deur Hannes Botha
Sowat 350 km noord van Gauteng is daar ´n reeks mistige, groen berge, met hier en daar reuse klowe , gevul met koel waterstrome, wat deur antieke reënwoude kronkel. Dis die wêreld van Modjadji, die reënkoningin en ou hoofman Magoeba, wat sy kop verloor het in die diep klowe wat na hom vernoem is. Ou oom Frommers sê altyd dat die beste tyd om ´n plek te besoek, altyd net na ´n natuurramp is. Sodoende is dit goedkoper vir jou as toeris, en terselfdertyd help jy ook die gemeenskap met jou geldelike investering in hul toerismebedryf. Met dit in ag genome, is dit sekerlik nou ´n goeie tyd om die noord-ooste van Limpopo te besoek, en veral die Magoebaskloof area. Verlede jaar om en by hierdie tyd het hulle vreeslike oorstromings daar gehad (onthou, toe Mosambiek ook weggespoel het?). Intussen, alhoewel SA se liewe regering duisende rande aan hulp in plekke soos Mosambiek gelewer het, is plekke soos die Noordelike Provinsie afgeskeep. Talle paaie en brûe in die gebied is nou nog nie herstel nie – in Magoebaskloof moes die plaaslike gemeenskap maar naderhand self inspring om hul paaie begaanbaar te maak. Ongelukkig is die hoofpad deur die kloof so beskadig, dat daar nou nog nie toerbusse kan deurry nie, met ernstige nadelige gevolge vir die toerismebedryf van hierdie mooi wêreld. Een van die beste hotelle van die area, Glenshiel, moes sy deure toemaak, en baie van die ander toerisme bedrywe trek maar swaar. So, doen die maatskaplike ding, en gaan besoek die enigste oorblywende oerwoud in Suid-Afrika.

Die “hoofstad” van die Magoebaskloof omgewing is Haenertsburg. Dis ´n klein, oulike bergdorpie aan die voetheuwels van die majestueuse Wolkberg. As jy ooit daar ´n draai maak, gaan kyk na die begraafplaas – sekerlik die begraafplaas met die mooiste uitsig ter wêreld.

Die hele atmosfeer is Engeland, kompleet met ou Lutheraanse en Katolieke kerkies, ‘ n groen dorpsplein vol bome, en die koel berglug wat mens laat voel dat jy nie in Afrika is nie. Baie van die inwoners self, of hul ouers, kom oorspronklik uit Brittanje. Daar is ook ´n Britse-styl privaatskool aan die oewers van die Ebenezer-dam, ´n paar kilometer van die dorpie af. Bevoorregte kinders kan daar aan aktiwiteite soos hengel, kanovaart en skerm deelneem.
Die area se hoof uitvoerprodukte is bosbou en toerisme, alhoewel die bosbou bedryf besig is om te krimp. Haenertsburg het jaarliks ´n kersiebloeisel- of lentefees, gewoonlik gedurende September of Oktober, wanneer daar baie aktiwiteite is. Dis regtig die moeite werd om dan te gaan as gevolg van die skouspelagtige blomlandskappe wat orals aangetref word. Verskeie Japanese onderneem jaarliks ´n pelgrimstog om na die kersiebloeisels by Cheerio te kom kyk. Daar groei ook duisende Azaleas, krismisrose en wilde blomme langs die paaie. Einde April is daar ook ´n herfsfees (Haenertsburg Autumn Music, Art and Cultural Festival). Dan is daar filharmoniese orkesuitvoerings wat in die buitelug plaasvind, asook kunsuitstallings, alles teen die agtergrond van die dorpie se talle eike- en esdoornbome, uitgedos in hul beste herfskleure.
Net buite Haenertsburg kan mens kies tussen twee paaie na Tzaneen: die R71, waarmee mens deur die Magoebaskloof ry, of die R528, waarmee mens deur George’s Valley ry. My voorstel sou wees om eers af te ry deur Magoebaskloof, en dan terug op met die George’s Valley-pad. Meeste van die toerisme aktiwiteite is op die Magoebaskloof pad, en dit sal jou maklik ´n hele dag besig hou, net om van Haenertsburg af tot onder by Tzaneen te ry. Die R528, oftewel die George’s Valley-pad, is self nie te versmaai nie. Daar is wel minder toerismeontwikkeling, maar dit kronkel deur die Letaba-riviervallei, aan die voetheuwels van die Wolkberg, en gee mens lieflike uitsigte oor die Ebenzer-dam.
As jy vreesloos is (veral as dit reën) en jy het ´n 4X4, sal jy die baie grondpaaie van die omgewing geniet. Soos dit maar merendeels in SA gaan, sal jy die mooiste woude en uitsigte op die grondpaadjies kry. As dit nie reën nie, kan mens dit maar op die paadjies met ´n motor waag…maar glo my, bly daarvan af weg as dit reën. Geen gevoel vir toerisme nie, hier an die gatkant van SA. If you build it, they will come, mense … dit beteken teerpaaie vir gekke soos ek wat nie ´n 4X4 het nie … of dalk moet julle die reënkoningin Modjadji iewers anders heen stuur, dat dit nie so baie reën hier nie, en die paaie meer begaan baar is.

Wat om te doen in en rondom Magoebaskloof
As gevolg van die veranderende toerisme bedryf, en ook die verval van die paaie, begin die Magoebaskloof omgewing ontluik in ´n Avontuur-vakansie bestemming. Dis eintlik ´n heel natuurlike verloop van sake, want die bergagtige natuurskoon leen homself tot voetslaan, bergklim, bergfiets, kloofing, sweeftuie en ander wilde dinge.

Voetslaanpaaie
Een van die grotes van SA voetslaan is hier – die Magoebaskloof Voetslaanpad. Dis ´n netwerk van paaie, en jy kan jou eie roete saamstel, enigiets van twee tot vyf dae. Al die roetes kronkel deur van die grootste inheemse bergwoud in Suid-Afrika, met oornaghutte wat uitkyk oor watervalle en woude, asook die Dap Naude-dam. Kontak Safcol Ekotoerisme, Posbus 428, Pretoria 0001. Tel: (012) 481 3615.
Net buite Haenertsburg begin die magtige Wolkberg Wildernis Area, duisende hektare van ongerepte berge, bosse en riviere. Daar is geen paaie nie, en jy het . n goeie kaart, kompas (of GPS) en tente nodig om hier in te vaar.
Die Lesodi Trail – 1 of 2 uur sirkelroete. ´n Baie mooi staproete, wat deur inheemse woud kronkel, en verskeie asembenemende uitsigte oor Magoebaskloof bied. Die roete begin net anderkant die Magoebaskloof Hotel, en ´n gratis kaart is by die Hotel of by Pot ´n Plow beskikbaar.
Probeer gerus ook die 1 uur staproete net onderkant die Magoebaskloof Hotel.
Hengel
Staan opsy, Dullstroom! Hier is een van die bes bewaarde geheime in SA se visvang-gemeenskap: die Haenertsburg omgewing wemel van helder bergstrome met volop forel. Gaan loer in by The Elms, in Haenertsburg se hoofstraat vir meer inligting, asook hengeltoerusting.
Jy kan ´n boot huur en gaan rondjaag op die Ebenezer-dam, wat soos ´n wafferse Skotse loch tussen die berge deur kronkel, net anderkant Haenertsburg. Daar is ook ´n seiljagklub.
Sapekoe Tee-landgoed is een van die grootste tee-produsente in Afrika, en hulle bied toere en tee-proe sessies daagliks daar aan. Daar is ook ´n teetuin (natuurlik) en restaurant genaamd Pekoe View. Jy kan ook van hul teeprodukte daar koop. Die afdraai na Pekoe View is op die R71, onderkant Magoebaskloof in Tzaneen se rigting.
Gaan kyk na die kersietuine van Cheerio Gardens , of gaan geniet net ‘n koppie tee met die tuine as agtergrond.
Daar is omtrent elke naweek ´n uitvoering van een of ander aard by The Barnyard Lakeside Theatre. Dit is, soos die naam sê, ´n teater in ´n groot houtskuur, reg langs ´n meer. Jy kan jou piekniekmandjie saamvat.
Pak ´n piekniekmandjie en gaan hou piekniek by die Haenertsburg begraafplaas. Ja regtig. Gaan kyk maar, dis hemels daarbo.
Aan die onderkant van Magoebaskloof is die mooi en gewilde Debegeni-waterval – daar is ´n baie goeie piekniek en braaiplek met ablusiegeriewe. Wees net gewaarsku – dit kan baie besig raak oor vakansies en naweke, wanneer baie van Tzaneen se inwoners hier kom braai. Soms hang daar ook baie ongeskikte minibus-taxi’s rond, wat bietjie raserige met hul radios kan raak.
Bietjie verder weg is die Modjadji Natuurreservaat. Volg die R71 na Tzaneen, draai links op die Duiwelskloof-pad (die R36) , en na ´n paar kilometer is daar ‘n afdraai na regs. Die paadjie teen die Modjadji-berg op is maar klipperig en stamperig, maar dis die moeite werd om na die duisende jare oue broodbome te gaan kyk, wat teen die oostekant van die berg rondhang. Daar is ook ´n piekniek plek en curio-winkel, met ´n klein museumpie wat die geskiedenis van die area, asook die reënkoningin se tradisies beskryf.
Waar om te bly in Magoebaskloof
Goedkoop:
The Chalets. Switserse styl selfhelp houthutte, net buite Haenertsburg. Tel: (015) 276 4764.
Pot ’n Plow. Die oulike padstal-cum-restaurant het ook B&B akkommodasie beskikbaar. Skakel (015) 276 2140.
Nie so duur nie:
Magoebaskloof Hotel. ´n Ou staatmaker, met ´n koloniale gevoel, met sekerlik die beste uitsig in die Suid-Afrikaanse binneland. ´n Trop Samango ape deel die tuine met jou, terwyl jy jou drankie teug en oor die deinserige woude van die koof afkyk. Die ontbyt is iets besonders, en Horst sorg dat hul die sterkste koffie suid van België bedien. Aandetes is ook nie te versmaai nie, met beide ´n A-la-carte en Table-du hot spyskaart. Hulle het baiekeer spesiale aanbiedinge, so kontak hulle maar voor jy gaan. Tel (015) 276 4776 of tolvry by 0800 113 459 . http://www.magoebaskloof.co.za
Duur:
The Coach House. Luukse en beroemde hotel, geleë op die ou koetsroete tussen Pietersburg en die Laeveld. Baie goeie uitsig oor die Letbariviervallei, asook die Noordelike Drakensberge in die vêrte. Die kookkuns van die chef is wêreldberoemd. As jy geld het – nou ook ´n Spa.
Vir meer inligting oor verblyf in die area, kontak Bjatladi Toerisme, by bta@mweb.co.za of Tel:(015) 276 4872.
Waar om iets te koop in en om Magoebaskloof
In Haenertsburg:
Shana’s Shop, in die Picasso’s gebou.
Picasso’s is ook ´n internet-kafee.
Tank Trap Trading Store. Outydse algemene handelaar.
The Elms. Snuisterye, hengeltoerusting en ´n plaasmark elke Vrydag- en Saterdagoggend.
In die kloof:
The Weelbarrow plaasstalletjie
Pot ´n Plow padstalletjie
The Waterfront Hideaway – Pottebakker studio met ´n teetuin. Op die R71, min of meer 6km vanaf Haenertsburg op pad na Tzaneen. Oop vanaf 10 vm. tot 4.30 nm. Tel (015) 276 4739
Wegraakbosch organiese kaasmakers. Vat die Cheerio afdraai, Wegraakbosch is net langs Cheerio kersieplaas. Hulle doen kaasmaak-toere, en jy kan ook van hulle uitstekende kase koop.
Waar om te eet
Magoebaskloof Hotel – Middagetes by The Red Postbox pub, ontbyt en aandetes in die Hotel se eetkamer. Probeer vars forel, of die unieke en beroemde Magoebaskloof Potjie. Tel: (015) 276 4776. http://www.magoebaskloof.co.za
Picasso’s. Hoogs aan te beveel. ´n Switserse styl houtpaal chalet, wydsbeen gebou oor die Kantoorspruit. Goeie pannekoeke, ontbyt en koffie. Oop vanaf 8 uur tot 5 uur bedags, en naweke oop vir aandete. Hulle is langs die R71, skuins oorkant die ingang na Haenertsburg. Tel (015) 276 4724
Sir Baron’s Tavern. ´n Joviale pub waar jy die locals kan ontmoet, in Haenertsburg se hoofstraat. ´n Plek waar die houtkappers van die omgewing van hul frustrasies kom ontslae raak.
Atholl Arms Restaurant. Gesinsrestaurant in Haenertsburg se hoofstraat, net langs The Elms.
Pot ´n Plow. Padstal/restaurant. Bedien middag- en aandete. Baie goeie hoenderpastei.
Pekoe View , geleë op die Sapekoe landgoed. Teetuin met ligte middagetes, en ´n ongelooflike uitsig.
Daar is ook ´n teetuin by the Weelbarrow. die padstalletjie aan die onderpunt van Magoebaskloof, net duskant Tzaneen.
Skakels

(oorspronklik verskyn in 2001)
Dankie vir die verwyssing. Ons het saam met vriende ‘n naweek in die omgewing gaan spandeer agv hierdie artikel. Dit is werklik ‘n aangename plek met baie mooi landskap, mens neem wel waar dat Covid nagevolge op die omgewing en toerisme het. Tesame met dit was daar ook ‘n hele paar krag onderbrekings.
Maar die mense gaan aan, is vriendelik en het die ondersteuning nodig.