Sedert die bekendstelling van die Land Cruiser-bakkie in 1971 in Suid-Afrika het hierdie Toyota die eerste keuse as ‘n ware, bekwame en rateltaaie veldry-nutsvoertuig geword.
In April 2007 het hierdie Toyota, die mees vertroude vierwielaangedrewe eenton-bakkie, ‘n varsnuwe voorkoms en bykomende eienskappe gekry as deel van die voortgesette evolusie van hierdie feitlik onvernietigbare voertuig. In die proses is voortgebou op die towerformule wat aan die Land Cruiser-bakkie sy wêreldwye reputasie gegee het as die eerste voertuigkeuse in die allerstrafste bedryfstoestande.
Stylveranderings is aan die neus en die kajuit aangebring, wat feitlik geheel en al herontwerp is. Vir die onderstel en die kragoorbringstelsel is die bewese Land Cruiser-formule behou, wat beteken dat hierdie praktiese voertuig selfs in die mees afgeleë gebiede gebruik kan word.
Die Land Cruiser-bakkie gee die indruk dat dit uit ‘n soliede stuk staal gebeitel is, maar die klipharde voorkoms word wel effens getemper deur die omvoukopligte met geïntegreerde flikkerligte.
Wat die Land Cruiser-bakkie betref, rus Toyota nie op sy louere nie. Die maatskappy is voortdurend besig om die voertuig te verbeter in ooreenstemming met sy Kaizen-filosofie (voortgesette verbetering), wat ‘n integrerende deel van die Toyota-kultuur uitmaak.

Die jongste spesifikasieveranderings, wat einde September aangekondig is, beteken meer gerief en veiligheid vir die insittendes, terwyl die petrolaangedrewe bakkie nou spog met ‘n nuwe volaluminium-V6-enjin.
Die LC79-bakkie is nou toegerus met ‘n lugsak vir die bestuurder sowel as die voorste passasier. Om voorsiening te maak vir die lugsaksensors, en om te voorkom dat hulle ontplooi in minder ernstige stampe wat dikwels in veldrytoestande ondervind word, is die voorbuffer 136 mm verder vorentoe geplaas.
Die instrumentasie is hersien en is nou esteties meer bevredigend en ook meer prakties. Die stuurkolom het kantel- en teleskopiese verstelling en die stuurwiel self is ‘n vierspeek-uretaanweergawe van dié wat in die Land Cruiser 200 gebruik word. Pleks van die vorige hangtipe dakbeslag is daar nou ‘n gevormde eenheid wat nie net meer kopruimte bied nie, maar ook skoner en deftiger lyk. En daar is ook ‘n blikkie/bottelhouer.

Geriefseienskappe sluit in ‘n syferhorlosie, lugreëling en sentrale sluiting. Die bakkie is bedraad vir ‘n klankstelsel en ‘n lugdraad is standaard. Onder die enjinkap is daar ook ‘n hulpkragpunt.
Die petrolaangedrewe LC79-bakkie word nou aangedryf deur ‘n nuwe volaluminium-V6-enjin van vier liter – die 1GR-FE-eenheid – wat so geslaag in die Hilux- en die Fortuner-modelle is. Hierdie enjin ontwikkel 170 kW – 5 persent meer krag as die vorige 4,5 liter-enjin – en 360 Nm se wringkrag. Afgesien van die ekstra krag is hierdie nuwegeslag-enjin meer doeltreffend en ook skoner, met aansienlik minder emissies.
Die bestaande dieselenjin is in die nuwe LC79-bakkie behou. Dit ontwikkel 96 kW en 285 Nm se wringkrag by 2 200 r/min.
Die petrol- sowel as die dieselmodel is toegerus met ‘n sikloniese lugfilter met voorfiltrering en albei modelle het 12-voltstelsels. Diensafstande vir albei modelle is 10 000 km, maar die olie van die dieselmodel moet ook elke 5 000 km vervang word.
‘n Groot voordeel vir langafstandryers is die 180 liter-tenk vir die petrol- sowel as die dieselmodel. Daar is twee brandstoftenks, elk met ‘n vermoë van 90 liter.
Die voorste en agterste ewenaars is toegerus met ewenaarslotte met elektroniese seleksie van die agterste of die voorste en agterste ewenaarslotte. Die veerstelsel is steeds die bewese kombinasie van starre asse voor en agter, met krulvere voor en bladvere agter. Die voorste krulvere sowel as die agterste bladvere voldoen aan Toyota se swaardiens-spesifikasie vir die Land Cruiser-bakkie.
Die voorvering het ‘n lang slag. Agter word lang bladvere gebruik. Hierdie twee stelsels saam bied uitstekende algehele ry-, hanterings- en stabiliteitseienskappe met skitterende wielartikulasie en soepele vering.
Dit gebeur gereeld dat die bestuurder vierwielaandrywing nodig het presies waar dit nie altyd moontlik is om uit die voertuig te klim om die wielnawe te sluit nie. Om die lewe te vergemaklik, het die Land Cruiser-bakkie outomatiese sluitnawe voor, wat beteken dat die bestuurder in die ry na vierwieldryf kan oorskakel. Dit is nie nodig dat hy moet stop, uitklim en die wielnawe sluit nie.
Discover more from Roekeloos.co.za
Subscribe to get the latest posts sent to your email.
