Tata Motors het hul langverwagte nuweling uiteindelik geloods. Die 5-deur Tata Nano is die wêreld se goedkoopste motor en kos in die omgewing van R20 000. Die motor het ‘n topsnelheid van 90 km/h en jy kan verwag om 23,6 kilometer op ‘n liter te kry.
Volgens Tata is daar ‘n reuse aanvraag vir die motor en sal die eerste 100 000 kopers met ‘n lootjiestelsel gekies word uit die duisende verwagte besprekings.
Dit is nog onduidelik of daar planne is om die motor na Suid-Afrika te bring. Die voertuig sal ook nie binnekort in die VSA te koop wees nie, want dit voldoen nie aan Amerikaanse emissie- en veiligheidstandaarde nie. Omgewingsgroepe bevraagteken ook die wenslikheid van die goedkoop motor, weens die uitwerking op besoedelingsvlakke wanneer duisende nuwe motortjies skielik die strate van Indië tref.

