Legacy bou voort op nalatenskap

Die vyfdegenerasie Subaru Legacy is nou in Suider-Afrika te koop, en bied mense wat ’n vooraanstaande middelgrootte sportsedan wil hê ’n indrukwekkende alternatief vir die alledaagse. En te oordeel na sy ontvangs deur die oorsese pers en die daaropvolgende verskaffingsagterstand in die VSA, het dié nuweling duidelik die kol getref.

Van die kern-ontwerpopdragte was meer ruimte, groter gemak, beter brandstofdoeltreffendheid en omvattende toerusting. Die nuweling voldoen aan alles, en pronk daarby met ’n string tegniese nuwighede, dog bied hy beter waarde as sy mededingers.

“Die Legacy bly ’n voorkeur-wapen in ons arsenaal en is op verskillende maniere die toonbeeld van dit waaroor die Subaru-handelsnaam gaan terwyl die eerste dekade van die 21e eeu besig is om af te sluit,” het Grant Bowring, handelsnaam- en bemarkingsbestuurder van Subaru Suider-Afrika, gesê. “Doeltreffendheid en nuwighede op die gebied van ingenieursontwikkeling bly die kern van ons filosofie, maar dit word al meer en meer deur ’n gevoel van weelde en styl gebalanseer wat dit duidelik maak dat die Legacy-kenteken ’n vooraanstaande produk op alle gebiede verteenwoordig, en soos dit in alle Subaru produkte die geval is, word die beste aktiewe en passiewe veiligheid te alle tye ingebou. Die Legacy voldoen aan die vereistes vir mense wat op soek is na ’n uiters ruim sedan met ’n sportiewe klap wat ’n mens met die kop en die hart kan koop.

Die Legacy-reeks skop af by ’n 2,0i-model met ’n 6-gang-handratkas wat R299 000 kos, terwyl die Lineartronic CVT met sy palwisseltransmissie R12 000 meer kos. Die vlagskip-2.5i Sport is net met die Lineartronic-transmissie te koop en kos R345 000

Ontwerp
Statigheid en houding is die afgelope 20 jaar al kernelemente van die Legacy, en die jongste weergawe bou op hierdie grondslag voort. Die ontwerpopdrag was om ’n motor te skep wat ’n sportiewe teenwoordigheid en tydlose skoonheid tesame met meer ruimte en groter gemak vir die al meer kieskeurige gesinskoper het, wat die ontwerpers genoop het om te begin deur al die toonaangewende afmetings te vergroot.

Die asafstand, algehele lengte en die nuwe motor se hoogte het met 80 mm toegeneem, terwyl die motor 50 mm breër is. Die voorste wielspoor is tot 50 mm breër, afhangende van die grootte bande wat gebruik word, met die gevolg dat die nuwe weergawe dieselfde klassieke verhouding as voorheen het.

Subaru Legacy
Subaru Legacy

Die vorm in sy geheel het ’n onmiskenbare magtigingshouding, en slaag daarin om terselfdertyd ’n kragtige voorkoms, dog ’n soepelheid (danksy die dramatiese skuins glaswerk voor en agter) wat werklik modern is, uit te straal. Die Legacy se teenwoordigheid op die pad word beklemtoon deur sy uitgeboude wielnisse en vloeiende projektor-agtige kopligte, met fin-agtige ruitveërs wat onder die enjinkaplyn verskuil is ten einde windgeraas te beperk en ’n gladde, naatlose voorkoms te behou. Die Legacy 2,5i Sport se houding word deur ’n meer beklemtoonde snoet aangevul met ’n lugskort wat verder vorentoe strek, en ’n gevormde voorste stamper wat die motor oombliklik van die res van die reeks onderskei. Die groter luginlaat onder die stamper het ’n maas-insetsel, wat ook om die misligte aangetref word. Die kopligte met swart binne-afwerking en 18-duim-allooisierwiele verseker dié 2.5i se kenmerkende ontwerp.

Die Legacy het ten spyte van sy groter romp verbeterde lugdinamiese eienskappe, ’n ligter onderstel, groter rompstewigheid en beter brandstofdoeltreffendheid. Versigtige ontleding het tot beter gewigsverdeling gelei, terwyl die nuwe enjinkap van staal in die plek van aluminium (ten gunste van voetganger-veiligheid) deur ander gewigbesparings en eenvoudiger samestelling in kerndele aangevul word.

’n Belangrike aspek van die nuwe ontwerp is ’n enjinwieg (pleks van ’n subraam) wat geraas verminder, veiligheid verhoog en ’n bestendige rit in die hand werk. Die enjin is met behulp van vier vloeistof gevulde rubbermonterings aan die wieg geheg, wat hierdie vibrasies ten opsigte van hul spesifieke ligging in verhouding tot die enjin se natuurlike harmonie en frekwensies uitdoof voordat dit die kajuit bereik. Dit dien ook as hegpunt vir die voorvering se beheerarms en die stuurrak, wat grofheid en onwelkome terugvoer verminder sonder om die hantering te benadeel.

Binneruim
Dit is weens die groter afmetings (sy asafstand is die langste in sy klas) nie juis ’n verrassing dat die kajuit heelwat groter as voorheen is nie, dog het versigtige beplanning dié voordeel vervolmaak en tot ’n werklike en waarneembare gevoel van ruimte gelei. Die afstand tussen die voorste en agterste heuppunte is byvoorbeeld 68 mm langer, terwyl die voorste sitplekke nou 30 mm verder uitmekaar is, wat ’n veel groter reghoek van bruikbare ruimte skep.

Die detail-verbeterings val net soos die toename in die belangrikste afmetings met die eerste oogopslag op, veral vir diegene in die agterste kompartement. Die agterkant is danksy sy breë sitplek gewis ruim genoeg vir drie groot volwassenes, of twee wanneer die armleuning met sy ingeboude bekerhouers gebruik word.

Die skouer- en kopruimte voor en agter is ’n groot verbetering teenoor die vorige model, en selfs met die bestuurder se sitplek so ver as moontlik agtertoe geskuif (die algehele beweging vorentoe en agtertoe is tot 260 mm verleng) en so laag as moontlik gestel is, is daar steeds genoeg been- en voetruimte vir die grootste onder die grotes – selfs met sy tweelingbroer agter die stuur. Al twee van hulle sal die groter deuropenings waardeer – veral dié van die agterdeure. Die bruikbare beenruimte is met 99 mm verleng danksy die nuwe ontwerp van die voorste sitplekke, wat nou nog minder plek in beslag neem. Die bagasieruim se volume is tot 476 liter vergroot (47 liter, of bykans 10%, meer) met die bykomende veelsydigheid van ’n luik waardeur lang voorwerpe gelaai kan word.

Die gevoel van ruimte word deur ’n voortdurende skuif na weelderiger materiale beklemtoon, met die algehele gevoel en gehalte hoog op die voorkeurlys. ’n Metaalagtige afwerking regdeur die voorpaneel en deure – of koolstofvesel in die geval van die Sport-modelle – gee die visuele pas aan, wat ook deur die deftige beheerarms aan die stuurkolom en die gehaltevoorkoms en -gevoel van al die beheer- en kontroleraakvlakke aangevul word. Die bagasiebakdeksel sowel as die enjinkap sit hierdie neiging voort met gasgevulde stutte wat glad en moeiteloos werk.

Van die maatreëls wat ingespan word om meganiese geraas te demp, sluit die A-, B- en C-pilare in wat met ’n spesiale skuim gevul is wat uitsit weens die hitte wanneer die romp ná die verfproses gebak word. ’n Digter insuleermateriaal word aan die onderkant van die enjinkap gebruik. Die transmissietonnel het bykomende klankdempmateriaal bygekry wat die klank van die palwisseltransmissie verdoof.

Die vier hoof-instrumente en instrumentehuisie lyk met die eerste oogopslag dieselfde, maar die temperatuur van die enjinverkoeling word nou deur waarskuwingsliggies aangedui, terwyl ’n tweede meter aandui hoe ekonomies die voertuig gery word.

Wanneer die naald in die groen is, is die voertuig suinig met die voggies, maar wanneer dit na die geel sone skuif, word brandstof onnodig vermors. Vloeikristal-wisselaanwysers in die middel van die instrumentehuisie help hiermee, terwyl die ritrekenaar die gemiddelde en oombliklike verbruik duidelik in ’n skerm aan die bokant van die voorpaneel vertoon.

Die gevoel van styl word in die stuurwiel met sy nuwe voorkoms weerspieël, wat in die geval van al die modelle satelliet-kontroles vir die klankstelsel en spoedbeheer het. Die stuurkolom se kantelhoek is nou 20 mm (dieselfde as die reikafstand), terwyl die gebruik van aluminiumkomponente die stuurwiel 10% ligter gemaak het.

Ratwisselpedale aan die stuurwiel is deel van die outomatiese modelle se standaardtoerusting, wat die Lineartronic CVT-palwisseltransmissie-weergawe insluit. Dié pedale, wat binne vingerpuntbereik is, beweeg saam met die stuur en kan dus makliker gebruik word. Die ‘handrat’-verstelling vir die ratkierie is nou verwyder, en dit kan nou net met die pedale gedoen word.

Die ruimte tussen die voorste sitplekke is deur die toevoeging van ’n elektriese parkeerrem vergroot en die tradisionele handrem is nou in die stoorkamer weggepak. Hierdie verandering maak plek vir ’n baie ruim dubbele middelkonsole met twee bekerhouers langs mekaar en die volmaakte elmboogsteun danksy die armleuning wat ook ’n ingeboude bergruimte het waarin tot 19 CD’s gebêre kan word. Dié bergruimte het ook ’n punt vir bykomende klanktoerusting sowel as ’n 12V-kragsok.

Die transmissietonnel het twee luguitlate vir die lugversorging na die agterkant, wat ook eenvoudiger drukknoppies het met ’n dubbelwerking-verstelling om die temperatuurverstellings aan die linker- en regterkant afsonderlik in te stel.

Al die Legacy-modelle het ’n Kenwood Sound Meister-radio en 6-skyf-CD-wisselaar as deel van hul standaard-toerusting, wat die klank deur ses luidsprekers terugspeel. Die nuut ontwerpte deur-luidsprekers sorg vir die volmaakte klank in die lae tot middelstrek-frekwensies. Die diafragma maak gebruik van ’n dikker keëlstruktuur om die resonansie beter te beheer, wat tot bestendiger klankfrekwensies met beperkte wisseling lei. Die hoëtoon-luidsprekers is van die bokant van die deur na weerskante van die voorpaneel verskuif. Hierdie verandering verskuif die klankverhoog boontoe, wat vir ’n meer realistiese, omliggende klank sorg.

Die radio maak gebruik van ’n lugdraad wat in die agtervenster ingebou is, sowel as ’n antenna-versterker wat vir bestendige ontvangs sorg, al is die sein swak. Die stelsel maak ook gebruik van Auto Gain Control (AGC), wat die ontvangs in gebiede met swak elektriese velde verhoog en bestendige ononderbroke ontvangs bied. Die volume word ook outomaties ingevolge die voertuig se spoed op die oop pad aangepas.

Onderstel
McPherson-stuttipe voorvering is aan die enjinwieg gekoppel, wat die stuurreaksie, hantering en algehele stewigheid verbeter. ’n Dikker balanseerstaaf verbeter die voertuig se rolweerstand, en verseker dat die skokbrekers ten gunste van groter rygemak in die mees doeltreffende segment van hul beweging ingespan word.

Die nuwe, beknopte dubbelmik-agtervering is aan ’n subraam gekoppel, wat geraas, vibrasie en grofheid verminder. Die voorste en agterste skokbrekers is gekalibreer om teen hoë snelhede ferm te wees, met ’n vermenging van beheer en gemak teen medium tot lae snelhede, terwyl die Bilstein-skokbrekers wat in die Legacy 2.5i Sport diens doen, verseker dat die motor sy naam gestand doen.

Remverrigting is aansienlik beter danksy die nuutontwerpte remversterker met ’n vinnigwerkende klep wat die remverrigting drasties met nagenoeg 20% verbeter. Die Legacy 2.5i Sport het lugverkoelde remskywe voor en agter, terwyl al die modelle munt slaan uit aluminium-remknypers wat ’n kilogram in elke hoek bespaar. Al die Legacy-modelle pronk ook met ’n elektriese parkeerrem wat deur ’n skakelaar aan die regterkant van die stuurkolom in werking gestel word. Dié rem word ontkoppel deur die skakelaar te trek, hoewel dit outomaties skiet sal gee as die bestuurder wegtrek en versnel, mits die sitplekgordel gebruik word en al die deure toe is.

Al die modelle het sluitwerende skyfremme vir al vier wiele, wat aan Subaru se elektroniese remkragverdeling (EBD) en remhulp (Brake Assist) gekoppel is. ’n Outomatiese stelsel span die remme in om die voertuig teen ’n helling steiler as vyf grade te hou sodat dit nie terugbeweeg wanneer die bestuurder wegtrek nie.

Transmissies
Die jongste Legacy doen baanbrekerswerk op die gebied van sy transmissie terwyl die nuweling ook voortbou op die inherente voordeel wat Subaru se simmetriese aandrywing deur al vier wiele bied.

Die groot nuus vir die 2010-Legacy is die Lineartronic-palwisseltransmissie (CVT), ’n beknopte ratkas wat vir skitterende rybaarheid en brandstofekonomie sorg terwyl dit vinnige en soepel ratwisselings teenoor enige gewone outomatiese ratkas bied. Hierdie ketting-tipepalwisseltransmissie verbeter wringkraglewering en sorg vir minder wrywing, wat beter ekonomie as bandaangedrewe palwisseltransmissiestelsels bied.

Die gevorderde ontwerp sorg dat die enjin in sy doeltreffendste verrigtingstrek bly, wat beteken hierdie vervolmaakte balans tussen die wringkrag en enjinspoed lewer gladde, lineêre versnelling sonder die dreungevoel en traagheid wat ander CVT-transmissies lui en besluitloos laat voel.

Legacy-modelle met die CVT-ratkas het dieselfde lynvormige versnellinggevoel as tradisionele outomatiese modelle, en verfynde instelling beteken die bestuurder kry ’n vinniger gevoel van topversnelling nadat die versnellerpedaal platgetrap is. Die voertuig spring ook rats weg, terwyl ratwisseling in handratwerking (waardeur die bestuurder ses voorafbepaalde ratverhoudings het om van te kies) bykans oombliklik is met vertragings van net sowat 100 millisekondes, wat die sportgevoel en vinnige reaksie wat ’n kenmerk van hierdie transmissie is, verhoog. Handratwerking word in werking gestel deur die ratkierie na die bestuurder se kant te druk. Die stuurwiel-pedale kan egter makliker vir tydelike handratwisseling gebruik word, al is die ratkierie nie in die handrat-posisie nie. As die spoed dieselfde bly, sal die stelsel outomaties na die rymodus oorskakel.

Die CVT-palwisseltransmissie het geen instandhouding nodig wat olievervanging behels nie, tensy die voertuig voortdurend in veeleisende toestande gery word. Die stelsel het aanpasbare beheer wat help om die volmaakte ratverhouding te kies om by enige bestuurstyl of padtoestande in te skakel.

’n Doeltreffende 6-gang-handratkas word die eerste keer saam met die 2,0-literdubbelbonokas- enjin en sy 2,5-liter-enkelbonokas-stalmaat ingespan. Die kern van hierdie kompakte en ligte ontwerp (die ratkas is skaars swaarder as die vorige 5-gangweergawe) is die gebruik van ’n kabelwisselmeganisme, wat die wisselgevoel baie verbeter en geraas aansienlik verminder. Hierdie ratkas verskil aansienlik van die weergawe in die Impreza STI, wat danksy sy swaardiens-gebruik sowat 30 kilogram swaarder is.

Enjins
Die enjinkeuse vir die nuwe Legacy is eenvoudig: die nuwelinge word deur ’n 2,0-literdubbelbonokas- en 2,5-liter-enkelbonokas-weergawe aangedryf. Al twee dié enjins is oor en oor in plaaslike toestande beproef, maar het vir die 2010-Legacy verskeie detailveranderinge ondergaan om hulle meer brandstofdoeltreffend te maak en rybaarheid te verbeter.

Die kleiner enjin lewer steeds 110 kW en 196 Nm, maar hierdie verrigtingsyfers word nou teen 6 000 r/min en 3 000 r/min onderskeidelik behaal. Die silinderkoppe (ontbrandingskamers en poorte) en die inlaatnokas-tydsberekening is ook hersien. Die 2,5-liter-Boxer-enjin ontwikkel steeds 123 kW @ 5 600 r/min en 229 Nm @ 4 000 r/min. Hoewel die wringkragpiek dieselfde as dié van die bestaande Forester is, word dié syfer teen 400 r/min minder behaal, wat die enjin ander eienskappe gee. Trouens, die enjin is ingestel om veral tussen 2 000 en 4 000 r/min op sy doeltreffendste te wees, wat dit nie net meer rybaar maak nie, maar ook brandstofverbruik en uitlate bevoordeel.

Die hersienings voldoen veral aan die behoeftes van die CVT-palwisseltransmissie en stel die Legacy 2.5 Lineartronic tot ’n brandstofverbruiksyfer van 8,4ℓ/100km in die gekombineerde siklus in staat, terwyl die enjin net 198 gram koolstofdioksied vrystel teenoor syfers van 9,3ℓ/100 km en 219 g/km vir die vorige geslag.

Ligter suiers, nuwe nokaslig- en tydverstellings en veranderde poorte is maar net van die interne veranderings wat aan die 2,5ℓ-enjin aangebring is.

Al twee enjins gebruik ligte inlaatspruitstukke van plastiek en enkel-knaldemperuitlate, wat vir groter doeltreffendheid en aansienlike gewigsbesparings sorg. Die enjinblok self is ook verander ten einde versoenbaarheid met die wiegraam en meegaande enjinmonterings in die hand te werk. En laastens is die elektriese stelsel verbeter om lading tot die minimum te beperk, en sodoende ook die uitwerking op enjindoeltreffendheid te verminder.

Eienaarskapservaring
Die nuwe Subaru Legacy verteenwoordig met sy mededingende prysstruktuur en omvattende toerusting skitterende waarde vir geld teenoor sy mededingers – waarvan die Honda Accord sy naaste teenstander is.

Om dit weer op te som – die standaard-gemak- en geriefstoerusting wat regdeur die hele Legacy-reeks aangetref word, sluit ’n ingeboude 6-skyf-CD-wisselaar in die voorpaneel vir die klankstelsel wat deur ses luidsprekers speel in, sowel as satellietkontroles op die leerbeklede stuurwiel vir die spoedbeheer en klankstelsel, elektriese beheer vir sy vensters met enkeldrukwerking aan die bestuurder se kant, elektriese verstelling vir die bestuurdersitplek (met elektriese laerugsteunverstelling), elektries beheerde buite-truspieëls wat kan terugvou, afstand beheerde sentrale sluiting met afsonderlike oopmaker vir die bagasiebakdeksel aan die aansittersleutel, leerbekleedsel, elektries beheerde sondak, elektriese parkeerrem, klimaatbeheer met afsonderlike verstellings links en regs en luguitlate vir die agterruim, en ’n ritrekenaar.

Die lys veiligheidstoerusting is ewe indrukwekkend met sewe lugsakke (wat knielugsakke vir die bestuurder insluit – die eerste keer vir Subaru) sowel as styftrekkers en slagbeperkers vir die voorste sitplekgordels, ankerpunte vir kindersitplekke, sluitwerende remme (ABS) met elektroniese remkragverdeling (EBD) en remhulp (BAS), dinamiese voertuigbeheer (VDC), misligte voor en hellingwegtrekhulp.

Hierdie en ander kenmerke het die Legacy daartoe in staat gestel om ’n vyfster-gradering vir die veiligheid van die insittendes by die Australiaanse nuwemotor-botstoetsprogram (ANCAP), ’n vyfster-gradering algeheel in die Europese nuwemotor-botstoetsprogram (EnCap) en ’n topveiligheidsgradering by die Amerikaanse versekeringstigting vir snelwegveiligheid (IIHS) los te slaan. Dit is die veiligste motor wat Subaru nog gebou het.

As ’n mens die laer brandstofverbruik en ’n standaard-instandhoudingsplan van 3 jaar of 63 000 km wat tot vyf jaar of 200 000 km verleng kan word (die Legacy se belangrikste mededingers het versieningsplanne), sowel as die dinamiese voordele van die simmetriese aandrywing deur al vier wiele in ag neem, is die 2010-Legacy outomaties bo-aan die lys van die mees gesogte volgrootte-sportsedans op die mark.

Die nuwegenerasie-Legacy-modelreeks behels:
Legacy 2.0i Premium – met die keuse van ’n 6-gang-handratkas of die Lineartronic CVT-palwisseltransmissie, leerbekleedsel en elektries verstelbare bestuurdersitplek met geheuwerking, elektriese sondak en 16-duimallooisierwiele
Legacy 2.5i Sport Premium CVT – met die toevoeging van elektriese werking vir al twee die voorste sitplekke, koolstofvesel-insetsels in die voorpaneel, aluminium pedale, sportiewe ontwerp vir die voorste stamper en sierrooster; Bilstein-vering, 18-duim-allooisierwiele en Xenon-ligte met ingeboude wassers.

Pryse
Legacy 2.0i-handrat – R 299 000
Legacy 2.0i CVT – R 311 000
Legacy 2.5i Sport Premium – R 345 000

Lewer kommentaar

Leave a Reply