Dit is maar taai as jy `n koue oggend by jou voertuig kom en hy sê net: “Hoi-ho, Hoi-ho.” En wee jou as sy hoi-ho stil word en al wat `n liggie is op die instrumentepaneel, dood is. Ek het my byna slap gelag toe ek my seun se motor ingeneem het sodat dit versien kon word. Daar was fout met die uitlaatstelsel. Die apparaat waarmee die ondersoek gedoen is, was `n meterlange stuk tuinslang waarmee die meganikus die eksakte plek waar die fout was kon aanwys met sy “stetteslang”.
`n Voertuig sê veel van sy eienaar. Ek glo soos die motor, so ook die eienaar. My goeie ou vriend De Wet le Grange het sulke mooi, duur voertuie, maar wat opval is hoe skoon hulle is. Gesels met hom in sy kantoor en kyk na sy lessenaar – niks uit sy plek nie en die oppervlak van die lessenaar blink soos `n spieël. Daarteenoor ry my dogter, Hendré met haar hele klerekas in haar motor rond. Hermien het nou begin kla dat sy al haar eie, geleende klere in Hendré se motor moet gaan soek. Studentevoertuie is gewoonlik ouer en beklee met karakter. Wapens, plakkers en opgeverfde blomme is redelik algemeen onder hulle.
Dan is daar Jan Beentjies se motor: bruin geroes, altyd op soek na `n onderdeel en ook “hulp” om die hulp in die hande te kry. As hy bestuur, vou hy sy bene op om in die kar te kom en verder hang hy deur die oop venster terwyl hy behaaglik aan `n sigaret suig – sonder dat die as afval. Glo my, daar is ‘n bottel Klippies êrens in die smelterkissie. Gepraat van dit wat die “innerlike mens” versterk. Oom Kobus, pas van Ramot, het sy motor tydig en ontydig gewas. Netjiese man dog almal. Totdat iemand gesien het hoe hy die ruitwasser se waterpypie uitgetrek het en van die “water” gedrink het. By nadere ondersoek was die inhoud van die ruitwasserwaterhouer – pure rietsnaps!
Ek het al gewonder hoekom die manne met hul viertrek-dubbelkajuitvoertuie kerk toe kom? Leef die uitdaging om per ossewa oor die Drakensberge te trek nog steeds in hul harte voort of om oor die sypaadjie te ry sodat hulle nader aan die kerk kan parkeer? So ‘n tikkie modder op die modderskerms van hul voertuie is heel gepas, `n aanduiding waar hulle Saterdag was of wou wees – die 4X4 hindernisbaan.
Soms sien ons voertuie wat aandui dat hul eienaars reeds lank gelede ryk was – die bakwerk van vervloë jare verraai die senior status. Ander weer het die nuutste modelle wat blink van die vertoonlokaal af kom. `n Voertuig is vir baie mense nie net ‘n medium om van punt A na punt B te reis nie, want hul keuse in voertuie vertel ook waarvoor hulle aspireer of watter status pos hulle beklee.
Ek het ook gehoor van voertuie wat hul eienaars in die steek gelaat het. Of was dit eintlik: eienaars wat hul voertuie in die steek gelaat het? Meneer Laubuschagne, `n bekende in die onderwyskringe, se vrou kon nooit verstaan waarom sy nie hul statusmotor kon aanskakel nie, tot iemand gesien het hoe sy, voordat sy die motor aanskakel, die smoorklep ten volle ooptrek om haar handsak daaraan op te hang en dan die kragtoevoer na die knormoer laat vloei! Geen wonder dat haar garage na `n raffinadery geruik het nie.
Hennie van Nieuwenhysen wat met `n pakstuk gesukkel het op sy ou plaasbakkie, was later so opgesukkel en vra toe die godsman om net buite die garage te gaan staan sodat “ek met hom kan praat in my eie taal”!
As `n mens met `n Discovery ry, is dit ook `n gebedsaak. Ons was in Lesotho en om een of ander rede wou Francois se Discovery nie vat nie! Morsdood! Ntate Ramapara het die saak so bekyk en besef dat daar net een oplossing vir die probleem is – GEBED. Hy het die “bullbar” vasgegryp en die Here om genade gesmeek en met die tweede probleerslag het die dooie voertuig lewe gekry en geloop soos nooit te vore nie.
Ek het self in Heidelberg met `n 1400 Nissanbakkie rondgery. Die boere met hul groot werkbakkies het soms op my ou, klein voertuigie neergesien. Soos die dag wat ek sommer op die ingewing van die oomblik by Piet Horse ingery het. Hy was in die duine en ek is onverrigter sake terug huis toe. Hy het opgemerk dat daar vreemde spore op sy werf was. Hy moes van sy werkmense verneem het dat ek was wat op sy plaas was. Die volgende dag het ek hom in die dorp gesien en gegroet met die woorde: “Ek sien jy het op my werf met jou “minorabladjies”(klein bandjies) rondgery! My “minorablades” het my oral gekry waar ek wou kom! Dan was daar ‘n dieselbakkie waarop jy jou horlosie kon stel. Oom Uysie Keyser het elke weeksdag sy plek ingeneem op die bank in die landboukoöperasie en om 12:00, nie ‘n minuut vroeër of later nie, oor die spoorlyn skoolbult uitgery na Ma Susie, twee eetlepels whiskey, sy middagete en sy middagslapie. So gee ons voertuie weg wie ons is en of wie ons wil wees. Soms bly ons mans klein seuntjies met ons duur speelgoed.
bydrae: Emile de Villiers
