Drie kanniedood-Land Cruiser 70’s het die Voetspore-span, onder leiding van Johan Badenhorst, onlangs na ‘n tog van meer as 23 000 km langs die Weskus van Afrika af veilig terug in Suid-Afrika besorg.
Die reis van meer as drie maande, van Casablanca in Marokko tot in die Kaap, het die span deur Mauritanië, Senegal, Mali, Niger, Nigerië, Kameroen, Gaboen, die Kongo, die DRK, Angola en Namibië tot in Tafelbaai geneem.
Die Voetspore-span het in ‘n Land Cruiser 70-bakkie, asook twee Land Cruiser 70-stasiewaens gereis, en volgens Badenhorst, leier van die ekspedisie, was die Land Cruisers die ideale voertuie om die tog mee aan te pak.
Volgens hom was die Voetspore-reis – die sesde in die afgelope nege jaar – by verre die uitdagendste. Onderweg vanaf Marokko moes die span die sneeubedekte Atlasgeberge, deur die Sahara met temperature kort duskant 50°C, die reenseisoen in die trope, en talle Afrika grensposte tortseer in hul reis suidwaarts in ‘n poging om die 23 000 km in minder as 100 dae af te lê.
Tydens die reis is die voertuie aan bykans elke moontlike ekstreme toestand blootgestel, en dit was nie ‘n geval van paaie wat net plek-plek sleg was nie. Boonop die span moes gemiddeld sowat 230 km per dag vir 100 dae aaneen aflê.
Volgens Badenhorst het die konvooi sommige dae minder as 100 km vorder, wat die druk die volgende dag soveel groter gemaak het. “Dan mens die mees betroubare voertuig denkbaar gesoek, en dis presies wat die span in hulle drie Cruisers gekry het.”
Die Cruiser-dieselbakkie, bestuur deur Gary Swemmer, het die swaarste getrek en die meeste vrag gedra. So swaar gelaai het dit in die sagte sand van die Sahara soms bietjie gesukkel, “maar dit was ʼn klein opoffering vir sy waardevolle bedrae as betroubare werkesel,” het Badenhorst bygevoeg.
Johan en Francois Marais het die twee Cruiser 70-stasiewaens bestuur. Nie net was die twee stasiewaens werklik gerieflike rygoed om Afrika mee te deurkruis nie, hul korter asafstand het hulle ook in staat gestel om bykans enige terrein aan te durf.
Ewenaarslotte voor en agter, asook die Cruisers se betroubare 4.2 dieselenjins, het die span oortuig “dat daar sekerlik geen ander voertuig is wat vir die Cruiser kan kers vashou nie,” aldus Badenhorst.
‘n Hoogtepunt van die reis was ‘n besoek aan die wrak van die Pelican 16, ‘n Suid Afrikaanse Shackleton-vliegtuig wat in 1994 in Wes-Sahara neergestort het. Die gebied is vandag ‘n oorlogsone wat deur die Marokkaanse weermag en die Polisariese Front betwis.
‘n Besoek aan Gorée-eiland in Dakar, die Bandiagara-Plato, Timbuktu met sy biblioteek met Suid-Afrikaanse geld gebou, die Moslem-Noorde van Nigerië, die reënwoude van Kameroen, die kusgebied van die Namib in Angola, Damaraland in Namibië en Namakwaland in die Kaap was ook uitsonderlik.
Teenspoed was daar ook. In Agadez in Niger was die span vir vier dae in arres is en op die grens tussen die DRK en Angola moes hulle vier dae lank wag vir ‘n visum om die voormalige Portugese kolonie binne te gaan.
Die span het aanvanklik uit ses lede bestaan. Afgesien van Badenhorst was daar die kamerman Lourens Human, fotograaf Stefan Sonnekus, werktuigkundige Gary Swemmer, veldgids Nobert Coetzee en logistieke beampte Francois Marais. Johan se 13-jarige seun, Streicher, het in Kameroen by die span aangesluit.
Vanjaar se reis was die eerste keer dat die span as’t ware huistoe gery het. Volgens Badenhorst het dit ‘n groot rol in die sukses van vanjaar se ekspedisie gespeel, en die ontvangs wat die span by Sendelingsdrift gekry het, was iets besonders.
Sowat sestig mense het die span op die Suid-Afrikaanse / Namibiese grens ingewag en die laaste skof oor Hondeklipbaai en Lambertsbaai saam met die span gereis tot waar vanjaar se Voetspore-reis op Bloubergstrand geeindig het.
Voetspore, Van Casablanca tot die Kaap, is ‘n avontuur- en dokumentêre reeks wat later vanjaar op SABC vertoon sal word.








