad. Ongelukkig is hulle net so oop vir oortuiging as ´n fanatiese godsdiensbehepte. Daar is geen salf aan te smeer nie. Mag hierdie skrywe ´n paar meer mense insig gee oor die barbaarse praktyke wat nog in die hede in die geheim bedryf word, sodat dit bekend kan word en daar iets aan gedoen kan word.

(oorspronklik verskyn in 2004)

Lewer kommentaar

Leave a Reply